Die pa van die blondekopkleuter Liam Nortjé (3) het Dinsdag weer in die landdroshof in Harrismith in die Oos-Vrystaat verskyn. Nantes Nortjé (47), wat van Liam se ontvoering aangekla word, het ’n tweede keer om borgtog aansoek gedoen, maar dit is geweier. 

Sers. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, het aan Huisgenoot bevestig Nantes, in wie se sorg Nortjé voor sy verdwyning in November 2017 was, wil steeds nie sê waar sy jongste kind is nie.

Liam word al agt maande vermis.

Volgens Mophiring het Nortjé se regsverteenwoordiger die staat versoek om hom vir psigiatriese waarneming te stuur. 

“Wat volgende moet gebeur, is om te bepaal waar daar vir hom ’n bed beskikbaar is.”

Hy sê die saak is intussen tot 19 Oktober uitgestel.

Nantes Nortjé

Mophiring het reeds met sy vorige borgtogaansoek in Augustus gesê Nortjé kan vergeet van borgtog as hy nie antwoorde verskaf nie. Sover het hy die polisie nog net op ’n dwaalspoor geplaas.

Huisgenoot het vroeër berig Liam is laas gesien toe hy by sy pa in Kestell gaan kuier het. Nortjé se vervreemde vrou, Cheinelle, het toe vir hom ingelig sy wil skei.

Die paar het nog twee tienerdogters. Nortjé het glo vir Cheinelle gesê sy kan vergeet om hul kind weer te sien. Sy het ook ’n gebrande lok van sy hare gelos.

Cheinelle Nortjé, Liam se ma, sê al waarop sy wag, is die oproep dat Liam gekry en gesond is. Foto: Rowyn Lombard.

Nortjé was in daardie stadium werkloos en het volgens Cheinelle geen poging aangewend om vir haar en hul drie kinders te sorg nie. Sy moes alleen die pot aan die kook hou.

Nortjé is eindelik Julie vanjaar in ’n informele nedersetting van Ladysmith in KwaZulu-Natal opgespoor en in hegtenis geneem. Daar was egter geen teken van Liam nie.

Die vermoede bestaan dat Nortjé hom dalk in iemand anders se sorg gelaat het en dié hom wegsteek. Niemand wil in dié stadium glo dat die ergste met Liam gebeur het nie.

Tania Opperman van die South Africa Support Initiative (SASI), ’n organisasie wat daarin spesialiseer om vermiste mense op te spoor, het gemaan dit is ’n strafregtelike oortreding om ’n kind weg te steek.  

Enigiemand met inligting kan Tania by 084-830-1031 bel of e-pos na pascoewendy4@gmail.com stuur.