Maandagaand se episode van die kykNET-sitkom Elke Skewe Pot het nie net soos altyd kykers laat skaterlag nie; dit het selfs daarin geslaag om die sangers Bobby en Karlien van Jaarsveld se ma, Ronel Brink, vir haarself te laat lag.

In een van die tonele vra Marisa Drummond, wat Wilma de Bruin speel, die karakter Sandra Koekemoer (Franci Swanepoel) verskoning. Lulu van Heerden (Carien Botha) sit ook in die vertrek.

“Ek is jammer, Sandra, ek het dalk gisteraand ’n bietjie oorreageer.”

Sy was die vorige aand baie ontsteld nadat hulle aan ’n blitsafspraakgeleentheid deelgeneem het en sy steeds sonder liefde moet klaarkom.

Lula vra dan dramaties: “’n Bietjie? Nee, nee, nee. Derick Hougaard en tannie Ronel oorreageer op Twitter. Gisteraand was ’n volgende vlak maansiekte op steroïede.”


Genugtig. Daar hoor ek wragtag my naam......... ???????????????

A post shared by Ronel Brink (@ronelbrink1) on

In die program werk vier vroue in verskillende lewensfases vir ’n aanlyn diens genaamd Elke Skewe Pot. Hulle help ander mense hul pasmaat vind, al ontwyk ware liefde die vier.

Ronel, wat dié greep op haar Instagram-blad gedeel het, sê sy het lekker gelag daaroor. “Ek weet dit is sommer ’n geterg. ’n Mens moet die humor in goed kan sien. Soms lê daar groot humor in die grootste seer, en ’n mens moet dit kan insien. 

“Dit was binne konteks en ek het glad nie ’n probleem daarmee nie.”

Teen Vrydagoggend is daar al sowat 1 500 keer na die greep op haar Instagram-profiel gekyk.

Die aktrise Sandra Vaughn het daarby geskryf: “Bly jy kyk en geniet dié humorsin.”

Christiaan Baartman het ook van hom laat hoor en gesê: “Tannie Ronel, Tannie is nou volksbesit.”