Leon sê die doel was nie om die ernstige tema lig te maak nie, maar eerder om bewustheid daaroor te skep.

“Dit is my hartsprojek,” het hy aan Huisgenoot gesê. “Die fliek is heeltemal anders as enigiets wat ek nog gedoen het.”

Leon vertolk die rol van Sonny Frank en Themba Ntuli vertolk die rol van die tienjarige seun Fearless.

“Fearless raak bevriend met ’n renosterwesie wie se ma deur stropers doodgeskiet is en Sonny en Fearless probeer dan om renosterstropery hok te slaan. Die rolprent het ’n substansiële storielyn,” sê Leon.

Hulle het nie ’n regte renoster in die rolprent gebruik nie. “Ons het deur ’n lang en frustrerende proses gegaan om die gerekenariseerde renoster geloofwaardig te laat lyk.

“Renosterstropery is nie net ’n Suid-Afrikaanse probleem nie, dit is ’n Afrika-probleem. Ek glo gehore gaan daarby aanklank vind.”

Leon sê die rolprent het nie net komiese elemente nie, maar ook hartselemente. “As kyker is jy heeltyd betrokke en dis 'n fliek wat almal in die gesin saam kan kyk.”

Frank & Fearless begin op 23 November landwyd draai.