“Nooit in ’n miljoen jaar” het Jamandi Bekker gedink sy en manlief Machiel sou Sondagaand wegstap as die eerste wenners van die M-Net-werklikheidsreeks My Kitchen Rules (MKR) South Africa nie. 

“Ek kan nog die eerste dag onthou toe ons in die My Kitchen Rules-bussie klim en Zama Tonga (een van die ander deelnemers) sulke doefdoef-musiek speel. Machiel het my hand gegryp en gevra: ‘Waarin het ons nou beland?’ ”

Machiel en Jamandi Bekker van Bloemfontein is Sondagaand aangewys as die eerste wenners van MKR SA.

Dit was omtrent 'n naelbytery en gaar senuwees toe die gewilde paartjie van Bloemfontein Sondag in die eindronde teen Charnell en Kerry, beste vriendinne van Johannesburg, gekook het.

Daar is van albei spanne verwag om ’n vyfgangmaaltyd voor te sit vir die amptelike beoordelaars, David Higgs, eienaar van die Marble-restaurant in Johannesburg, en J’Something, eienaar van Something’s Cooking by J in Pretoria en hoofsanger van die gewilde musiekgroep Mi Casa.

Maar om die kompetisie selfs meer straf te maak was daar 'n paneel gasbeoordelaars wat gehelp het om te besluit wie met die prys wegstap: die Michelin-ster-sjef Jan-Hendrik van der Westhuizen; die uitvoerende sjef van Le Quartier Français in Franschhoek, Margot Janse; die koningin van Kaaps-Maleisiese kookkuns Cass Abrahams; en die Carte Blanche-joernalis Devi Sankaree-Govender.

“Machiel en ek het ons die afgelope drie dae daarop voorberei om te verloor en om agterna gewoonweg met ons lewe voort te gaan. Ek kan steeds nie glo dat ons gewen het nie,” het Jamandi op die nuuskonferensie vertel enkele minute nadat ’n tjek van R1 miljoen aan die paartjie oorhandig is. 

“Maar wat vir my meer as die miljoen rand uitstaan, was die ervaring om by David en J te kon leer. Ons salueer hulle!”

Ná die sukses van hierdie eerste seisoen het M-Net bevestig dat ’n tweede seisoen aanstaande jaar uitgesaai gaan word. Die oudisies daarvoor sal vroeg in 2018 gehou word. 

Machiel vertel die groot les wat hy uit die kompetisie met hom saamneem, is om altyd opreg te wees. 

“Ons het nie ’n game plan gehad nie. Ons was net Jamandi en Machiel van Bloemfontein.

“Die kompetisie gaan nie net oor die kos nie, maar ook oor hoe jy geweldige druk hanteer. Een ding wat David vir my gesê wat my skoon emosioneel gemaak het, is dat hy kan sien hoe lief ek vir Jamandi is en hoe ek na haar luister.

"As jy vir die kompetisie inskryf, moet jy dit nie net vir show doen nie. ’n Mens moet mekaar ken en na mekaar kan luister, anders gaan jy uitval. Doen dit as Piet en Jan, Lee-Ann en Magriet, wie jy ook al is. Moenie verander wie jy is nie, want dit sal backfire.”

Machiel en Jamandi het vroeër in 2017 hul 10de huweliksherdenking gevier en het met dié mylpaal in sig besluit om die uitdaging saam aan te durf. Die laaste episode is boonop op die dag van hul huweliksherdenking verfilm. 

“En om alles te kroon, vier my skoonouers vandag (10 Desember) hul eie huweliksherdenking,” vertel Machiel.

Terwyl die reeks opgeneem is, sou Jamandi ná ’n dag se verfilming in die kombuis gaan oefen om haar op die volgende dag se uitdaging voor te berei. En Machiel?  "Hy sou whisky drink,” verklap Jamandi. Kykers het haar leer ken as die een wat meer gefokus en ernstig in die kombuis is, terwyl Machiel die een was wat die lagspiere sou kielie. 

Die paartjie, wat eienaars van ’n gastehuis in Bloemfontein is, is nog onseker oor wat hulle met die wengeld gaan doen.

“Ek het in my lewe geleer dat jy eers iets moet kry voor jy daaroor kan droom,” verduidelik Machiel. “Ons gaan seker vanaand liefde maak met die tjek langs ons,” skerts hy.

En daarna sal hulle begin droom oor wat met die miljoen gaan gebeur.