Sy het in haar werk as finansiële beplanner opgang gemaak, sy het haar verhaal as ’n boek begin neerpen en die sanger Jacques Nel, beter bekend as Jac’Q Nel, het onlangs haar getuienis van haar ervaring van haar seun, Conrad, in ’n musiekvideo vasgevang. 

Jacques, wat pas sy jongste album, Alles Het ’n Rede, bekendgestel het, het die lied Gesig in die Wolke vir Ina geskryf. Hy het ook onlangs in samewerking met Pieter Vorster (Ollie die Singende Nar) ’n DVD daarvan uitgereik.

Ina, wat haar natuurlike grys hare deesdae in ’n modieuse kapsel dra, verskyn self in die video oor die oomblik wat sy glo die bewys was van die Here se ingryping in haar lewe. 

“Dit is net ’n amazing gevoel,” het Jacques Dinsdag aan Huisgenoot.com gesê oor hoe die lied mense ontroer wat al verlies ervaar het. “Mense wat kinders verloor het, kontak my en sê nadat hulle die video gekyk of die lied gehoor het, voel hulle baie beter.” 

Conrad (19) is op 3 Januarie 2012 deur Johan Kotzé doodgeskiet. Ina was in ’n nabygeleë vertrek en kon sy pleidooie aanhoor en hoor hoe Kotzé haar geliefde kind se lewe beëindig. In die twee ure voor Conrad se dood het Kotzé en sy drie makkers haar boonop verkrag en geskend. 

Boeta, ek wonder waar sou jy vandag in jou lewe gewees het? Wat sou jy nie al vandag bereik het nie?
Ina Bonnette

En toe kom die keerpunt te midde van die uitmergelende hofsaak en onophoudelike nagmerries oor haar kind se angskrete: In Maart 2013 het sy haar seun se gesig in die wolke gesien. Ná die beeld het sy net mooi dinge oor Conrad gedroom en vrede oor hom ervaar. 

Ina vertel in die Huisgenoot van 24 Augustus: “Op die omslag van my lewende-getuienis-video het ek ’n stukkie vir Boeta geskryf. Daar sê ek vir hom: ‘Boeta, ek wonder waar sou jy vandag in jou lewe gewees het? Wat sou jy nie al vandag bereik het nie?’ Dis altyd daai ‘wonders’. Ek sal hom altyd onthou soos met daardie laaste foto’s wat ek het. Ek wonder hoe hy vandag sou gelyk het.” 

Jacques vertel hy het Ina toevallig in 2014 ontmoet. Hulle het oor wolke begin gesels en hy het haar ook meegedeel hy is ’n sanger. Dit is toe dat hy vra of hy dit vir haar kan skryf.

En daar word Ina se droom toe ’n werklikheid.

  • Lees in Huisgenoot van 24 Augustus die eksklusiewe onderhoud met Ina oor haar reis na genesing en oor die skokbrief wat Kotzé ná vyf jaar vir haar vanuit die gevangenis geskryf het.