Agt verdiepings bokant die grond met die lieflikste, panoramiese uitsig oor die golwende groen heuwels, foreldamme en strome van die Laeveld. Smaaklike restaurantkos wat na jou toe aangedra word en ander mense wat rondskarrel om te sorg dat jy het wat jy nodig kry. Jy kan letterlik net die dae om sit en staar . . . Dis presies wat die 52-jarige Vernon Kruger doen.

Maar dink gerus twee keer voor jy dalk met hom wil plekke ruil. Om stoksielalleen in ’n beknopte vaatjie bo-op ’n bloekompaal te woon, sit nie in elkeen se broek nie.

Dat Vernon sy sit ken, is gewis. Hy het immers in 1997 al ’n Guinness-wêreldrekord opgestel met dieselfde toertjie. Niemand het ooit sy rekord van 67 dae in ’n vaatjie meer as 20 m bo die grond oortref nie. Toe besluit hy om dit self te doen . . .

Foto: Lubabalo Lesolle
Foto: Lubabalo Lesolle

En hier staan ons nou en opstaar na hom waar hy hoog bo die bekoorlike strate van die toeristedorp Dullstroom sit – die einste dorp waar hy byna 23 jaar gelede sy oorspronklike rekord losgesit het.

En hy het duidelik nie sy slag verloor nie. Kort voor Huisgenoot se saktyd het Vernon reeds sy eie rekord met sewe dae verbeter. Hoekom dan nog daar bo bly sit? Verlang hy nog nie na Moeder Aarde nie?

“Dis eintlik heel oukei hier bo,” verseker hy ons oor die tweerigtingradio waarmee hy met mense op die grond gesels.

Foto: Lubabalo Lesolle
Vernon sit in die klein vaatjie wat nou weke lank sy “huis” was. Foto: Lubabalo Lesolle

“Ek het ’n wonderlike uitsig op die dorp!” Maar bowenal, beklemtoon Vernon, gaan hy seker maak dat niemand hom van sy troontjie as koning van die paalsitters afstamp nie. Sit sal hy dan eerder nóg sit.

Dit was omtrent ’n gedoente toe Vernon op 14 November verlede jaar sy intrek hier bo Dullstroom se munisipale parkie geneem het. Omtrent 100 mense het kom kyk, onthou die dorpsmense. Die toeskouers was doodstil en gespanne terwyl ’n helikopter stadig nader aan die vaatjie gehang het wat van die grond af so onmoontlik klein lyk.

Maar toe Vernon veilig uit die helikopter in die vaatjie laat sak is, het almal hardop gejuig en hande geklap. Kyk jy lugwaarts sien jy maklik Vernon se ongewone dakwoonstel raak. Dis eers wanneer jy nader kom en grondwaarts kyk dat jy die tent langs die paal sien.

Foto: Lubabalo Lesolle
Iona Kruger, Vernon se ma, vorm deel van die logistieke en praktiese span. Foto: Lubabalo Lesolle

Daar ontmoet ons Vernon se ma, Iona Kruger (83). Sy is Vernon se “ground crew en support team”, vertel Iona laggend. En sy “kommunikasiebeampte”, want kort-kort stop motors en busse met toeriste om foto’s te neem en uit te vra.

Die bloekompaal is 25 m lank en 3 m diep in die grond geplant; stewig met ysterkabels geanker. En die leefruimte? As Vernon regop in die eikehoutvat staan, steek hy halflyf uit. Die omtrek is nie groot genoeg vir hom om uitgestrek te lê nie en slaap is daarom maar ’n ongemaklike storie.

Foto: Lubabalo Lesolle
Wanneer hy slaap, moet hy hom in ’n fetusposisie opkrul – dit vat aan ’n man. Foto: Lubabalo Lesolle

In ’n stil oomblik roep Vernon sy ma oor die tweerigtingradio en vra sy moet water opstuur. Sy sit ’n botteltjie in die emmer langs die paal en Vernon hys dit met ’n tou en katrol. ’n Halfminuut later kom die leë emmer terug ondertoe. Hy hys die emmer sowat 40 keer per dag op, vertel Vernon oor die radio.

En sy badkamerdinge? Daarvoor gebruik hy die pyp wat uit die bodem van die 500-liter-wynvat na ’n ondergrondse septiese tenk lei. Swaartekrag doen die res . . .

Vernon en sy ma het ’n betreklik vaste daaglikse roetine. Saans slaap sy in die Old Transvaal Inn op die dorp, wat haar verblyf borg. Vernon lê opgekrul in sy vaatjie. “Maar elke oggend klokslag om sesuur is sy hier,” vertel Vernon.

“Teen daardie tyd het ek reeds my bondel beddegoed en matrassie grond toe gestuur. Ons sal eers ’n bietjie oor die radio gesels, dan stuur sy ’n fles met koffie op.

“Daarna hys ek ’n vyfliterbottel met warm water op sodat ek kan was, tande borsel en skeer. “My ma het al vir my gevra hoekom skeer ek, ek kan mos nou ’n baard groei. Maar nee, ek hou nie van ’n baard nie! My toiletries hou ek hier bo by my, in die swart krat wat aan die buitekant van die vaatjie hang,” verduidelik hy.

Foto: Lubabalo Lesolle
Foto: Lubabalo Lesolle

Agtuur soggens is dit oefentyd. Vir ’n halfuur doen hy strekoefeninge en hardloop op een plek in sy vaatjie. Daarna eet hy en sy ma “saam” ontbyt: hy daar bo en sy daar onder langs die paal. Die eetplekke in die dorp voorsien om die beurt vir hulle drie gratis etes per dag.

“Almal in die dorp staan saam in hierdie rekordpoging,” sê Fiona Jones. Sy is ’n vennoot van Dullstroom Accommodation, wat verantwoordelik is vir die logistieke reëlings vir dié nuwe sitrekord.

“Mense vra my dikwels of ek nie verveeld raak om net so te sit nie,” sê Vernon. “Nee, ek is eintlik glad nie verveeld nie. Daar is so baie dinge om te doen. Ek gesels elke dag met die mense wat hier onder kom inloer. Ek gesels met mense op Facebook. Daar is baie onderhoude met die Suid-Afrikaanse en oorsese media. En ek lees artikels op my selfoon oor dinge waarin ek belangstel, soos diepseeduik.”

Iona vertel mense vra gereeld “hoeveel duisende rande maak hy om daar bo te sit”. Nie eens ses rand nie, antwoord sy dan. Die sowat R60 000 wat hulle tot dusver deur toeristeskenkings ingesamel het, gaan als aan die Belfast-kinderhuis en Epilepsie Suid-Afrika se Mpumalanga-tak.

Foto: Lubabalo Lesolle
Sy gesels met haar seun oor die tweerigtingradio. Foto: Lubabalo Lesolle

“Maar my mikpunt was eintlik R100 000,” sê Vernon. “Kinders lê my baie na aan die hart.”

Sy vaatjie is heel gerieflik behalwe vir die slapery, gee hy toe. “Ek krul my op in ’n fetusposisie, of ek lê met my bene regop teen die vaatjie gestut. Ek sal nou nie eintlik sê dit is gemaklik nie . . . Die vat is maar iets soos 120 cm hoog en 90 cm wyd.”

Die uitsig daar bo is wonderlik, maar die elemente kan dinge vir jou moeilik maak. Vernon vertel sy ergste ontbering was in Desember, toe dit vir ’n paar dae aanmekaar gereën het. Die vaatjie is gewoonlik oop, maar vir slegte weer het hy ’n koepelvormige dakkie van deursigtige plastiek wat hy kan ophys.

Foto: Lubabalo Lesolle
Iona sit ’n ligte middagete (wat ook nie veel weeg nie) in die mandjie wat hy dan ophys. Foto: Lubabalo Lesolle

“Ek moes vir drie, vier dae net onder my dakkie sit sonder om uit te kom!” In daardie tyd het hy ook groot geskrik, vertel Iona. “Die donderweer was een aand sommer báie erg en ’n weerligstraal het hiér naby aan die paal geslaan. Die volgende oggend sê Vernon toe hy het gedink dit was sy laaste nag op aarde.”

Hy mis sy kinders, ’n seun en dogter, “verskriklik baie”, vertel Vernon. “Ek wens so hulle kon hier wees om te sien wat ek doen. Maar dit het nou nie so uitgewerk nie, want ek gaan deur ’n baie, baie moeilike tyd in my huwelik.”

Wat gaan hy heel eerste doen wanneer die helikopter hom uit sy vaatjie kom haal en hy weer vaste grond onder sy voete voel? So ’n paar draaie hardloop, antwoord hy, “net om te kyk of ek nog kan hardloop!” En ’n lang, warm stort voor hy hom op ’n sagte en snoesige bed gaan uitstrek. En daardie nagrus sal ekstra soet wees, danksy die wete dat sy wêreldrekord nou veilig is en hy dalk ’n verskil in die lewe van baie kinders kon maak.