In een van die video’s wat aanlyn opspraak wek, kan gesien word hoe twee aanvalshelikopters, glo Ka-52 Alligator-helikopters, laag aangevlieg kom. Op die voorgrond is ’n paar voertuie en ’n persoon wat agter die voertuie loop.

Dan gebeur die onverwagte: Een van die helikopters laat waai met ’n missiel en dit tref ’n voorwerp op die grond, nie te ver van waar die persoon ’n sekonde gelede nog niksvermoedend gestap het nie.

’n Hengse ontploffing volg met grond, gras en rommel wat deur die lug trek. Die persoon wat die video afneem, maak hom ook vinnig uit die voete. Dit lyk of hy struikel, maar dan kom hy weer regop en beweeg verder weg.

Luidens bronne, wat verkies om anoniem te bly, was ’n kortsluiting aan boord van die helikopter glo verantwoordelik vir die afvuur van die missiele. Daar word ook beweer dat twee voertuie vernietig is en twee mense, vermoedelik joernaliste, in die hospitaal is.

Die Russiese weermag ontken dat hierdie skrikwekkende voorval tydens die uitgebreide Zapad-oefeninge plaasgevind het en sê dit het tydens ’n ander militêre oefening plaasgevind.

Nog 'n video van die voorval, na bewering by die Loezjkyi-opleidingsgebied, waar die missiele "spontaan" afgevuur is:

In ’n verklaring wat deur die Russiese weermag uitgereik is, word geen doekies omgedraai nie.

“Al die verslae in die sosiale media oor ’n reeks vuurpyle wat ’n skare joernaliste getref en ’n groot aantal ongevalle tot gevolg gehad het, is óf doelbewuste provokasie óf iemand se persoonlike onnoselheid.”

Die verklaring noem ook dat die helikopter per ongeluk op die verkeerde teiken gevuur het. “Skade is aan ’n vragmotor aangerig, maar niemand is beseer nie.”

Die Kamof Ka-52 Alligator-helikopter

Dié Russies-vervaardigde helikopters is glo die nuutste toevoeging tot die weermag se aanvalshelikopters. Dit beskik oor die kapasiteit om ook pantservoertuie aan te val en word as een van die beste ter wêreld beskou.

In 2015 het Egipte 64 van die helikopters van Rusland bestel. Teen die einde van 2017 behoort die land reeds 15 van die 64 in besit te hê. Dit verskil op verskeie vlakke van die Russiese weergawe. Dit word van roeswerende metaal vervaardig, het 'n versterkte romp en het byvoorbeeld ook 'n aangepaste verkoelingstelsel om by die warm klimaat te pas.

Zapad 2017

  • Die Zapad 2017-oefening van 14 tot 20 September is die grootste militêre oefening wat sedert die Koue Oorlog deur Rusland gehou is.
  • Genl. Petr Pavel, hoof van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO), het sy kommer uitgespreek en sê dié "oorlogspeletjies kan gesien word as voorbereiding vir 'n groot oorlog".
  • Dit word saam met Belarus gedoen en volgens amptelike aanduidings is daar nagenoeg 12 700 soldate by die oefening betrokke.
  • Waarnemers verskil egter en sê daar is 70 000 tot 120 000 Russiese soldate betrokke, iets wat Rusland ook as bogpraatjies afmaak.
  • Maandag het Rusland ook ’n ballistiese missiel wat met ’n kernplofkop toegerus kan word, suksesvol gelanseer. Dit het die teiken in Kazakstan, sowat 480 km verder, getref.

Bronne: cbsnews.com, rt.com, thesun.co.uk, haaretz.com, russianhelicopters.aero