Dié sportafrigter en voormalige metropolisielid gaan teen sy vonnisoplegging appelleer. 

Volgens die polisie se woordvoerder, lt. kol. Thulani Zwane, is die man skuldig bevind aan seksuele aanranding op twee minderjarige meisies, die vervaardiging van kinderpornografie, seksuele voorbereiding van ’n kind, die besit van kinderpornografie en regsverydeling. 

Hy is in 2013 in hegtenis geneem nadat ’n kollega by ’n sportskool, waar hy 'n afrigter was, eksplisiete foto’s van ’n jong meisie gevind het. 

Huisgenoot het met een van sy slagoffers se ma gepraat. Haar dogter was een van die afrigter se studente.  

Ek was buite myself. Toe ek haar vra wat aangaan, was sy so bang om my te vertel.
Een slagoffer se ma

“Hy was soos ’n pa vir my kind en ek het geen rede gehad om hom nie te vertrou nie. Sy het goed gevaar op skool en was mal oor die sport,” sê sy. 

Sy het die kinderpornografie op die afrigter se foon gevind en haar kind op een van die foto’s herken. “Ek was buite myself. Toe ek haar vra wat aangaan, was sy so bang om my te vertel,” sê sy. 

Die ma vertel dit was 'n moeilike tyd. “Ek het geweet ek moet aanhou veg vir my kind. Ons is net bly dis amper verby,” sê sy. 

Ná die skuldigbevinding van die afrigter, sê sy: “Ek hoop almal sien nou ons het nie gelieg nie.”

Sy hoop haar kind sal die sportsoort weer in die toekoms beoefen en vertel sy was altyd mal daaroor. 

Sy wil met haar dogter na elders in die land trek en “die ding” agter hulle laat.

“Ek is op soek na ’n werk sodat ons iewers kan oor begin.” 

’n Datum vir die seksuele oortreder se appèl teen sy vonnisoplegging is nog nie bevestig nie. Hy is steeds op borgtog.