'n Reënbui het gister deur die streek getrek en sowat ses plase met reën geseën. 

Op Debruynsrus het dit sowat 10 mm gereën en in ’n foto wat op Facebook die ronde doen, kan gesien word hoe ’n jong man en ’n meisie in die reënwater op dié plaas dans. 

Op van die ander plase het dit tussen 3 en 4 mm gereën.  

“Ons is dankbaar vir die reën wat geval het, maar dit is egter nie genoeg nie,” sê Deon Oberholzer, voorsitter van die boerevereniging op Vanwyksvlei. 

“Die bietjie reën help nie. Dit is net jaloersbuie. Die vog verdwyn te vinnig uit die aarde. Die verdriet in die veld is nog net so groot.” Hy sê dit wil nie voorkom of daar verder reën vir die week gaan val nie. 

“Daar is vandag nie ’n wolkie in die lug nie, maar ons bly aanhou hoop.” 

Die nood in Vanwyksvlei is tans so groot dat sowat 12 boere in die streek die afgelope jaar hul vee moes verkoop en ophou boer weens die swaar las van die droogte. 

“Dit is die ergste droogte in dekades,” sê Deon. 

“Dit het vier jaar gelede laas ordentlik gereën in Vanwyksvlei. Ons sit nie meer met ’n droogte nie, maar met ’n ramp.” 

Volgens Nicol Jansen, president van AgriSA in die Noord-Kaap, ervaar 70% van die Noord-Kaap die ergste droogte in 50 jaar. 

“Baie van die boere het al 30% van hulle kudde verloor.”