‘Die aantrekkings­krag van Docs is dat jy dit dra
‘Die aantrekkings­krag van Docs is dat jy dit dra soos jy goeddink. Jy druk jou eie stempel daarop af’. Foto: Gallo Images/Getty Images

Maar dis nie sommer enige skoen nie: Dis die kanniedood-trappers Dr. Martens. Ook bekend as Doc Martens of sommer net as “Docs”.

Dié eens beskeie werkstewels het in die 1980’s kultusstatus gekry as deel van die alternatiewe “uniform” van punks en goths voor dit op die vullishoop van afgeleefde modegiere beland het.

Miley Cyrus met Docs in haar “Wrecking Ball”-musie
Miley Cyrus met Docs in haar “Wrecking Ball”-musiekvideo. Foto: Skermgreep

Maar nou skop Docs weer gat – en nie net op straat nie.

Dr. Martens, die vervaardiger van die diksoolstewels- en skoene, het onlangs sy debuut op die Londense aandelebeurs gemaak teen R75,85 per aandeel. Daar was ’n stormloop deur beleggers en sommer gou was die maatskappy se waar­dasie R76 miljard.

Selfs in die wêreld van kantoorpakke was dié rebelse stoftrappers skielik tops.

“Dr. Martens is vir beleggers aanloklik danksy die skoene se lojale kliëntebasis, hoë marges en hope groeipotensiaal in markte soos Noord-Amerika en China,” verduidelik die beleggingsbestuurder Oliver Brown.

Die skoenvervaardiger se grootbaas, Kenny Wilson, stel dit so: “Die sukses­volle omskepping van Dr. Martens is ’n goeie storie. En die reusepotensiaal vir die toekoms maak dit selfs opwindender.”

Ons volg Docs se spoor van toeka tot nou.

Verrys uit die puin van oorlog

Die oorspronklike stewels se verhaal begin in 1945 in die doodsnikke van die Tweede Wêreldoorlog. Klaus Märtens, ’n dokter in die Duitse leër, het tydens ’n ski-vakansie sy enkel beseer. Hy prakseer toe ’n dik, gekussingde sool uit buitebande vir ’n ou stewel om te dra terwyl sy enkel genees.

Dit was so gemaklik dat hy en dr. Herbert Funk, ’n ingenieur met kennis van plastiek, saam stewels begin vervaardig en verkoop het. Hulle het dit “AirWair” genoem, en dit was gewild onder middeljarige Duitse vroue wat buite op plase moes werk of om oorlogspuin in verwoeste stede op te ruim.

Die Britse inval

Die Griggs-familie van Brittanje, ook skoenvervaardigers, het in 1960 die AirWair-stewels in ’n katalogus gewaar. Hulle het toe Märtens se onderneming oorgekoop, die kenmerkende geel stiksels en haklus bygevoeg, en die stewels herdoop na Dr. Martens.

Teen £2 was Docs gou gewild onder polisiebeamptes, posbodes, fabrieks­werkers – enigiemand wat heeldag op hul voete moes werk. Maar as ’n simbool van die werkersklas was dit in daardie stadium allesbehalwe cool onder rykes.

Docs se opmars het maar pas begin.

Docs rock en raak rebels

Dit was Peter Townshend, van die gewilde Britse rockgroep The Who, wat in 1967 ’n ware Docs-manie ontketen het.

“Ek was moeg daarvoor om soos ’n Kersboom in vloeiende gewade op te tof. Dit het my kitaarspel belemmer, en ek het besluit om praktieser aan te trek,” het hy vertel. Met sy nuwe Docs kon hy lekker op en af op die verhoog spring terwyl hy sy kitaar laat huil.  

Die stewels was baie gewild in die 1970’s tot 1990
Die stewels was baie gewild in die 1970’s tot 1990’s onder jong mense in Londen. Foto: Gallo Images/Getty Images

Kort voor lank was die stewels met hul rof en onbeskofte voorkoms die uniform van jeugdige rebelsheid en alternatiewe kulture.

Punks, goths, glam rockers, en skinheads het daarin gefuif – en baklei.

Die fotograaf Gavin Watson, wat in die 1960’s as ’n skinhead grootgeword het, onthou hy moes ’n paar nuwe Docs “doop deur iemand daarmee te skop. Dit het nie saak gemaak wie nie, en as jy bloed daarop gekry het, was dit nog ­beter,” het hy aan The Guardian gesê.

Selfs Elton John het dit in die musiekfliek Tommy gedra, en nes Britse popmusiek het die handelsnaam ook die oseaan oorgesteek om Amerika te oorwin.

Mettertyd was Doc Martens in verskillende groottes, style en kleure te koop. Die handelsnaam het ook ál gewilder onder vroue geword.


Die dik, kussingagtige sool, geel stiksels en haklus het behoue gebly. Teen die 1990’s was 50% van Docs-draers vroue wat gesê het hulle voel “bemagtig” en “veilig” daarin.

Nuwe vastrapplek

Met die aanbreek van die 21ste eeu het Dr. Martens se verkope aansienlik afgeneem. Om bankrotskap te vermy, moes die vervaardiger al sy fabrieke buiten een, asook baie van sy winkels sluit.

Party waarnemers meen Docs se agter­uitgang het die tanende gewildheid van rock- en punkmusiek in die vroeë 2000’s weerspieël.
Die handelsnaam se redding was sy ikoonstatus. Ontwerpers en modehuise het ingespring om nuwe lewe aan die stewels te gee.
Danksy samewerking met kleremaatskappye soos Stüssy en Bape, en die ontwerper Raf Simons, het Dr. Martens weer die pad na bo begin klim.

Gigi Hadid is van die talle bekendes wat hul straa
Gigi Hadid is van die talle bekendes wat hul straatdrag afrond met ’n bonkige paar Docs. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sommer gou was daar ’n paar Docs onder die bed van glansmense soos Hailey Bieber, die Hadid-susters en natuurlik Miley Cyrus. In rooi, geel, groen . . . enige pretkleur van die reënboog.

Bella Hadid rond ook haar straatdrag af met ’n bon
Bella Hadid rond ook haar straatdrag af met ’n bonkige paar Docs. Foto: Gallo Images/Getty Images

Deesdae sien jy Docs nie dikwels aan die voete van werkers nie, want een paar kan jou maklik R3 000 uit die sak jaag.

En die Dalai Lama se keuse? ’n Eenvoudige en praktiese bruin paar, laag gesny, geskik vir iemand wat sy lewe daaraan wy om ander te dien.

Die (gestewelde) kat kom weer

Die handelsnaam oorleef omdat hulle dit regkry om by die tye aan te pas.

Deesdae sluit die reeks selfs veganistiese stewels in – dié trappers word van ’n poliüretaanmengsel soortgelyk aan leer gemaak.

“Die eintlike aantrekkingskrag van Docs is dat jy dit kan dra soos jy goeddink. Jy druk jou stempel daarop af. Dis ’n staatmaker. Dit beweeg in en uit soos die mode voorskryf,” sê Josh Sims, ’n modeskrywer.

Dr. Martens se groei in onlangse jare was 48%, oftewel sowat R13 miljard. Dit het die maatskappy gehelp om die ekonomiese impak van die coronakrisis te oorleef.

“As jy ’n goeie produk het, sal mense na jou toe kom,” sê Kenny Wilson, die hoof van Dr. Martens. “Mense vertrou die handelsnaam danksy die outentieke aard en geskiedenis daarvan.”

Die legende in syfers

58

Dr. Martens word in soveel lande verkoop.

R2 300

Die prys van ’n paar 1460-opryg­skoene vir vroue in gladde leer.

70 000

Daar was al soveel variëteite van ­Dr. Martens.

42 000 km

Die lengte van die totale hoeveelheid ikoniese geel steke wat elke jaar gestik word.

11,1 miljoen

Die aantal pare Docs wat in die jaar 2020 deur die maatskappy verkoop is.

BRONNE: INVESTOPEDIA.COM, THEGUARDIAN.COM, BLOOMBERG.COM, THERAKE.COM, DRMARTENS.COM, FOOTWEARNEWS.COM, FASHIONUNITED.UK, PREMIRA .COM
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe