Sy het geen bang haar op haar kop gehad nie. Daarvan het die talle foto's op berge en kranse getuig wat die beeldskone Sofia Cheung (32) in die sosiale media gedeel het.

Min het sy geweet toe sy verlede Saterdag saam met drie vriende na die skilderagtige Ha Pak Lai-park naby Yuen Long in die Chinese streek van Hong Kong vertrek dat dit haar laaste uitstappie sou wees. Die park naby die Pineapple Mountain is ’n gewilde plek vir stappers, veral teen sonsondergang. Teen 17:00 het Sofia foto’s by die waterval by die Tsing Dai-stroom geneem toe sy gegly het en 5 meter na benede stort tot in 'n diep rotspoel.

Haar vriende het die nooddienste ontbied. Paramedici het op die toneel opgedaag en met haar na die Pamela Youde Nethersole Eastern -hospitaal in Chai Wan in Hong Kong gejaag, maar sy is met haar aankoms dood verklaar.


Sofia het met haar dood meer as 6 000 volgers op Instagram gehad. Op haar blad lys sy stap, kajak, verkenning, buitemuurse aktiwiteite en fotografie as haar groot passies. 

Op talle foto’s poseer sy by gevaarlike afgronde. By haar biografiese besonderhede skryf sy: “Die lewe moet prettig wees, nie dom nie.”

Op 9 Julie, 'n dag voor haar dood, het sy vir oulaas ’n foto gedeel – van haar met 'n geel lyfplank by 'n rivieroewer. Daarby het sy geskryf: “Beter dae kom nog. Dit word Saterdag en Sondag genoem!”

Talle Instagram-gebruikers het daarop kommentaar gelewer. Ellah_d_explorer het geskryf: “Ek het gedink daar kom beter dae met Saterdag en Sondag? Ek sal elke dag jou geselskap mis. Ek sal jou altyd liefhê. Rus in vrede, mooie Sofia.”