Len Muller

Vertel ons meer van jou album

Dit het ’n sterk akoestiese klank met instrumente soos die banjo, tjello, kitaar en mondfluitjie.

Die instrumente het ’n eerlike en rou inslag, waarvan ek hou. Die oorkoepelende boodskap van die liedjies is dat die vreugde van die lewe daarin lê om nie daarteen te skop nie, maar dit te vier. Wanneer jy in die oog van ’n storm is en alles om jou soos ’n warrelwind voel, moet jy ’n stewige fondament hê in die wete dat jy veilig is in God se hande.

Hoe het jou musiekpad verloop?

Ek was van 2008 af hoofsanger van die rockgroep DieFoute, maar het einde 2011 besluit om ’n sololoopbaan te begin. Daarna het ek drie jaar lank geskryf aan die musiek van my debuutalbum, Doodgewone Avontuur, wat in 2015 uitgereik is. Die debuut- enkelsnit van die album, Smag na Jou, is op die klankbaan van die rolprent Strikdas (2014) gebruik.

Hoekom werk jy so lank aan ’n album?

Die inhoud van die liedjies is vir my belangrik. Ek wil graag hê dit moet ’n groter koninkryk as my eie bou en vir mense iets beteken lank nadat ek nie meer hier is nie.

Hy en Chanél vier in April volgende jaar hul tweede huweliksherdenking.

Waar kry jy inspirasie vir jou liedjies?

Byna al my lirieke is gegrond op persoonlike ervaring, soos die enkelsnit Vir die Een Wat Geval Het (2016). Ek het sowat drie jaar gelede gedroom ek is op my eie begrafnis.

Ek het na myself in die kis gekyk en gewonder wat my lewe en nalatenskap beteken. Dit het my diep geraak. Die volgende oggend het ek en een van my medeliedjieskrywers, Jattie de Beer, die liedjie binne twee uur geskryf.

Die konsep van die musiekvideo is weer gegrond op my ervaring wat ek gehad het toe ek 12 jaar gelede in ’n ernstige motorongeluk naby Empangeni was. Ek het my C3-nekwerwel gekraak en was drie dae lank in ’n koma.

Hoe het jy jou vrou ontmoet?

Chanél (29) het drie jaar gelede ná ’n vertoning in Pretoria ’n CD by my kom koop, en toe kry sy meer as net ’n CD. Ons is in April 2016 getroud, maar kon eers in Junie tyd kry vir ’n wittebrood. Ons was twee weke in Indonesië. Sy werk as ’n vervaardiger by ’n fliek-en-TV-produksiehuis. Ons woon in Pretoria.

Kitsfeite oor Len


  • Len (34) draf graag veldroetes en het ook sy Noord-Natalse kleure in lyfplankry verwerf.
  • Hy is verlede jaar vir drie musiekpryse benoem: ’n Ghoema vir manlike kunstenaar van die jaar en nuweling van die jaar en ’n Huisgenoot-Tempo vir nuweling van die jaar.
  • Hy het teologie deur ’n korrespondensiekursus studeer, maar nie voltooi nie.
  • Voor sy solomusiekloopbaan was hy ’n jeugwerker en lewensafrigter by die Christelike Studentevereniging en kerke op Richardsbaai