“Baie mense het hom geïdentifiseer. Hy het baie hard geskree en was duidelik op die plek waar die vier brande begin het; daarom het mense vermoed dit was dalk hy,” sê JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit. 

Petrol en ander vuurmaakgereedskap is by die man gevind, sê hy. 

’n Man is in hegtenis geneem nadat hy na bewering Dinsdagoggend vier brande op Tafelberg gestig het. Foto's: Joanie Bergh

Lt.kol. Andrè Traut, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig die Kaapstadse polisie het ’n man van in die 40 op ’n klag van brandstigting in hegtenis geneem.

Traut sê hulle ondersoek die omstandighede rondom die brande. 

Die brande was bo die onderste stasie van die kabelkar en brandbestryders is net ná 12:00 na Tafelbergpad ontplooi. 

Twee brandweerwaens en ’n watertenkwa was op die grond terwyl twee helikopters vanuit die lug gehelp het.