Sê jy in Kaapstad die woorde “Dag Zero”, rek Kapenaars se oë groot.

Of die dag dat die Moederstad se krane leegloop, wel sal aanbreek, is nog onduidelik, maar die stad se inwoners skarrel vervaard om voorbereidsels vir dié gevreesde dag te tref.

Ná Dag Zero, in dié stadium na verwagting 11 Mei, sal inwoners volgens die stadsraad moet toustaan vir water – net 25 L per dag vir elkeen.

Maar terwyl Kapenaars hulself nou eerder met ’n waslappie afvee as om te stort en by die kwota van 50 L waterverbruik per persoon per dag probeer hou, begin die kwinkslae ook deurskemer.

Net omdat die reën wegbly, beteken dit nie hul humorsin droog op soos die Theewaterskloofdam se water nie!

Huisgenoot het by ’n paar grapjasse gaan inloer om ’n snaakse silwer randjie vir die (ontwykende) donker wolk te soek.

Soli Philander

Die groot ding om te vermy, sou ek dink / Is daai aantyging “bo blink, maar onder stink” / En dis tog so onaangenaam om te eet of drink / As iemand anders se klank vir jou wink

Veral wanneer dit ruik na uie / Of daai soet, bitter bossiekruie / Tydens een van ons vele sonbuie / In taxi, bus of op trein gesardientjie in rye

Dis nou waar armoede en swaar grootword jou baat / Want bad en stort en selfs kraan het jy nie gehad / En kommetjie-was, die cowboy-splas / As kuns kom nou nuttig te pas

En los maar die outjie wat sukkel om te was / Tensy hy die dag deurbring met ander in fabriek, kantoor of klas / Swetend onder werkklere, uniform of das / Sy geur ’n bietjie taai, ongetemd, kras

En deel maar die les wat mens so vroeg leer / Jy kan nie daai wildgeit met roll-on toesmeer / Of wegspuit al spray jy hoeveel keer / Vir party goed is seep en water die enigste verweer

En is jy iemand – gelukkig nie ekkie – / Wat ’n kamer kan leegmaak as jy begin losmaak aan jou tekkie? / Ek dra nou nie name-lekkers nie – ek issie gekkie – / Maar enige vrot tekkie maak ’n groot spasie ’n klein plekkie

Gelukkig met hare was is dit ’n heel ander storie / Kyk, in die Kaap is jou haarstyl mos jou glorie / So van hare natmaak wil niemand regtig hoor’ie / So daar gaan ons by besparing nie so baie verloor’ie

Want al word daar hoe ge-blow en ge-rinse / Ons is skaam vir water as gevolg van daai minagting vir hoe dit hare laat mince / Die swirlkous en doekie ’n waterlose kuns / Die dreadlock en weave ’n waterlose guns

Die een ding wat ons nie kan sonder / Is seker maak dit ruik nie daar onder/ Maak maar die opoffering sonder om te wonder / Want ’n klankie van daar kan nogal jou lewe oordonder!

Esther von Waltsleben

‘ “Mooiweer” is as dit onophoudelik gaan reën – soos moesonreën . . .’

Op die onwaarskynlike reëndae pak ek die vuil skottelgoed op die grasperk uit.

Die genoemde grasperk lyk meer na strooi as gras – behalwe die klein groen kol rondom die wasgoeddraad. Amerikaanse toeriste kan dalk crop-circle-teorieë ontwikkel oor die agterplase in die Wes-Kaap.

Om nie te praat van die argeoloë wat eendag hier gaan opgrawe en wonder oor al die bakstene in die toilette se spoelbakke nie.

Ek het rooskwarts in myne gepak om die goeie vibes te probeer behou.

Dit kry my onder dat die mense wat die weerberigte oor die radio lees nog praat van “mooiweer en warm”.

Nee! Moenie vir my sê dit gaan “mooiweer” wees as jy verwys na die son wat versengend uit ’n blou lug skyn sonder ’n enkele wolk in sig nie.

“Mooiweer” is as dit onophoudelik gaan reën – soos moesonreën vandat ek wakker word tot ek weer gaan slaap.

Dis tyd om aan te pas. Ruil jou koeie vir kamele. En wingerdstokke vir dadelbome.

Jack Parow

Ek vries nou Coke en gebruik dit as ysblokkies in my brandewyn-en-Coke.

En actually...ek verstaan nie hoekom mense dit nie nog altyd doen nie, want dan raak jou Coke nooit afgewater nie.

Ek drink nou baie meer bier wanneer ek dors word.

Jägermeister is ook ’n goeie plaasvervanger vir water.

Dis eintlik nie vir my so ’n groot aanpassing om minder water te gebruik nie aangesien ek klaar so groot op die verversings was...

Marion Holm

‘Vrou en man kan nou sonder baklei die toilet gebruik; dit pong te veel dat ’n mens nié die deksel sal afslaan nie’

Kyk, die droogte in die Kaap is geen grap nie, glad nie, maar my humorsin het nog nie opgedroog nie.

Hier is die positiewe dinge:

  • Jy hoef nie elke dag hare te was nie!
  • Vrou en man kan nou sonder baklei die toilet gebruik; dit pong te veel dat ’n mens nié die deksel sal afslaan nie.
  • Die water is op, so daar is geen koffie of tee nie. Al wat oorbly, is wyn.
  • Ons almal het nou al oor die jare heen altesaam 39 348 746 houertjies waterless hand sanitizer present gekry – wel, hier is nou die kans om dit te gebruik!

Conrad Koch

(in die gedaante van sy handpop, Chester Missing) Die droogte is so erg dat ’n mens jou naam na Jojo Tenk moet verander om ’n werk in die Kaap te kry.

Gryswater is ’n bate in Kaapstad.

Dit is nou soos geld: Jy kry twee Chappies-kougomme vir ’n liter gryswater.

Dan kan jy dalk op die Chappies-papiertjie se binnekant lees as politici hul werk gedoen het, sou ons nie nou dié krisis gehad het nie.

Ek is gelukkig ’n handpop, so ek stort of poef nie.

Schalk Bezuidenhout

Ek het onlangs gehoor die Kaapse middestad se krane gaan nie toegedraai word nie.

Dit suig vir Bellville. Grap maar net!

Mense in die stad moet nou nie op hul louere rus net oor ons water nie afgeskakel gaan word nie.

Hou aan spaar. En moenie vergeet van mense in die Kaap wat al hul hele lewe lank op Dag Zero leef nie.

Geen lopende water nie. Geen spoeltoilette nie.

Ek het ’n emmer in my stort. Ek hou ’n waterbottel in my toiletbak. Ek is eintlik nooit in Kaapstad nie omdat ek nou baie in Johannesburg werk – maar ek dink tog dit help.

Dowwe Dolla

‘Kry botoks onder jou arms, genuine, dan sweet jy glad nie’

Ek sien altyd die silwer randjie, al is daar deesdae min reënwolke in die Kaap.

In ons huis het die waterkrisis tot die volgende gelei:

  • Verpligte varkie-aande: Jy reinig net jou voet, jou boud en jou mond en gebruik drie verskillende wet wipes.
  • ’n Goeie verskoning om onwelkome binnelandse kuiergaste weg te wys.
  • Vir Krismis het ek vir al my Kaapse familie water as geskenk gegee: ’n voucher vir ’n vinnige stort.
  • Ons werk almal spaarsamer met water, sommer ook my familie in die res van die land. My niggie Sally sê hulle het voorkomend opgetree deur dié somer een van die bane in Brakpan se munisipale swembad te sluit. Dis flippen slim.
  • Nig Sally het nog ’n slim tip gegee: Kry botoks onder jou arms, genuine, dan sweet jy glad nie.
  • Intussen gaan ek ’n brief skryf aan een van die boere in Boer Soek ’n Vrou. Dit was mos Kleopatra wat so lekker in melk gebad het. Dolla is desperaat; ek sal selfs ’n boer Johan vat, solank hy net met koeie boer...
FOTO'S: PEET MOCKE, PAPI MORAKE, SARAH ISAACS, ROBERT HAMBLIN, FACEBOOK