Maar Yslandse Hafþór Júlíus Björnsson (29), wat dié titel vanjaar gewen het, kon darem ’n tydjie tussendeur sy strawwe oefenprogram afknyp om af te haak.

Hafþór (uitgespreek Haf-tor), wat 2,06 m in sy sokkies staan en die skaal op 192 kg laat kreun, het die naweek met sy liefie, die 28-jarige Kanadees Kelsey Henson, getrou. Hy het roem verwerf toe hy die ikoniese rol van The Mountain, oftewel Ser Gregor Clegane, in die trefferreeks Game of Thrones vertolk het.

Hoewel Kelsey slegs 1,57 m lank is, deel sy en haar reuseman albei ’n passie vir liggaamsbou en gewigte.

Die paartjie pryk gewoonlik in oefenklere op hul Instagram-profiele en deel gereeld foto’s en video’s van hul strawwe swaargewigoefeninge. En hulle het hulle omtrent vir hul groot dag opgetof. Die paartjie het onlangs prentjiemooi swart-wit troufoto’s met hul Instagram-volgelinge gedeel.

’n Mens sien ook nou nie elke dag dié reus in ’n netjiese pak, kraaghemp en das nie. Volgens US Weekly het hulle in Ysland getrou, wat natuurlik vir die beeldskone agtergrond vir hul troukiekies gesorg het.

Hafþór en Kelsey het ook onlangs foto’s gedeel waar hulle in Dubai is, maar dit is moontlik nie vir hul wittebrood wat hulle ná dié toeriste-bestemming gelok is nie. Hafþór sal Vrydag aan die World’s Ultimate Strongman-kompetisie deelneem en dit is duidelik dat die kiekies op die strand net die pasgetroudes se manier is om ’n bietjie pret met werk te meng.

Die twee het glo in ’n kroeg in Ysland ontmoet en is sedert 2017 ’n paartjie, berig Metro.

View this post on Instagram

?????? @kelc33

A post shared by Hafþór Júlíus Björnsson (@thorbjornsson) on

Dit was omtrent ’n groot jaar vir die reus, aangesien hy vir die eerste keer ooit die World's Strongest Man-kompetisie, wat hierdie jaar in die Filippyne gehou is, gewen. Hy is ook in Maart vanjaar as die kampioen van die Arnold Strongman Classic-kompetisie, wat deur die Hollywoodster Arnold Schwarzenegger gestig is, aangewys en het in April vanjaar vir die vierde keer met die titel as Europa se sterkste man weggestap.

Bronne: Huffingtonpost.com, Metro.co.uk, Theworldsstrongestman.com, USmagazine.com