Nantes de Lange (32) was verlede Saterdag saam met ’n klomp vriende by Luiperdskloof, ’n ontspanningsarea sowat 40 km buite Bronkhorstspruit, toe hulle besluit het om van ’n 34 m hoë krans in die rivier in te spring. 

“Daar was sowat ses mense wat van die krans afgespring het. Nantes het laaste gespring,” sê ’n anonieme bron wat op die toneel was. 

Die groep het sowat 16:00 die middag van die krans gespring. 

“Nantes het afgespring en hy het nooit weer opgekom nie.” 

Reddingswerkers het tot die volgende dag na Nantes
Reddingswerkers het tot die volgende dag na Nantes gesoek. Foto: Verskaf

Die polisie se soek-en-reddingspan sowel as die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is ontbied om na Nantes te soek. 

“Die soektog het tot die volgende oggend geduur en die rivier is stroomaf gepatrolleer vir enige tekens van hom.” 

Soekspanne het die volgende oggend om 09:00 sy lyk sowat 10 m van waar hy gespring het, gevind. 

“Daar is geen teken dat hy iets gebreek het behalwe sy ribbes nie. Die oorsaak van die dood is interne beserings,” sê die bron. 

’n Vriend van Nantes wat ook van die krans afgespring het, is ernstig beseer en het sy rug op drie plekke gebreek. 

Hy is na die Mediclinic Muelmed in Pretoria geneem. 

Terence Opperman, Nantes se swaer, sê hulle is hartgebroke. 

“Nantes was ’n waaghals. Hy was mal oor motorfietse en was ’n groot terggees.” Nantes het aan die Crusader Motorbende op Emalahleni behoort. 

“Mense spring gereeld van die krans af. Niemand het gedink dit sal gebeur nie.”