Estelle van Niekerk (26) van Lydenburg het Dinsdagmiddag vertel haar agt maande oue seuntjie, Ayden, is Maandag per ambulans na die Netcare-Rehabilitasie-hospitaal in Aucklandpark, Johannesburg oorgeplaas.

Dít kom nadat Ayden net meer as twee maande in die intensiewesorgeenheid van die Netcare Garden City-hospitaal daar naby moes deurbring ná die traumatiese gebeurtenis wat sy en sy ouers se lewe op hul kop gedraai het.

Klein Ayden het nog nie met sy aankoms by die reha
Klein Ayden het nog nie met sy aankoms by die rehabilitasiehospitaal geweet, wat aangaan nie. Foto: Facebook/EstellevanNiekerk

“Dit gaan oukei met Ayden. Hy weet wel nog nie wat om hom aangaan nie en was vandag baie huilerig . . . Ek kan sien hy registreer nog nie eens dat ek by hom is nie, maar hy haal nou self asem en hy is op geen medisyne nie. Dit is net die tragie wat hulle moet verpleeg,” het Estelle optimisties oor sy vordering vertel.

Baba Ayden in die Netcare Rehabilitasiehospitaal i
Baba Ayden in die Netcare Rehabilitasiehospitaal in Aucklandpark. Foto: Facebook/EstellevanNiekerk

Huisgenoot het vroeër berig daar is eers vermoed klein Ayden het op 6 Mei in die sorg van sy ouma by hul huis in Lydenburg aan ’n stuk biltong verstik.

Sy het dié biltong vir tandesny vir hom by ’n plaaslike apteek gekoop. Toe dit lyk asof Ayden begin verstik en ophou asemhaal, het sy en sy pa, Sarel Nortjé (35), albei dadelik gedink ’n stuk van die biltong het in sy keel beland.

Toe hy per helikopter van hul plaaslike huisdokter na Garden City oorgeplaas is, het nog kleiner toevalle gevolg.

’n Neuroloog het sowat ’n maand later aan hulle bevestig daar hét biltong en kos in sy keel beland, maar nie omdat hy daaraan verstik het nie.

Die skade aan sy brein het getoon Ayden het vermoedelik ’n massiewe toeval gehad. Dít het tot verskeie ernstige komplikasies, waaronder hartverlamming en ’n gebrek aan suurstof, gelei.

Ayden van Niekerk voor die voorval. Foto: Verskaf
Ayden van Niekerk voor die voorval. Foto: Verskaf

Estelle vertel in dié stadium het hulle steeds baie vrae, wat hopelik in sy tyd in rehabilitasie beantwoord sal word.

Die grootste hiervan is wat die toekoms vir Ayden en hulle as gesin sal inhou. Sover kon toetse ook nog nie lig op die oorsaak van die epileptiese toevalle werp nie. Hy het dit nog nie weer gekry nie.

“Daar moet nou dié week evaluerings gedoen word oor wat sy behandeling alles sal behels en hoe lank hy moontlik in rehabilitasie sal wees,” sê Estelle.

Sy vertel hy sal elke dag onder meer fisio- en spraakterapie ontvang. 

Baba Ayden in die Netcare Rehabilitasiehospitaal i
Baba Ayden in die Netcare Rehabilitasiehospitaal in Aucklandpark. Foto: Facebook/EstellevanNiekerk

“Daar is ook ’n heeltydse dokter wat gaan probeer bepaal wat die toekoms sal inhou. In Garden City het die neuroloog ons op die ergste voorberei. Aangesien Ayden 20 tot 25% van sy brein se volume verloor het, dink hy hy gaan nie ’n kinderlewe hê nie. Hy dink hy sal altyd van ons afhanklik wees . . .”

Estelle laat egter nie toe dat dit haar ontstel nie. Sy glo dit ook nie.

Estelle van Niekerk is verlig haar baba kan eindel
Estelle van Niekerk is verlig haar baba kan eindelik met rehabilitasie begin. Foto: Facebook/EstellevanNiekerk

“Die pediater sê weer dit is dié dokter se werk om ons op die ergste voor te berei. Hy meen Ayden kan regkom met tyd, omdat hy nog so klein is. Hy hét dit al voorheen gesien.”

Met hul eerste dag by die rehabilitasiehospitaal het daar reeds ’n verstommende ding met ’n ander kind gebeur.

“Daar was ’n 11-jarige meisie wat sover so lank in die rehab was soos wat Ayden in intensief was. Toe sy daar aangekom het, het die dokters ook gesê sy sal verlam wees. Hulle het gesê sy sal nooit kan loop of praat nie, maar ek dink God se seëning was net oor haar om nog ’n dag te bly . . .

“Toe ek haar vandag sien, het sy gepraat en sy was op haar selfoon doenig. Sy het haar arms en bene beweeg. Dit sal sekerlik nog tyd neem vir haar om te leer loop, maar sy is nie verlam nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe