Sophie Hannah Richardson(27) , ’n mode- en skoonheidsblogger van Essex in Engeland, het vandeesweek hewige teenreaksie in die sosiale media ontvang toe sy ’n nuwe modegier bekendstel.

Sy het aanvanklik die video in die sosiale media geplaas as ’n grap, maar sosialemediagebruikers het gedink dis grillerig en allesbehalwe ’n grap.

Die gier? Neushare! Grillerig. (Ons weet.)

In die video kan gesien word hoe Sophie nagemaakte wimpers in ’n sirkel vorm en in haar neus plaas.

Sophie, wat altyd op soek is na nuwe modeneigings, het aan Mirror Online vertel sy het ’n artikel oor neushare gelees.

“Ek het in ’n artikel gelees neushare is die nuwe modegier. Ek het nog geen handleiding daaroor gesien nie en toe gedink waarom nie?”

Volgens Sophie het sy gesien mense neem die video effens ernstig op en stem nie daarmee saam nie.

Een gebruiker meen die neigings moet nou end kry omdat dit haar dogter ontstel.

’n Ander was weer van mening dat sulke soort video's deur aandagsoekers in die sosiale media geplaas word.

Sophie meen egter dat die reaksie van sosialemediagebruikers oorbodig is.

“Ek het nogal gedink dis belaglik. Nadat ek dit aanlyn geplaas het, het baie mense dit ernstig ogeneem, wat nogal snaaks was,” het Sophie aan Mirror Online gesê.

Mense is duidelik nie in hul noppies met die nuwe grillerige gier nie, dus sal die neiging hopelik nie lank duur nie.

Bronne: Mirror Online, Facebook