Ook bekend as “Big Matt Hurter” danksy sy lengte, het hierdie sanger tydens ‘n loopbaan wat oor drie dekades strek treffers opgelewer soos Bicylce Bill, Big Bad John en Me and my dog Malcolm.

Matt (74) is Maandagaand (3 September) in Huis Lambano, ‘n versorgingseenheid in Gansbaai, oorlede. Sy vrou, Nelia, was langs sy bed.

Nelia vertel Matt is ‘n bietjie meer as vier jaar gelede met prostaatkanker gediagnoseer. Ten spyte hiervan het hy nog tot September verlede jaar vertonings gelewer.

“Daarna kon hy net nie meer nie,” sê Nelia. “Sowat nege maande gelede het sy toestand vinniger verswak en was die pyn ook al hoe meer. Hy is uiteindelik verlede Woensdag (29 Augustus) in Huis Lambana opgeneem.”

‘n Huldeblykdiens word Vrydag, 7 September om 11:00 in die gemeenskapsaal in hul tuisdorp, Pearly Beach, gehou

Matt Hurter se stem is nou stil.

Die musiekpromoter Lydia Winchester, wat 33 jaar lank vriende met Matt was, sê hy "het een van die beter stemme in Suid-Afrikaanse countrymusiek gehad."

Sy beskryf hom as nederig en plat op die aarde. "Hy het nooit gedink hy is ’n superster nie."

Lydia was een van die honderde mense wat op Saterdag, 26 Augustus, die Matt Hurter Tribute Show in Hartbeespoort, Noordwes, bygewoon het.

Hier het van Suid-Afrika se mees legendariese countrysangers opgetree om geld vir sy mediese uitgawes in te samel. Van sy voormalige kollegas wat agter die mikrofoon ingeskuif het, sluit in grotes soos Lance James, Dennis East en Tommy Dell.

Hy was bekend vir treffers soos Bicylce Bill, Big Bad John, Me and my dog Malcolm, Ride Safe en A word like love.

"Die mense het gegóói!" beskryf Lydia die dag.

Die countrysangeres van Rustenburg, Mari Minnaar, was nog een van die kunstenaars wat die dag opgetree het. Hulle het mekaar 13 jaar gelede ontmoet en gereeld saam vertonings gelewer. Mari vertel hy het vreeslik hard gewerk vir die toekoms en ontwikkeling van Countrymusiek, iets waarvoor hy geen betaling ontvang het nie.

Mara van der Bergh, wat ook Lance James se loopbaan bestuur, onthou Matt as ’n "tipiese countryman".

Hulle was sowat 25 jaar lank vriende.

"Hy was ’n saggeaarde gentleman wat altyd tyd vir ander mense gehad het," vertel sy.

Matt Hurter