Die Bokke word wyd en syd geloof vir hul voortreflike spel en die goue beker wat saam met hulle huistoe kom.

Maar agter die skerms is daar die vrou wat reeds in 2000 haar eerste toets saam met die Bokspan ervaar het. En vir Annelee Murray het nog ’n ikoniese vrou, Zelda la Grange, net die beste woorde om te deel.

Sy het by ’n pragfoto van Annelee met die Webb Elllis-trofee geskryf dat sy gesien het watter opofferings Annelee moes maak, ook haar toewyding, lojaliteit en verbintenis met die spelers, hul vroue en gesinne op toer.

“Jy kan nie ’n uur met haar deurbring sonder dat iemand haar bel om iets by haar te soek nie. Maar sy’s altyd bereid om te help, reg om te ondersteun en gereed om op te dis wat sy weet nodig is om te wen.”

Hier is  ’n onderhoud wat ons al in 2014 met haar gedoen het.

Staaltjies van die Bok-‘ma’ — Lara Atson (Huisgenoot 20 November 2014)

Die SA rugbyspan se hoof van publisiteit en administrasie vertel van 14 jaar se kostelike gebeure agter die skerms.

Sy het al byna 170 internasionale rugbytoetse agter die blad, meer as enige draer van die Groen-en-Goud. En sy het al met vyf Bokbreiers en sewe kapteins saamgewerk. Ontmoet Annelee Murray, die “ma” van die Bokke.

Annelee draf al 14 jaar lank uit vir die Backroom Boks, die span wat agter die skerms woel om seker te maak dat dinge in ons nasionale rugbykamp seepglad verloop. As hoof van publisiteit en administrasie hou sy die spelers en die vroue in hul lewe gelukkig, en sorg dat die span se verpligtinge teenoor die borge nagekom word.

In haar omswerwinge saam met die span het sy al kennisgemaak met bekendes soos die U2-sanger Bono, Amerika se oudpres. Bill Clinton en Brittanje se prins Harry.

Annelee en prins Harry. Foto verskaf
Annelee en prins Harry. Foto verskaf

Sy is net vier maande per jaar by die huis, maar sy verruil haar werk vir niks, vertel dié Kapenaar in haar stylvolle verdiepinghuis in Nuweland.

Tydens Huisgenoot se besoek staan daar juis drie tasse gereed by die deur, want sy is saam met die Bokke op pad na Ierland. Wanneer die rugbyhelde op 15 November Engeland op Twickenham in Londen pak, sal dit haar 168ste toetswedstryd wees. Dis meer as Victor Matfield (37), die Springbok met die meeste toetswedstryde agter sy naam, naamlik 118.

Sy het al 44 stede besoek en reis jaarliks sowat 7
Sy het al 44 stede besoek en reis jaarliks sowat 75 000 km. Foto: Jacques Stander

“Ek was daar vir almal se eerste toetswedstryd, hul verlowings, troues en kinders se doopmale. Ek is deel van die gesin,” sê Annelee.

Sy is juis pelle met talle Springbokke, soos die afgetrede Bokkaptein John Smit (36) en sy vrou, Roxy. Sy is ook hul sesjarige seun, Tyron, se peetma. En op Facebook kan sy gesien word saam met die Bokblits Bryan Habana (31) se babaseuntjie, Timothy.

“Timmy is so oulik,” koer Annelee. Sy speel soms oppasser vir hom.

Hy kan die Springbok-span nie indink sonder Annelee nie, het die Bokkaptein, Jean de Villiers (33), verlede jaar gesê toe sy haar 150ste toets vier.

“Sy is regtig die ma van die span – ’n wonderlike mens en vriendin.”

Jean de Villiers en Annelee Murray in 2015 toe die
Jean de Villiers en Annelee Murray in 2015 toe die Bokke teen Argentinië om die derde plek in die Wêreldrugbybeker gespeel het. Foto: Steve Haag/Gallo Images

Maar daar is een stukkie statistiek wat Annelee nie verklap nie – haar ouderdom.

“Nie eens die spelers weet hoe oud ek is nie!”

Haar ouers, Penny en Peter (albei 74), woon op Cradock in die Oos-Kaap en is baie trots op hul dogter. Sy kom uit ’n sportmal gesin, verduidelik Annelee.

“My pa het rugby vir die Oostelike Provinsie gespeel, my ma het hokkie vir die Proteas gespeel, en my oupa Tim Murray was saam met dr. Danie Craven in die raad van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru).”

Annelee self het hokkie en netbal gespeel.

Ná skool het sy vir twee jaar oorsee gaan reis en in dié tyd ’n paar maande lank by die Chelsea-sokkerklub in Londen gewerk. Kort ná haar terugkeer het sy by Saru ingeval.

Haar eerste toetswedstryd was in 2000 in Argentinië.

“Harry Viljoen was nog die afrigter. Hy het besluit die Bokke gaan nie skop nie. Vir 74 minute van die toets het ons nie geskop nie. Ons het byna die wedstryd verloor tot hy vir Percy Montgomery laat weet het hulle moet skop,” vertel sy laggend.

Sy geniet dit veral om saam met haar spannetjie die Bokke se kleedkamer reg te kry voor wedstryde.

“Dis altyd pret. Victor Matfield dra byvoorbeeld net ’n sekere soort onderbroek. En Bismarck du Plessis sal altyd eers sy linkerstewel aantrek en dan sy regterstewel.”

Wanneer speeltyd aanbreek, is sy gewoonlik in en uit by die losie waar die rugbyspelers se vroue sit. Haar senuwees knaag soms so dat sy nie eens die wedstryd kyk nie.

By Os du Randt se vrou, Hannelie, en Victor Matfie
By Os du Randt se vrou, Hannelie, en Victor Matfield se vrou, Monja. Foto verskaf

“Ek SMS my ma om te hoor wat die telling is!”

Met die jare het sy al ’n paar benoude oomblikke beleef, soos die keer op pad na die Millennium-stadion in Cardiff, Wallis, toe Joe van Niekerk (34) besef het hy het per ongeluk sy rugbystewels saam met sy ander bagasie lughawe toe gestuur. Annelee moes toe uit die bus spring en die bagasievoertuig agternasit.

’n Ander keer, in Pretoria, moes sy agterop ’n motorfiets deur die strate jaag nadat Brent Russell (34) sy mondstut in die hotel vergeet het.

“Ek het dit vir hom aangegee terwyl hulle uit die kleedkamer gestap het!”

Dan was daar die keer onderweg van Johannesburg na Sydney, Australië, toe een van die vliegtuig se enjins skielik aan die brand slaan minder as twee uur nadat dit opgestyg het.

“Dit was reg by die venster waar ons gesit het. Daar is verskeie spelers wat senuweeagtig is om te vlieg. Ruan Pienaar se gesig was bleek; ek moes hom net kalmeer.

“Ons het toe ’n uur lank in sirkels gevlieg om van brandstof ontslae te raak (’n standaardveiligheidsprosedure om die brandgevaar te verlaag ingeval iets met die landing skeefloop) en toe weer geland. Ons het toe eers die volgende dag gevlieg. Dit was vreesaanjaend!”

Jean en Jaque Fourie (31) is altyd die grapjasse in die span, vertel Annelee.

“As jou selfoon weg is, was dit hulle. As jou skoenveters vasgemaak is wanneer jy opstaan, was dit hulle. Jean is baie ernstiger sedert hy kaptein is, maar hy is nog dieselfde mens. Hy het steeds pret.”

Wat van ’n staaltjie oor háár?

Wel, daar was die keer in 2001 toe die span na die Buckingham-paleis is om koningin Elizabeth II te ontmoet.

“Ek het die hele dag geoefen hoe om te kniebuig, en toe ek die koningin ontmoet, toe buig ek! Ek was so geïntimideer, maar sy was baie vriendelik. Sy het nog gevra hoe ek al die manne versorg,” vertel sy laggend.

Annelee is versot op reis. Londen en Parys is van haar gunstelingplekke. Wanneer sy nie saam met die Bokke reis nie, gaan ski sy graag saam met vriende oorsee.

Dit skrik haar glad nie af dat sy een van min vroue tussen al die manne in die sport is nie.

“Ek moet ekstra hard werk om my professionele integriteit te behou en respek te kry en ek dink ek het hard gewerk daarvoor.”

Watter vroue inspireer haar? Zelda la Grange, antwoord sy sonder om te aarsel. Hulle is goeie vriendinne.

“Ons het sowat 14 jaar gelede ontmoet toe ek haar gekontak het om te vra of die Bokspan Madiba kan ontmoet.”

Annelee het saam met die Springbokke met talle bek
Annelee het saam met die Springbokke met talle bekendes kennisgemaak. Dit sluit onder andere oudpres. Nelson Mandela in. Foto verskaf


Nes Zelda Madiba se hekwagter was, is Annelee die Bokke s’n. Almal wil seker haar pel wees? Sy lag: “Mense van wie ek lank nie gehoor het nie, bel my deesdae!”

Haar groot hoogtepunt was toe die Bokke in 2007 die Wêreldbekertoernooi wen. Maar haar kosbare aandenkings van dié oomblik, die WB-medalje en ’n platinummedalje wat die sakemagnaat Tokyo Sexwale vir die Bokspan laat maak het, is in April vanjaar uit haar huis gesteel.

Percy Montgommery, Annelee en Bryan Habana in 2007
Percy Montgommery, Annelee en Bryan Habana in 2007. Foto verskaf

Sy was oorsee tydens die inbraak.

Volgende jaar se Wêreldbekertoernooi gee haar darem moed. “Hopelik kry ek weer een.”

Om haar nek hang ’n sirkelvormige diamanthangertjie – ’n geskenk van hul borge en die spelers om haar 150ste toets te herdenk. Haar ouers en jonger broer, Mike, was ook op die verrassingspartytjie wat Saru en Absa vir haar gehou het.

Die diamanthangertjie wat sy vir haar 150ste toets
Die diamanthangertjie wat sy vir haar 150ste toets gekry het. Foto: Jacques Stander

En kort voor dié geleentheid het die Bok-afrigter, Heyneke Meyer, haar gevra om die spelers se truie te oorhandig voor hul toets teen Argentinië in Mendoza.

“Dit was baie emosioneel en spesiaal vir my.” Wanneer sy nie reis nie, sit sy voor die kassie en kyk TV-reekse soos Madam Secretary, Revenge en House of Cards. “Enigiets wat nie rugbyverwant is nie.”

Annelee is in ’n verhouding, maar met al die Bok-toere was daar nog nie tyd om aan trou en kinders te dink nie. Haar broerskinders, Isabella (6) en Max (4), is maar soos haar eie spruite, skerts sy.

Ons groet later en sy neem ons deur haar motorhuis na buite. Teen die muur gewaar ons ’n geraamde All Black-rugbytrui. Op haar Twitter-profiel pryk juis ’n foto van haar, Jean en die Nieu-Seelandse kaptein, Richie McCaw.

“Die SA spelers spot altyd dat ek meer van Richie McCaw hou as van hulle, maar die trui kry darem nie ’n ereplek binne-in die huis nie. Dit hoort hier, in die motorhuis!”

Haar bloed is groen en sal dit altyd bly.


EKSTRA BRON: SARUGBY.CO.ZA