Johann Müller
Johann Müller. Foto: Verskaf

Hy was uit Potchefstrooom in Noordwes op pad om vir die wintervakansie by sy ouers op Ladismith in die Wes-Kaap te gaan kuier. Maar pleks van ’n blye tuiskoms moes Gert en Anna Müller Saterdag op ’n troosdiens van hul seun Johann (20) afskeid neem.

Die tweedejaarstudent aan die Noordwes-Universiteit het vroegoggend op 26 Junie op die N12 tussen Klerksdorp en Wolmaransstad verongeluk. 

“Ek was op die ongelukstoneel. Ek het sy koshuiskamer gaan ontruim. Ek het sy lyk gaan uitken in Klerksdorp,” vertel Gert Müller oor die foon vanuit sy tuisdorp naby Oudtshoorn.

Dit is die tweede seun wat hy en sy vrou, Anna, aan die dood afstaan. Hul oudste seun, Gysie, is in 1998 op negejarige ouderdom in ’n padongeluk oorlede. 

Maar die ouerpaar vind troos uit die mooi herinneringe aan Johann. “Dit was wonderlik om te hoor wat hy vir ander mense beteken het,” vertel Gert ná die troosdiens in die NG-kerk Ladismith wat ook regstreeks op die Facebookblad “Celebrating Johann Muller” uitgesaai is. 

“Ons het min geweet van die invloed wat ons kind op ander gehad het, want hy het nooit daaroor gepraat nie. Wie en wat hy was by die skool, in sport en nou ook by die universiteit, het uit die getuienisse van ander ons ore bereik.

“Hy het voluit geleef en alles moontlik gedoen wat sy hart begeer het,” vertel Gert oor Johann, wat vir 'n B.Com.-graad in forensiese geoktrooieerde rekenkunde studeer het en ’n inwoner van die koshuis Over-de-Voor was. 

Johan Müller saam met sy ouers Gert en Anna en sus
Johan Müller saam met sy ouers, Gert en Anna, en sussies, Lizanne en Christa (middel) op haar troue op 21 Sept 2019 op Ladismith. Foto: Verskaf

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.

“Ek kom hierdeur omdat ek Dinsdag op die ongelukstoneel was en vir Johann kon gaan haal het. Met ons vorige kind se noodlottige ongeluk moes my vrou en ander familielede alles hanteer, want ek was self by die ongeluk betrokke en in die waakeenheid,” onthou Gert.

Destyds het die bakkie gerol waarin hy en Gysie was nadat ’n band gebars het.

“Ek het gesukkel om met sy dood berusting te vind. En dit het nou weer gebeur. Wat kan 'n mens doen?” vra Gert. 

Benewens sy ouers laat Johann ook twee susters, Lizanne Müller (35) en Christa Niewoudt (25), van Bonnievale agter.

“Die een hou haar dapper en die ander een trek swaar,” vertel Gert oor sy dogters. Vir hom en Anna, hul dogters en die honderde mense wie se lewe Johann aangeraak het, sal hy altyd ’n inspirasie bly.

“Ons word getroos deur al die mense om ons; die steun wat ons kry en die getuienisse oor wat hy vir mense beteken het. Ek en my vrou het seker al oor die 1 000 boodskappe ontvang,” vertel Gert.

Een boodskap was ’n stempos van ’n koshuisvriend, Stefan le Grange, wat vertel hy was by toe Johann twee dae voor sy dood groot gedoop is.

“Dit voel asof ek klaar aan die voete van Jesus sit," het Johann toe vir hom gesê. Daardie aand in die koshuiskamer het hulle na Riana Nel se lied "Hou die hemel oop" geluister. Johann het gesê dit voel asof dit spesiaal vir hom geskryf is.


Tydens die troosdiens het Gert vertel dat sy vrou vir hom liedjies op sy foon gelaai het vir die langpad met sy trok, maar hy kon dit nooit in die hande kry nie. Maar toe hy by die lykshuis instap om Johann uit te ken, het die liedjie "Midnight Special" skielik kliphard uit sy foon opgeklink en  vir ’n ligter oomblik gesorg.

Nadat hy 'n vriend daarvan vertel het, het dié se vrou aanlyn navorsing gedoen oor die oorsprong van dié tradisionele liedjie uit die Amerikaanse Suide.

Gevangenes in Louisiana het dit glo gesing oor ’n trein wat snags verby die tronk gery en lig daar laat inskyn het. Dit het vir die mense agter tralies hoop gegee, net soos Johann in sy lewe talle kere lig vir gebroke mense gebring het.

Johann, ’n oudhoofseun van Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn, was van 16-jarige ouderdom ’n vrywilliger by kampe van die Royal Family Kids Africa vir mishandelde kinders.

Johann Müller
Johann Müller was hoofseun van Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn. Foto: Verskaf

“As jy wou weet waar Johann is, moes jy soek na waar ’n bal hop en ’n kind lag,” vertel Richard de Winnaar, wat sy troosdiens gelei het.

Johann Müller
Johann was meestal kaptein in al die sportsoorte waaraan hy deelgeneem het. Foto: Verskaf

Johann was vir baie kinders 'n held. Soos die seuntjie wat bang was om in ’n swembad te spring - tot Johann daar was om hom te vang. “Dis ’n seuntjie wat voorheen nie grootmense vertrou het nie.

“Mense het in Johann se voetspore gevolg en het by Jesus uitgekom. Waarheen volg jou voetspore?” het Richard tydens die diens aan die rouklaers  gevra.

Johann Müller
Johann Müller was van skooldae af bekend daarvoor dat hy op die sportveld gebid het. Foto: Verskaf

Op ’n skerm voor in die kerk is foto’s van Johann op die sportveld vertoon, telkens besig om by ’n rugby- of krieketwedstryd te bid.

Johann Müller, was van skooldae af bekend daarvoor
Johann Müller was van skooldae af bekend daarvoor dat hy op die sportveld gebid het. Foto: Verskaf

Hy het die Gimmies in sewesrugby en krieket op provinsiale vlak verteenwoordig.

Johann Müller
Johann Müller was van skooldae af bekend daarvoor dat hy op die sportveld gebid het. Foto: Verskaf

Onder sy leiding as kaptein is die Gimmies se T20-krieketspan as die SWD se skolekampioen in 2019 gekroon terwyl die skool se eerste krieketspan ook die SWD se o.19-Superligakampioenspan was. Onder sy kapteinskap het die Gimmies se eerste rugbyspan ook groot sukses behaal.

Johann het in sy koshuis en op universiteit as “Bishop” bekend gestaan, omdat hy diep gelowig was en baie mede-studente geestelik bygestaan het.

Sy ma, Anna, het in die kerk ’n brief aan haar seun voorgelees. Daarin vertel sy van die mes waarmee hy altyd geëet het een met ’n groen hef.

Sy kon nooit verstaan hoekom hy juis ’n groene wou hê nie. Nou besef sy die geestelike betekenis van groen is onder meer “nuwe lewe”,  “ewige lewe” en “groei” . Dit bring vir haar berusting.

“Johann, jy het ‘grootgeword’ in ons selgroep op Ladismith. Nooit het ons kon dink dat ons so ’n dag sou moes deurmaak nie. Jy gaan ’n leemte los op plekke waar jy beweeg het. ‘Hou die hemel oop tot ons kom’,” lui ’n huldebyk deur Mauritz Pretorius, een van tientalle op die Facebook-gedenkblad.

Johan Müller en sy sussies. Die een met die trouro
Johan Müller en sy sussies, Christa (regs) en Lizanne. Foto: Verskaf

Tydens die troosdiens is Johann se gunstelingteksvers voorgelees: Filippense 4:13: “Ek is tot alles in staat deur Jesus Christus wat my krag gee.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe