LUCY HALE (28)

Lucy het beslis nie haar toneelspeelskoene weggepak nadat sy haar PLL-karakter, Aria Montgomery, gegroet het nie. Sy is onlangs in Vancouver, Kanada, gekiek op die stel van haar nuwe komediedramareeks, Life Sentence.

Daarin speel sy die 15-jarige Stella Abbott, wat van terminale kanker genees word. Die reeks word in 2018 uitgereik. Aan die liefdesfront gaan dit nie so klopdisselboom nie. Lucy het vroeër vanjaar uitgemaak met haar kêrel van byna twee jaar, die musikant Anthony Kalabretta.

SASHA PIETERSE (21)

Dié Suid-Afrikaans gebore aktrise kan duidelik ’n geheim hou, nes haar alter ego in PLL, Alison DiLaurentis. Sy het dit sowat ’n jaar lank stilgehou dat sy in ’n PLL-uitloperreeks, The Perfectionists, gaan gesig wys (sien die kassie regs bo).

Toe die aktrise, wat al aanlyn oor haar gewig geboelie is, onlangs aan Dancing with the Stars deelneem, het sy onthul sy het in twee jaar byna 32 kg aangesit weens ’n hormoontoestand genaamd polisistiese ovariële sindroom.

Tydens haar deelname aan die reeks het sy 18 kg afgeskud. Lekker, Sasha! Tussendeur beplan sy nog haar en haar verloofde van twee jaar, Hudson Sheaffer (28), se troue.

Besige by!

TROIAN BELLISARIO (32)

Teen dié tyd weet jy al die geliefde Spencer Hastings is in die regte lewe getroud met die Suits-ster Patrick J. Adams (36). En sy gaan waarskynlik ’n uitnodiging kry as die Britse prins Harry besluit om af te haak met Patrick se donkerkopmedester Meghan Markle.

Troian het ’n paar flieks aan die kom, maar die een wat vanjaar die meeste opslae gemaak het, is haar drama Feed, gegrond op haar stryd teen ’n eetsteuring. Sy het die draaiboek op 23 begin skryf, sowat vier jaar nadat sy in die hospitaal opgeneem is met anoreksie.

Vir dié fliek en haar steun vir die Amerikaanse Eetsteuringsvereniging is sy met die Television Industry Advocacy-prys bekroon. En raai wie het haar prys oorhandig? Ian Harding, beter bekend as PLL se aantreklike onnie, Ezra Fitz!

ASHLEY BENSON (27)

Ashley is betreklik stil sedert PLL tot ’n einde gekom het.

Televisie is nie Ashley, wat Hanna Marin gespeel het, se enigste passie nie. Die blondekop wil haar toespits op flieks. Haar eerste rol ná PLL was in die komedie Chronically Metropolitan, waarin sy teenoor Josh Peck (31) van die sitkom Drake & Josh speel.

Dit het nie so goed gevaar by die loket nie, maar ons kan nie wag om te sien wat Ashley nog aanpak nie. En in haar af tyd vaar sy alte lekker die winkels in met haar beroemde pelle soos die Twilight-ster Kristen Stewart (27).

SHAY MITCHELL (30)

Ons kon nie genoeg kry van Shay se PLL-karakter, Emily Fields, nie. En Shay gaan ons nog lank vermaak. Sy gaan met die PLL-skepper, I. Marlene King, en die skrywer van die boekreeks, Sara Shepard, herenig vir ’n nuwe reeks, The Heiresses.

Dit is op Sara se gelyknamige boek gegrond. Die reeks draai om die skatryk Saybrooks-familie wat hulle midde-in ’n gesinstragedie bevind wat dalk meer sinister is was wat hulle dink. Shay gaan die hoofrol vertolk. Shay deel gereeld kiekies van haar reise met haar 18,1 miljoen aanhangers op Instagram.

Die beeldskone aktrise het selfs al in die Kaap ’n draai gemaak!

JANEL PARRISH (29)

Die aktrise wat Mona Vanderwaal gespeel het, sal saam met Sasha Pieterse in die nuwe PLL-reeks, The Perfectionists (sien die kassie onder), speel.

Janel vertolk tans die ikoniese rol van Sandy in die musiekspel Grease, wat in Toronto, Kanada, op die planke is. En ’n paar flieks met dié donkerkop in is binnekort te sien, waaronder die drama To All the Boys I’ve Loved Before, wat volgende jaar uitgereik word.

Met haar liefdeslewe gaan dit ook goed. Sy’t onlangs verloof geraak aan haar kêrel, Chris Long.

En die manne?

IAN HARDING (31) Ezra Fitz

Ian se geliefde karakter was in die reeks ook ’n skrywer, en Ian volg nou in Ezra se voetspore.

Hy het in Mei vanjaar sy eerste boek, Odd Birds, uitgereik. Dit is memoires wat strek van sy kinder- tot vroeë jare in Hollywood en sy lewenslange belangstelling in – jip, jy’t reg geraai – voëls.

Hy is ook volgende jaar op die silwerdoek te sien in die aksiefliek Office Uprising, saam met die Chuck-ster Zachary Levi (37).

KEEGAN ALLEN (28) Toby Cavanaugh

Waarmee hou die aantreklike ster hom ná PLL besig? Niks wat toneelspel betref nie. Keegan hou wel deesdae sy lyf fotograaf. Hy maak tans reg om sy tweede fotoboek, Hollywood, uit te reik. Dit het hom vyf jaar geneem om dit saam te stel.

Tussendeur hang hy saam met sy bekende pelle uit, onder wie sy meisie, die model Ali Collier (22), en die gestorwe popkoning Michael Jackson se dogter, Paris Jackson (19).

TYLER BLACKBURN (31) Caleb Rivers

Ons mis Caleb omtrent! ’n Singende Tyler is nou te sien in die fliekweergawe van die Broadway-musiekspel Hello Again, en hy het onlangs die liedjie Long Day uitgereik saam met sy pel Novi, ’n elektropopsangeres. Tyler hou mense deur Instagram op die hoogte van sy doen en late, en ons moet toegee: Dié PLL-ster se kaalbolyfkiekies laat omtrent die kwik styg!


Wat ons tot dusver weet van die nuwe PLL-uitloperreeks

THE PERFECTIONISTS
Die reeks is gegrond op die gelyknamige boekreeks van Sara Shepard, wat ook PLL geskryf het. “Dit het niks met PLL te doen nie; hulle sit net my karakter daarin,” vertel Sasha Pieterse, wat haar rol as Alison hervat in dié splinternuwe reeks. “Dis nog ’n moordraaisel en het ’n interessante storielyn.” Die reeks speel af op die dorp Beacon Heights.

“Alles op Beacon Heights lyk perfek, van die topkollege tot die oorpresterende inwoners. Maar niks op Beacon Heights is soos dit lyk nie. Die stres van die strewe na volmaaktheid lei tot die dorp se eerste moord. Agter elke ‘Perfectionist’ is ’n geheim, leuen en alibi.”

BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, EONLINE.COM, PEOPLE, PEOPLESCHOICE.COM, PRNEWSWIRE.COM

FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, MAGAZINE FEATURES, INSTAGRAM