“Ek dink Johan se houding aan tafel was verskriklik onvanpas en teleurstellend,” het Danie Steynberg onder meer geskryf.

Hiermee het hy talle ander mense se gevoel oor boer Johan opgesom.

In Donderdagaand se uitsending het kykers gesien hoe Johan en sy vyf gekose vroue om die etenstafel kuier. Later vervies hy hom omdat hy meen Christa het te veel wyn gedrink en toe te luidrugtig geraak het.

“Ek het geen waardering vir 'n vrou wat so optree nie,” het kykers hom gehoor sê. Later sê hy vir haar: “Niks meer wyn vir jou nie.”

Sommer voor hy twee dames moes elimineer, het hy haar reeds gevra om huis toe te gaan. “Jou wêreld en my wêreld is twee verskillende wêrelde,” sê die boer.

Dit het kykers hewig ontstel en hy is behoorlik op Facebook geroskam.

“Dit was aaklig om haar so te verneder, nee wat, bly weg dames, hy sal 'n vrou sommer vinnig in die pad sit, om hom te vat vir 'n lewensmaat moet jy wragtag desperaat wees. Middeljarige mans is almal 'n pyn in die gwar,” skryf Corrie Brits.

En Toya Martha Viljoen Maritz sê: "Daar is maniere om probleme te hanteer. 'n Mens verneder nie 'n persoon voor ander nie. Gaan hy sy vrou ook aanspreek voor ander mense? Ek voel hy is te baasspelerig. Sy manier of niks. Nee, wat. Hy is nie gemaak vir 'n verhouding nie. As sy wel te veel gedrink het, kon hy haar net uitgestem het. Nee, hy voel hy moet haar verneder.”

Maar al hierdie negatiewe kommentaar pla hom glad nie, vertel 'n laggende boer Johan Vrydagoggend vanaf sy plaas in Carolina, Mpumalanga. “Ek is 60 en ek kom al deur die lewe,” sê hy. “Jy leer langs die pad om jou nie aan ander te steur nie.”

Die kykers kan maar vies wees, sê Johan. “Want hulle weet nie wat agter die skerms gebeur het nie. Dit gaan oor baie meer as die wyndrinkery.”

Dan verklap hy hy het by die produksiespan en die ander vroue gehoor Christa het nie self haar brief geskryf nie; sy iemand anders gekry om dit te doen. Dit het hom gepla, want hy het haar en die ander juis gekies op grond van hul briewe, verduidelik hy.

“Dit het ook tot my ore gekom dat sy die aand in 'n hotel aan die Wes-Kus nie in haar kamer oornag het nie. Alles het net vir my daarop gedui dat ek haar nie kan vertrou nie.”

Toe hy vir Christa gevra het om die plaas te verlaat, het sy met die omdraaislag gesê: “Ek wou in elk geval nie hier gewees het nie”, vertel Johan. “Maar dit het kykers ook nie gesien nie.”

Dit is hoekom hy sê hul afbrekende kommentaar teenoor hom “vat nie 'n greintjie” aan hom nie. “Want hulle ken nie die waarheid nie.”

Christa het laat weet sy wil nie nou kommentaar lewer op Johan se bewerings nie. Sy win tans regsadvies in.