Die video vorm deel van ’n handjie vol snitte op sy jongste album, Ricus Nel bring hulde aan Worsie Visser, wat aan die geliefde Afrikaanse sanger Worsie Visser opgedra is.

“My droom met hierdie album was om Worsie Visser te vereer vir sy merkwaardige bydrae tot Suid-Afrika se musiekskat en dis vir my ‘n reuse voorreg”,  het Ricus in ’n persverklaring gesê. 

“Ek het my probeer voorstel hoe dit sou wees as ek en hy, elkeen met ons eie manier van doen, lekker om ‘n kampvuur kon sit en musiek maak – dít is die hart van hierdie album.”  

Die album spog met treffers soos Boesmanland, Gee die hond wind, Lekker ou Jan, Wikkel daai boude, Strandfontein, Gansbaai en Brannewyn laat my staan. 

“Elk van die 12 snitte op die nuwe album – van die intrapslag tot die laaste noot- is getrou aan dit wat Visser se musiek uiters gewild gemaak het. Dit is aansteeklike saamsing-lirieke en wysies, sterk bas, kitaar, konsertina en bekfluitjie lyn en ritmes wat geen dansskoen wat sy sool werd is, kan weerstaan nie,” sê Tania Fourie van Select. 

”Ricus se aanvoeling vir Visser se musiek is merkwaardig en sy stem is uitgeknip vir hierdie huldeblyk.”