Die voormalige tennisafrigter Hayley Herman het in 2012 uitgevind sy het nierprobleme nadat sy X-strale en bloedtoetse vir ’n skouerbesering ondergaan het.

Die uitslae het getoon sy het nierversaking en hoë vlakke van kreatinien in haar liggaam, wat op verswakte nierwerking dui.

Nadat ’n spesialis in Howick haar eers verkeerd gediagnoseer het, het sy ’n allergiese reaksie op Vancomycin gehad, ’n antibiotika wat vir pasiënte met akute nierversaking voorgeskryf word.

“Ek het ’n ernstige velreaksie gehad,” sê sy.

“Dit was die sogenaamde “red man syndrome” – ’n seldsame allergie wat ’n rooi en opgehewe vel veroorsaak. Dit het my hele lyf laat opswel en ek het ook baie hare verloor.”

Eers in 2013 toe sy ’n ander spesialis, Dr. Siddique, besoek, het sy die regte mediese behandeling vir haar toestand gekry het.

Sy is in Oktober 2017 op die oorplantingslys geplaas en het ontdek dis baie moeilik om ’n geskikte nier te kry, want daar is net ’n paar beskikbare skenkers. Foto: Verskaf

“Dr. Siddique het al my medikasie verander en my op hemodialise (’n proses om die bloed te suiwer) geplaas.” 

Hayley was altyd ’n kranige sportvrou.

“Ek het 14 jaar lank beroepstennis gespeel en in toernooie in Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal deelgeneem, voor ek van 2009 tot 2010 aan bergfietswedrenne deelgeneem het,” sê sy.

Die dialise het R1 800 per sessie gekos en elke sessie het vier uur geduur. Die proses het haar uitgeput laat voel.

“Ek het drie keer per week dialise gekry. Dit was baie pynlik, veral die twee naalde wat vir die sessies in jou arm gesit word. 

“Pasiënte op dialise word ook tot 500 ml vloeistof per dag beperk.”

Hayley se toestand het haar ook emosioneel aangetas en veroorsaak dat sy dikwels verstoot en alleen gevoel het. 

“Dit was baie moeilik vir my ouers, want hulle het so hulpeloos gevoel. Dit was ’n moeilike tyd, want buiten my ma en pa het my familie my nie ondersteun nie,” sê sy.

Die dialise het R1 800 per sessie gekos en elke sessie het vier uur geduur. Foto: Verskaf

Sy is in Oktober 2017 op die oorplantingslys geplaas en het ontdek dis baie moeilik om ’n geskikte nier te kry, want daar is net ’n paar beskikbare skenkers. 

“Ek was drie maande lank heeltemal afgesonder by die huis ná my oorplanting op 2 Junie. Ek is steeds effens in afsondering en moet op openbare plekke ’n masker dra omdat ek altyd vir infeksie vatbaar is.”

Ná haar beproewing wil sy ander mense aanmoedig om skenkers te word.

“Orgaanskenkers is baie belangrik, want hulle kan tot nege mense se lewe red.”

“Dit is baie maklik om ’n skenker te word en dit kan aanlyn gedoen word. Besoek eenvoudig Orgaanskenkersvereniging of bel die tolvrye nommer by 0800 226 611.”