Michael, wat halsstarrig geweier het om ná agt jaar uit sy ouerhuis in Camillus, New York, te trek, is allesbehalwe lui wat planne beraam betref.

Hy is nou besig om uit te werk wat hy met sowat R5,4 miljoen gaan doen. Dit is geld wat hy glo sal ontvang ná ’n hofsaak wat op 19 Junie 2017 teen ’n gewese werkgewer, Best Buy, aanhangig gemaak is.

In dié stadium bly Michael in ’n Airbnb in Syracuse. Gratis, in ruil vir hulp met die oprig van ’n heining vir die eienares, Fern Mills.

Hy bring sy tyd hoofsaaklik deur deur vir die hofsaak teen Best Buy voor te berei. En hy is optimisties oor die uitslag; hy glo hy “gaan nie juis iets hê om oor bekommerd te wees” na afloop daarvan nie.

Hy beweer hy sal ’n huis van tussen sowat R675 000 en R810 000 kan bekostig wanneer die eis uitbetaal word.

“Ek kan ook ’n deeltydse werk iewers kry en sowat R324 000 per jaar daarmee verdien.”

Etenstyd

Volgens Michael het sy ouers in Desember 2017 opgehou om hom "te voer".

“Ek het nou vir ’n lang tyd my eie kos aangekoop en begin maak,” sê die bebaarde jongeling wat graag op sy kanariegeel fiets kerjakker.

Terwyl hy hoenderporsies in sy kamer probeer berei, is dit duidelik Michael het nie ’n idee wat kos maak betref nie. Die aangewese 10 minute wat dit volgens aanwysing duur om die hoenderborsies gaar te maak, is volgens hom hopeloos te lank.

'Dis nie my skuld nie'

Michael vaar uitstekend in die blaam-speletjie. Dis alles Best Buy se skuld dat hy nou is waar hy is. O ja, en natuurlik die media, want nadat sy uitsetting uit sy ouerhuis deur ’n regter bekragtig is, beweer hy hy het ’n baie groot kliënt verloor in sy inligtingstegnologie-onderneming.

Dit keer hom egter nie om geld uit televisieoptredes te maak nie.

Een van die werklikheidsreekse waarin hy verskyn het, is die Alex Jones Show. Hy is sowat R40 500 aangebied om hom op die been te help bring. Maar hy wou nie Alex Jones se beweerde werkaanbod as televisieverslaggewer aanvaar nie.

“Ja, dis geld, maar ek vaar oukei.”

Die hofsaak teen Best Buy

Die man wat op sy ouers se nek gelê het, voer aan daar is teen hom as (manlike) enkelouer op geslagsgelyke vlak gediskrimineer. Hy beweer vroue wat enkelouers is, word beter as hy behandel.

Maar Best Buy sê hy het van die werk gedros. En boonop wou Michael ook nie by geleentheid oor naweke werk nie.

Ouers keelvol

Op 2 Februarie vanjaar het sy ouers, Christina en Mark Rotondo, besluit dit is nou genoeg.

Dis tyd vir die bebaarde kuiken om die nes te verlaat nadat hy die afgelope agt jaar by hulle gewoon het. ’n Hoflike geskrewe nota waarin hy kennis gegee word om die gesin se huis binne twee weke te ontruim, is met minagting hanteer.

Op 13 Februarie het die hoflike versoek by die venster uitgewaai en Michael is skriftelik in kennis gestel dat hy onmiddellik uit sy ouerhuis geskop word.

Maar bloed is soms dikker as water, al is dit stilstaande water.

Christina en Mark het hom sowat R14 850 aangebied om hom in staat te stel om ’n ander blyplek te vind. En sy ma was gewillig om hom te help soek. Vergeefs.


Terwyl Michael sukkel om ’n vinger te lig om sy ouers te help of ’n werk te soek, het hy wel daarin geslaag om regsadvies in te win. Dit het hom ’n ekstra 30 dae tot 15 Maart in sy ouerhuis besorg.

Die dae het gekom en gegaan, maar Michael het nie beweeg nie. Uit radeloosheid het die ouerpaar hulle tot die hof gewend.

'Ek was te besig'

In ’n vermetele wending het Michael vertoë in die hof gelewer waarin hy sê sy ouers het nooit enige bydrae verwag van hom tot die huishoudelike uitgawes, take in die huis of om te help met die instandhouding daarvan nie. Hy’t “maar net daar gebly en was te besig om werk te soek,” het hy die hof ingelig.

Regter Donald Greenwood het op 22 Mei net ’n halfuur nodig gehad om sy uitspraak te lewer: Michael moet sy ouerhuis teen 1 Junie ontruim.

Michael se reaksie? “Ek moet bokse begin pak om te trek. Maar ek moet vir die bokse betaal, en dit kan ’n probleem wees.”

Hy wou ses maande langer in die huis aanbly, maar regter Greenwood het duidelik genoeg gehad van Michael se planne.

Michael was woedend na afloop van die hofsaak en het in die rigting van ’n moontlike appèl begin praat.

Hy dink nie versoening met sy ouers is ’n moontlikheid nie. Michael het sy seun glo op 26 September 2017 vir die laaste keer gesien en sedertdien nie enige poging aangewend om hom weer te sien nie.

Bronne: nypost.com, syracuse.com, foxnews.com, cnycentral.com