Wat sou jy maak as jy op 'n doodgewone Maandag in 'n taxi klim om jou na 'n afspraak te neem en die volgende oomblik, nadat die taxi al begin ry het, sien jy hoe 'n slang langs jou op die sitplek seil?

Dit het op 23 November met 'n vrou in die stad Wenzhou in China gebeur.

In 'n video, wat geneem is met 'n kamera wat die taxibestuurder op die instrumentpaneel gemonteer het, kan 'n mens sien hoe 'n vrou by die ingang van die Peninsula-hotel in die taxi klim. Sy het haar bottel water langs haar op die sitplek neergesit.

Die taxi het weggetrek. 'n Mens sien nie onmiddellik die slang in die video nie. Maar wat jy wel hoor, is 'n vrou se beangste gille en dan sien jy hoe sy die deur oopmaak en uit die bewegende voertuig spring.

Die taxibestuurder kyk verdwaas na die gillende vrou wie se lyf al buite die voertuig is. Maar toe hy die slang op die sitplek sien, het dit nie veel van hom gevat om sy sitplekgordel los te maak en uit die voertuig te klim nie.

Volgens die tydsaanduiding in die video het 'n ander passasier 'n halfuur vroeër in die taxi gery. Die slang het uit een van haar sakke geseil. 

Die plaaslike media in Wenzhou berig die eerste passasier het die slang in 'n toegeplakte boks gedra. Die boks was in 'n sak waarvan die bokant oop was. Dit is nie duidelik hoe die slang uit die toegeplakte boks ontsnap het nie. Later is vasgestel die reptiel was ’n uiters giftige koraalslang. 

Foto: Wenzhou Weibo Xinxian Shi/Newsflash/Magazinefeatures.co.za
slang agter in taxi
Foto: Wenzhou Weibo Xinxian Shi/Newsflash/Magazinefeatures.co.za

Nadat die jong vroulike passasier geskrik en die bestuurder spore gemaak het, is die koraalslang gevang en in die natuur vrygelaat.

Intussen is die slangeienaar opdrag gegee om opleiding te ontvang oor hoe om gevaarlike slange behoorlik te hanteer.