Maar voor hulle eindelik voor die kansel kon staan, was hulle sewe jaar lank in ’n langafstandverhouding wat beteken het hulle kon mekaar net sewe weke per jaar sien. 

Hendri Dippenaar, ’n lid van die Britse koninklike weermag, en Bianca Brandt, ’n mediese dokter van Somerset-Wes, was 10 jaar oud en albei gr. 4-leerders aan die Laerskool Anton van Wouw in Pretoria toe hul paadjies vir die eerste keer gekruis het. Hendri het die vorige jaar van ’n ander laerskool na dié skool geskuif. 

“Ons het van mekaar geweet, maar nooit regtig gesels voor ek een van my vriende gevra het om haar namens my te gaan uitvra nie,” vertel Hendri. 

Bianca het ingestem om met Hendri te kys.

“Maar twee weke daarna het sy haar vriendin gestuur om met my op te breek omdat ek blykbaar te vervelig was,” vertel hy laggend. 

’n Paar jaar later toe hulle in gr. 7 was, het die twee wéér ’n verhouding aangeknoop. “Hierdie keer het ek haar self uitgevra,” vertel Hendri verder. 

Die twee was sowat ses maande ’n paartjie, maar het aan die begin van hul gr. 8-jaar besluit om halt te roep omdat hulle in verskillende hoërskole was. “Vir die volgende vyf jaar het ons nie van mekaar gehoor of mekaar gesien nie,” sê Hendri.

Maar aan die einde van hul matriekjaar in 2012, toe albei klaar eindeksamen geskryf het, het hul paaie weer by ’n gewilde kuierplek in Pretoria gekruis. 

“Terwyl ek met vriende gesels het, het ek ’n oomblik afgekyk, en toe ek weer opkyk, kyk ek direk in Bianca se oë vas. Sy was besig om met ’n paar vriendinne te staan en gesels. 

“Ons het albei op die plek met ons gesprekke opgehou en direk na mekaar toe gestap. Die res van die aand, tot vroeg die volgende oggend, het ons met mekaar gesels en opgevang oor wat die afgelope vyf jaar gebeur het,” vertel Hendri. 

“Van daardie aand af het ek nooit weer opgehou om aan haar te dink en oor haar te droom nie.”

Sedert Mei 2013 was Hendri en Bianca weer in ’n verhouding. Maar ’n paar maande later moes hulle mekaar groet en was dit die begin van ’n sewe jaar lange langafstandverhouding. 

Bianca het in daardie stadium haar droom nagejaag om ’n dokter te word en medies aan die Universiteit van Pretoria studeer. Hendri wou nog altyd graag by die Koninklike Vloot (Royal Marines) in Engeland aansluit en het in Julie 2013 vir die eerste keer oorsee gegaan om met die keuringsproses te begin. 

Hendri en Bianca tydens haar gradeplegtigheid.
Hendri en Bianca tydens haar gradeplegtigheid.

“Hy was twee maande lank weg. Nadat hy alles deurgekom het, was hy weer vir ’n paar maande in Suid-Afrika voor hy vir die eerste keer drie en ’n half maande lank weg was. Sedertdien is hy elke keer drie en ’n half maande lank weg,” vertel Bianca. 

Hulle kon mekaar net twee of soms drie weke lank sien wanneer Hendri met vakansie was, in totaal sewe weke per jaar.

Bianca en Hendri in Londen toe sy tydens 'n vakans
Bianca kuier by Hendri in Londen.

Omdat hul paaie einde matriek, soveel jare later weer gekruis het, het Bianca en Hendri gevoel hulle is bedoel om saam te wees. Hulle het besluit om die moeilike tyd en groot afstand voluit aan te pak. 

“Ons glo nog altyd dat as jy deur ’n moeilik tyd gaan, jy sterker aan die anderkant sal uitkom. Ons het geweet dat as ons hierdie groot stap saam kan deurmaak, sal daar niks wees wat ons ooit nié saam sal kan aanpak nie,” sê Bianca. 

Hulle albei stem saam dat dit wel nie maklik was nie. Sy het die alleentyd gebruik om op haar studie te fokus. Die twee het ook seker gemaak hulle kommunikeer gereeld deur middel van die sosiale media en tegnologie soos Facebook, Skype en WhatsApp. 

“Ons het tot saam oor Skype fliek gekyk,” vertel Bianca. 

Hendri het elke maand wat hulle nie bymekaar kon wees nie, vir Bianca 'n bos rooi rose met 'n boodskap laat aflewer. "Elke keer op die 12de van die maand," vertel Bianca. "Dit rooi rose was 'n simbool dat sy liefde vir my nooit verander het nie en dat hy nie te besig vir my geraak het nie. Al was ons so ver uitmekaar."

Hendri het Bianca eindelik in Desember 2017 in Muldersdrift met ’n verloofring verras.

Maar dit was eers einde Februarie, ’n week voor hul troue in Maart, wat hul langafstandverhouding tot ’n einde gekom het.

En toe sy in ’n spierwit skouerlose trourok by die paadjie afgestap kom, kon Hendri nie die trane keer nie. 

Hendri en Bianca Dippenaar. Foto: Pritti by Migneo
Hendri en Bianca Dippenaar. Foto: Pritti by Migneon Marais.

“Toe Bianca ingestap het, het sy my asem heeltemal weggeslaan. Ek het glad nie gedink dat ek op die dag sal huil nie, maar ek het vir ’n oomblik alle beheer oor my gesigspiere verloor en kon die trane nie meer terughou nie. Sy het mooier gelyk as wat ek myself enigsins kon verbeel,” vertel Hendri oor hul troudag by Beloftebos, buite Hermanus. 

“Sy het my verras met haar instapliedjie wat vir ons albei nog altyd ’n baie spesiale liedjie is, "Fields of Gold" van Sting.”

Hendri het in sy formele vlootdrag, wat as “Blues” bekendstaan, getrou. 

“Bianca het geweet ek gaan dit dra, maar sy het my nog nooit van te vore in dit gesien nie,” sê Hendri. 

Die bruidegom maak gereed. Foto: Pritti by Migneon
Die bruidegom maak gereed. Foto: Pritti by Migneon Marais

“Om Hendri in sy Blues te sien en te sien hoe die trane van sy gesig af loop, was absoluut die hoogtepunt. Ons het lank gewag en hard gewerk om bymekaar uit te kom, en hy het vir my in sy uniform nes 'n regte prins gelyk,” sê Bianca. 

Bianca het haar rok by Vonve Bridal Couture in Joh
Bianca het haar skouerlose trourok by Vonve Bridal Couture in Johannesburg gekoop. Foto: Pritti by Migneon Marais

Hendri het in sy formele vlootdrag getrou. Foto: P
Hendri het in sy formele vlootdrag getrou. Foto: Pritti by Migneon Marais

Die twee skop vir eers nes in Somerset-Wes naby Kaapstad, maar hulle beplan om volgende jaar in Engeland te gaan woon, waar Hendri onder meer by die Koninklike Vloot-reserviste sal aansluit voor hy later sielkunde wil studeer en Bianca as ’n waarnemende dokter sal werk.

En hul wenresep vir ’n langafstandverhouding?

“Dis baie belangrik om te praat wanneer enigiets pla of ’n mens nie heeltemal oor iets saamstem nie. Dit is dan ook belangrik om na mekaar se uitgangspunte te luister, want selfs al baklei ’n mens daaroor, is dit belangrik dat julle albei weet julle word gehoor,” sê Hendri.

Bianca meen dit is belangrik om vriendskap eerste te stel. “Sonder dit kan ’n mens nie 'n verhouding bou wat hou nie, ’n mens sal nooit aan jou beste vriend kwaad wil doen nie.”