In die grusame beproewing, wat vermoedelik ’n brandstigting-aanval was, het Leigh Jansen (42) derdegraadse brandwonde aan haar gesig en bolyf opgedoen.

Ná 34 dae in die Tygerberg-hospitaal is Leigh eindelik op 2 Julie ontslaan. Sy sterk die afgelope maand aan in haar woonstel in Southfield, ’n suidelike voorstad van Kaapstad.

“Emosioneel is ek baie op en af, want elke dag verskil,” het Leigh gesê toe ons inloer om te kyk hoe dit nou met haar gaan. 

“Snellers van die voorval is volop. Ek het nog nie die opsie van ’n berader oorweeg nie, want ek hanteer eers die fisieke kwessies van die aanval.” 

Leigh het twee veloorplantings tydens haar verblyf in die hospitaal ondergaan. Die eerste een is uitgevoer nadat sy pas van die ventilator af gekom het en die tweede drie weke later.

Liggaamlik voel ek soos ’n ouma. My pas in alles wat ek altyd gedoen het, is nou verskriklik stadig

Vel is van haar regterbobeen geneem en gebruik om die vel aan haar gesig en nek te vervang. 

In Junie, toe Huisgenoot die eerste keer gepraat het met haar ma, Ursula Schenker (65), het sy gesê Leigh se oë was die eerste vier dae in die hospitaal toe weens die skade aan haar gesig. 

Dit het agt dae geduur voor sy weer kon praat en in daardie tyd moes sy met handgebare kommunikeer. Eers ná 11 dae is Ursula toegelaat om vir haar vrugte en jogurt te vat. 

Leigh sê ’n lang pad na herstel lê nog vir haar voor. 

“Liggaamlik voel ek soos ’n ouma. My pas in alles wat ek altyd gedoen het, is nou verskriklik stadig. Asemhaal, stap, klein takies by die huis en selfs praat is ’n uitdaging.

“Die dokters sê die volle herstel van die gesigwonde kan tot twee jaar duur en nog behandeling sal nodig wees vir ander organe wat dalk aangetas is.”

Weens die lang tyd dat sy aan ’n ventilator gekoppel was, is Leigh se tragea (of lugpyp) beskadig. Dit is wat vir haar ongemak veroorsaak wanneer sy praat. 

“Op die oomblik is my tragea maar sowat 2 mm in deursnee en dit moet sowat sowat 8 mm wees,” verduidelik sy. 

Sy moet ’n prosedure in die Mediclinic Panorama in Kaapstad laat doen. 

Ek het dit nog glad nie begin verwerk nie

“Die prosedure om die tragea te verwyd, is nie hoë risiko nie, maar baie delikaat.”

Leigh het geen probleem met haar voorkoms nie en sy skram nie daarvan weg om in die openbaar gesien te word nie. 

“Ek was nog altyd ’n standvastige mens, wat nou goed te pas kom.” 

Maar die trauma van die beproewing is steeds rou. 

“Ek het dit nog glad nie begin verwerk nie en ek glo dit sal lank duur om die uitwerking wat dit op my gehad het ten volle te aanvaar. 

“Ek hoor by my familie, vriende en vreemdelinge wat die storie gevolg het, ek is dapper, sterk, ’n heldin en ’n vegter. 

“Maar ek kon dit og nie my eie maak nie, want ek het nie die omvang besef van wat ek gedoen en deurgemaak het om te bly leef nie.” 

Sy voeg by sy ervaar oomblikke van woede, maar dit is alles deel van die verwerking van die trauma van die voorval.

Die familie is steeds vasbeslote om Metrorail voor stok te kry. Leigh sê hulle sal deur regsverteenwoordiging met die spoormaatskappy kommunikeer. 

Sal sy ooit weer trein ry? 

Nee, is haar vinnige en ferm antwoord.

“Ek dink die 25 jaar dat ek met die trein gependel het, was genoeg. My vertroue in hul vermoë om die spoorstelsel te bestuur, is heeltemal weggevreet.”

Die voorval het dalk haar beskouing van die gebruik van openbare vervoer laat verflou, maar dit het haar beskouing van die lewe net verhelder. 

“My naaste familie was uit die staanspoor wonderlik; veral my ma en peetma, wat my elke liewe dag besoek het tot ek ontslaan is. Ek het ook ’n klein en sterk groep vriende wat my rots is. My kollegas is ook deurgaans wonderlik en ondersteunend. 

“Vir eers is my prioriteit om fisiek te vorder en dit een dag, een tree op ’n slag te vat.”