KYK: Ystervarkgesin op versteekte kamera vasgelê

akkreditasie
Facebook/Cape Leopard Trust
Facebook/Cape Leopard Trust
Die Cape Leopard Trust spits hulle veral op navorsing oor luiperds in die Kaap toe, maar soms lê hul kameras ook uitsonderlike foto’s van ander diere vas, soos dié een van 'n ystervarkgesin op 'n nagtelike uitstappie.

Die nieregeringsorganisasie het verlede week dié foto van die stekelrige ma en pa en hul spruit in die sosiale media geplaas om mense “se dag op te helder”. Die Kaapse ystervarkgesin het een van die Cape Leopard Trust (CLT) se kamerastrikke in die Sederberge geaktiveer en 'n mens kon nie vir 'n beter beeld van 'n Hystrix africaeaustralis-kleintjie – kompleet 'n miniweergawe van sy ouers – in familieverband in die natuur gevra het nie.

Volgens CLT is Kaapse ystervarke die grootste knaagdiere in Afrika en kan hulle tot 20 kg weeg.

Ystervarke gebruik hul voortande om onder meer plantwortels en -bolle uit te grawe en om boombas af te stroop. Maar hulle hou eweneens van gewasse soos aartappels en pampoene en is ook al op kamera betrap waar hulle vrugte soos lemoene wegdra. 

En ongelukkig is hulle self, wapentuig te spyt, 'n gunstelinggereg op luiperds se spyskaart, by uitstek die Boland-bergkompleks se Kaapse luiperds. Nie dat dit maklik is vir 'n luiperd om 'n maaltyd van hulle te maak nie. Menige jong, onervare luiperd moes al die aftog blaas.

Bronne: capeleopard.org.za, Facebook, YouTube

Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees