Jacob Newbern (27), wat weens ’n seldsame mediese toestand verlam is, het Maandag by die mediese sentrum Orange Park vir Mary Batar gevra om sy vrou te word, ’n dag voor hy uit die hospitaal ontslaan is, berig ABC News.

Guillain-Barré-sindroom, wat behels dat die immuunstelsel senuwees aanval, is ’n maand gelede by Jacob gediagnoseer. Hy het toe die eerste simptome van die toestand ervaar terwyl hy saam met Mary en hul drie dogters uit was.

“Hy het by die trap opgestap terwyl hy die meisies dra en gesê hy het amper ineengesak, want sy bene het soos jellie en slaperig begin voel. Hy kon ook nie die badkamer gebruik nie,” het Mary op die Go Fund Me-blad geskryf wat vir die gesin begin is.

Jacob het 22 dae van rehabilitasie ondergaan. Hy het kort voor hy ontslaan is besluit om Mary die jawoord te vra.

Mary was verheug oor die verrassingsaanbod, het Jacob aan die televisieprogram Good Morning America gesê.

“Sy was geskok. Dit was die heel eerste keer dat ek heeltemal alleen opgestaan het. Ek is verbaas sy het nie op die vloer neergeval nie, so opgewonde was sy,” sê hy.

Die neuroloog dr. Ronnie Bond het vir hom gesê dit kan baie lank neem om te herstel, maar dit het hom net gemotiveer om harder te werk.

“Ek het dr. Bond in die oë gekyk en gesê ek is van plan om oor twee maande te loop,” vertel Jacob.

“Ek was 100%-toegewyd.”

Die spesialis sê Jacob het merkwaardige vordering teen die siekte gemaak.

“Hy het veel meer gevorder as wat ek verwag het," sê Ronnie. "Met dié siekte kan dit maande neem voor daar enige vorm van herstel is.”

Bronne: ABC News, Good Morning America, Metro