Dis hoe Steinman Coetzee van Lichtenburg ’n video op sy Facebook-profiel beskryf waarin hy deur rowers in sy motor oorval en beroof word.

Steinman het Donderdagoggend om negeuur by sy werk, die afslaersonderneming Swarico, aangekom toe ’n motor in die parkeerterrein agterna inry.

Vier rowers het uit hul motor gespring en hom omsingel. Hulle het in die motor rondgekrap en toe met twee groot plastiekhouers weggekom.

Nuuskieriges wat op die video kommentaar gelewer het, wou weet wat in die houers is.

Steinman het aan Huisgenoot gesê dit is vol geld.

Die skok tref jou eintlik maar eers ná die tyd.

“Dit is die geld waarmee ons handel dryf. Ek was die oggend by die bank.

“Hulle moes geweet het, want hulle het uit ’n heel ander rigting aangery gekom.”

Hy sê aanvanklik wou hy nie die motor se deur oopmaak nie, maar hulle het aggressief geword en dit met iets gekap. Toe hulle die geld nie onmiddellik kry nie, het hulle aanhoudend gevra waar dit is.

Steinman wou nie sê presies hoeveel geld gesteel is nie, maar het gesê dit is “’n groot bedrag”.

“Die skok tref jou eintlik maar eers ná die tyd,” vertel hy. “In daardie oomblik doen jy wat van jou verwag word.”

Die voorval is by die polisie aangemeld, maar niemand is nog in hegtenis geneem nie.