Charmaine en die krulkop Willow voor die ongeluk.
Charmaine en die krulkop-Willow voor die ongeluk. Foto: Facebook

Dit was ’n rustige Woensdagaand tuis vir die jong gesin van Richardsbaai aan die noordkus van KwaZulu-Natal. 

Charmaine Fourie (21), ’n tuisteskepper, het omstreeks halfagt in die kombuis gestaan en vetkoek bak, terwyl hul seuntjie, Nico (6), en sy eenjarige sussie, Willow, in die omtrek was. 

Pa Donovan Kleinhans, Charmaine se verloofde en ’n bestuurder by die plaaslike slaghuis, het hul babadogter, Alexa, net gaan neersit en begin om solank badwater in te tap sodat Willow ná ete kon bad. Willow word in Augustus vanjaar twee jaar oud.

Maar die volgende oomblik het die jong ma se grootste nagmerrie waar geword. Binne ’n breukdeel van ’n sekonde het alles tot stilstand gekom toe klein Willow die gaspyp, wat aan die tweeplaatstofie op ’n kas gekoppel was, trek.

Die pot kokende olie en alles daarmee saam het van die kas getuimel voor Charmaine nog kon probeer keer. Die vuurwarm olie het oor Willow se kop en lyfie beland en haar broer raakgespat.

Willow moes in 'n stadium om haar lewe veg. Foto: Verskaf

“Al wat ek kan onthou, was die gille. Ek het net aanhou skree: ‘Donovan! Donovan! Donovan!’ ” onthou Charmaine nou die angswekkende aand van 31 Maart.

Sedert daardie aand het die gesin ’n lang, seer pad gestap met Willow wat altesaam 51 dae in die hospitaal moes deurbring. Sy sterk nou by die huis aan. Twee weke voor haar ontslag voorverlede Vrydag 21 Mei, moes sy ’n veloorplanting ondergaan aan die brandwonde aan haar kop.

Willow moes in ’n stadium om haar lewe veg. Foto:
Willow moes in 'n stadium om haar lewe veg. Foto: Verskaf

“Dit gaan baie beter met haar, maar sy verduur nog baie pyn. Die verbande is af, maar die wonde is nog rooi en jeuk baie. Sy is ’n baie besige kind, so dit is ’n aanpassing vir haar om nou rustig te moet wees!” vertel Charmaine.

Willow is eers na 51 dae ontslaan. Foto: Facebook
Willow is eers ná 51 dae ontslaan. Foto: Facebook

Dit was vir Charmaine baie moeilik om hul storie te deel. Mense se oordeel het haar veral ontstel. Maar noudat Willow tuis is, voel sy sterker om te praat oor die voorval wat hul lewe handomkeer verander . . .

“Ek weet nie hoe ek staande gebly nie. Ek is verbaas ek het,” vertel sy vandag.

Uitmergelende pad

Willow herstel van haar beserings in die hospitaal
Willow herstel van haar beserings in die hospitaal. Foto: Facebook/Bid vir Willow

Donovan het dadelik na die kombuis gehardloop. Saam het hulle die twee beseerde kinders na die stort gehaas en nat handdoeke om hulle gedraai.

“Nico het net bietjie op sy been gebrand, maar Willow het baie erg seergekry,” onthou Charmaine.

Net hoe seer sou sy byna heeltemal uitblok.

Dit was genade dat Charmaine se pa, Nico sr., naby woon, en dat sy vriendin se dogter, wat by hulle bly, ’n paramedikus is. Hulle het met Charmaine, Willow en klein Nico na die Ngwelezane-staatshospitaal in Empangeni gejaag. 

Hier is bepaal Willow het omtrent 25% van haar lyf gebrand. Haar beserings was veral erg oor haar kop, gesig, rug, arms en bene.

Willow herstel moedig. Foto: Facebook
Willow herstel moedig. Foto: Facebook

Klein Nico is nie ernstig beseer nie, en dieselfde aand terug huis toe. Willow was 13 dae lank in dié hospitaal, maar sy het ’n infeksie ontwikkel en haar toestand het teen die laaste dag drasties verswak. Sy is toe inderhaas na die Albert Luthuli-hospitaal in Durban, wat ’n pediatriese brandeenheid het, oorgeplaas. Hier het hulle haar met ’n ventilator ingewag.

Charmaine klink nog angsbevange toe sy vertel hoe die dokters en verpleegsters haar op die ergste voorberei het.

“Hulle het almal verskillende goed gesê . . . Hulle het nie geweet of sy dit deur die nag sou maak nie. Die een verpleegster het nog gesê hulle doen alles wat hulle kan. Al wat ons kan doen, is bid.”

Willow het ernstige brandwonde oor haar hele lyf h
Willow het ernstige brandwonde aan haar hele lyf opgedoen. Foto: Facebook

Maar Willow het deurgetrek en dit was nie nodig vir die ventilator nie.

“Dit het inteendeel van daar af net elke dag beter begin gaan.” 

In dié hospitaal kon sy haar kind net vir die eerste 10 dae besoek, en Donovan glad nie. Die verpleegsters het die bekommerde ouerpaar wel met video-opoepe en per WhatsApp op hoogte gehou, en Charmaine sal hulle ewig dankbaar wees.

Charmaine hou Willow rustig in die hospitaal. Foto
Charmaine hou Willow rustig in die hospitaal. Foto: Facebook

Charmaine vertel vir Donovan was dit veral sleg, aangesien hy sy kind in 51 dae net een keer kon sien. 

“Willow is baie pa-vas. Ek kon sien as sy net in die aand eers met hom kon praat, dan was sy rustiger.”

Donovan Kleinhans en sy dogter, Willow, is baie na
Donovan Kleinhans en sy dogter, Willow, is baie na aan mekaar. Foto: Facebook

Dokters het eindelik vel van haar bene geoes om op haar kop oor te plant. Die operasie was sover ’n sukses.

Maar Charmaine vertel wat gebeur het, het alles verander.

“Net hoe ons lewe, het verander. Willow kan nie meer buite speel nie, ons gaan nie meer naweke see toe nie. Sy moet weer in haar kot slaap . . . ”

Die besige bytjie, Willow. Foto: Facebook
Die besige bytjie, Willow. Foto: Facebook

Willow self weet nog nie werklik wat gebeur het nie.

“Sy kry nog soms nagmerries en wanneer mense na haar wonde kyk, raak sy emosioneel. Sy vat die heeltyd aan haar klein sussie se hare omdat sy so baie het, en sy nie.”

Charmaine vertel voor die ongeluk het Willow welige blonde rooi hare gehad. “Ek dink sy het maar baie trauma. Sy het vir die eerste 18 dae glad nie gepraat nie. Nou praat sy darem weer. Sy raak weer gewoond aan haar boetie en sussie.”

Vir hulle lê baie onvoorsiene uitgawes voor, en hulle gaan Willow nog gereeld vir opvolgafsprake na Albert Luthuli in Durban moet vat. Die niewinsgewende organisasie Hero Burn Foundation help die gesin om alles by te bring. Haar volgende afspraak is op 23 Junie.

“Ons moes reeds vir haar nuwe klere koop wat gemakliker is. Sy kan net katoen dra. Sy dra ook nog ’n splint aan haar arm wanneer sy slaap, en ek doen oefening met haar,” vertel sy.

Maar die ma is dankbaar. Dankbaar dat hulle so ver gekom het en vir Willow se gespeel en -babbel wat vandag weer in die agtergrond weerklink.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe