Het die Deerpark CBS-skool in Cork, Ierland, dalk ’n leerder wat nie noodwendig van vlees en bloed aanmekaargesit is nie? Dan boonop nog een met ’n baie slegte humeur . . .

Maar wag, maak seker jy het jou rekenaar se klank aan vir dié ervaring, want jy wil nie ’n oomblik van die vreemdheid misloop nie.

Op 1 Oktober om 03:07 vanjaar het die kringtelevisiekamera wat in een van die skool se gange op die eerste verdieping opgestel is, iets ongewoons vasgelê. Die kamera word deur ’n bewegingsensor geaktiveer.

’n Deur gaan oop en dan klap dit toe. Maar waar’s die mensehand wat dit met soveel gevoel laat toeklap dat die klank deur die gang eggo?

’n Doodse stilte volg. Dan word een van die sluitkas-kabinette woes heen en weer geruk. Maar weer is niemand sigbaar nie. 

Nog ’n sluitkassie word oopgeruk en die inhoud daarvan op die vloer neergegooi. 

Die laaste item wat deurloop is die plastiekwaarskuwingsteken dat die vloer nat is. Dit trek eenkant toe, so asof dit deur ’n moedswillige voet geskop word.

’n Oorblufte Aaron Wolfe, die adjunkhoof van die skool, het die videogreep aan die hoof, Kevin Barry, oorhandig.

“As dit ’n poets is, is dit uitstekend gedoen,” het Wolfe gesê.

Volgens hom beskik die skool nie oor toerusting wat gesofistikeerd genoeg is om die video te redigeer of ’n groen skerm in te span nie. Wat van vislyn? Ook nie. Daar’s nie ’n venster naby die sluitkas waar die lyn deurgevoer kan word om die kaste rond te trek nie.

“Maar enigiets is moontlik,” sê  hy.

Dis nie 'n nuutjie nie

Gerugte doen reeds geruime tyd die ronde dat alles nie noodwendig pluis is by die skool nie. Van die gange is onnatuurlik koud en dan is daar die standaardspookstorie van huilende babas wat gehoor maar nie gesien word nie.

Hoe kan dit dan nou anders? Dit is immers ’n ou skool wat in 1852 op ’n perseel wat bekend gestaan het as Green Gallows, gebou is. Selfs die galgdeel van die naam is waar - misdadigers is toentertyd na afloop van die 1798-rebellie daar gehang.

Glo jy in spoke? Indien wel, vertel ons gerus daarvan deur ’n e-pos met Spookstorie in die onderwerpveld aan web@huisgenoot.com te stuur.


Bronne: askaboutireland.ie, today.com, hellogiggles.com