Estelle (26) se babaseuntjie, Ayden, is in die hoësorgeenheid van ’n Johannesburgse hospitaal nadat hy verlede Donderdag aan ’n stuk tandsny-biltong verstik het.

Haar baba is met ’n helikopter vanuit hul tuisdorp, Lydenburg in Mpumalanga, na die Garden City-hospitaal in Johannesburg geneem, waar hy steeds in ’n koma is, vertel Estelle, wat by haar babaseun se bed waak. 

Sy was by die werk toe die voorval plaasvind, vertel sy. “Hy bly deur die dag by sy ouma. Sy het vir tandesny vir hom ’n stuk biltong, wat jy by apteke se baba-afdeling kan koop, gegee om aan te suig,” sê Estelle.

Baba Ayden is steeds in die hospitaal. Foto: Faceb
Baba Ayden is steeds in die hospitaal. Foto: Facebook

“Maar ’n stuk van die biltong het in sy lugpyp vasgesit.

“Hy het daarna Purity-babakos geëet, wat verdere druk in die lugpyp veroorsaak het en hy kon toe nie asemhaal nie." Hy was moeilik en het vreemde geluide begin maak. Hy kon hoor hy sukkel om asem te haal. Sy pa het toe gesien sy lippies raak blou en hy het na asem gesnak. Hy het hom probeer mond-tot-mond gee.”

In haar werk se etenstyd het sy huis toe gehaas. “Toe ek daar kom, het my bure vir Ayden en sy pa na die dokter se spreekkamer in Lydenburg gejaag. Hulle het toe die helikopter laat kom.” 

Estelle en haar baba, Ayden. Foto: Facebook
Estelle en haar baba, Ayden. Foto: Facebook

In die helikopter is hy onder verdowing geplaas. “Omdat die brein vir ’n rukkie nie suurstof gekry het nie, het dit druk op sy brein geplaas. Vir die druk om af te gaan na normaal is hy onder verdowing gesit,” sê Estelle. 

Hy gaan onder verdowing wees tot die drukking op die brein na normaal terugkeer, sê sy. “Ek weet nie vir hoe lank dit gaan wees nie. Ons wag nou vir die breindrukking af te neem.”

Estelle sê daar is eers gedink haar kind het 'n epileptiese aanval gekry. “Maar sy keelpypie is skoongemaak en hy het beslis verstik.” 

Moedersdag was nie vir haar maklik nie, sê Estelle. “Dis my eerste kind en hy is mamma se seuntjie. Moedersdag het ek in die ICU deurgebring. Ons sukkel, maar ons bly bid en hoop vir die beste. Ek sal dit nie vir enige ouer toewens nie.” 

Ek sit vanaand hier in n wag kamer en dit voel of die mure al kleiner word terwyl ek wag om my klein lyf wat daar le in...

Posted by Estelle Van Niekerk on Friday, 7 May 2021

Sy is wel baie dankbaar vir die mooi boodskappe en bemoediging wat sy op sosiale media kry.

“Ek waardeer elke gebed,” sê sy.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe