Dit was die hartverskeurende slottoneel van ’n jare lange liefdesverhaal; die droewige einde van ’n liefde tot die dood – een wat hulle nié sou skei nie.

Eers het Ben Wiid (62) die lewelose liggaam van sy blonde vrou styf teen hom vasgedruk in die wrak van hul motor, en toe het hy die ondenkbare gedoen . . .

Voor die oë van verbaasde omstanders op die on­gelukstoneel het hy na die brandende brandstoftenkwa gehardloop waarteen sy motor kort tevore gebots het. Nie eens die versengende hitte kon hom laat terugdeins nie en die vlamme het hom ver­swelg.

En daar, net ’n paar meter van waar sy geliefde Riana (58) kort tevore ­gesterf het, het ook Ben sy laaste oomblikke beleef.

Die treurspel wat op Saterdag 13 Junie op die N2 naby die Overbergse dorpie Grabouw in die Wes-Kaap afgespeel het, het mense landwyd aangegryp. Was dit die skok van Riana se dood wat Ben tot sy eie vlammedood gedryf het? Was dit uit wanhoop oor die vooruitsig van ’n lewe sonder sy geliefde vrou?

Die brandende branstoftenkwa op die N2-hoofpad nab
Die brandende branstoftenkwa op die N2-hoofpad naby Grabouw nadat die Wiid-egpaar daarteen gebots het.

Terwyl familie en vriende van die Wiids met dié vrae worstel, is Lynette Janse van Rensburg (64) van een ding ­seker: Haar suster Riana en Ben is in die dood onafskeidbaar soos in die lewe.

Dit was heilige grond. Die Here was daar en Hy het hulle dáár kom optel. Hul tyd by die tydelike woning was voltooi en dit was op dieselfde tyd.

“Enigeen van ons sou aarsel,” sê Lynette oor die ontstellende tonele vasgevang in ’n video van die gebeure wat in die sosiale media versprei is. Daarin sien jy Ben tussen die bosse langs die pad verskyn waar sy motor ná die botsing by ’n helling af is, en dan hoe hy die vlamme tegemoet­hardloop.

“Maar Ben het nie geaarsel nie, en ek glo dit is omdat Riana daar vir hom gewag het,” voeg Lynette by.

“Dit was heilige grond. Die Here was daar en Hy het hulle dáár kom optel. Hul tyd by die tydelike woning was voltooi en dit was op dieselfde tyd.

“Nou kan hulle saam ’n nuwe lewe begin sonder om hulle oor iets te bekommer. Dit is vir my net die mooiste liefdesverhaal.”

Op hul sterfdag was Ben, ’n afgetrede apteker, en Riana, ’n oudonderwyseres, van hul tuisdorp, Somerset-­Wes, op pad na Kleinmond toe hulle omstreeks 12:00 reg van voor teen ’n tenkwa bots. Later sou die bestuurder van die tenkwa vertel dat Ben in sy baan inbeweeg het en hy moes rem aanslaan om die ongeluk te probeer vermy.

“Mense moet weet dit het oor liefde gegaan,” sê Ralf Zipfel, ’n inwoner van Kleinmond wat op die ongelukstoneel was. “Hy wou nie sonder sy vrou leef nie.”

Gou het sommige skindertonge bespiegel dat dit dalk geen ongeluk was nie, maar ’n doelbewuste poging van Ben om ’n einde aan sy lewe en dié van sy vrou te maak. Maar ander het benadruk dit was dalk eerder die tragiese lot van ’n man wat net nie kans gesien het om sonder sy vrou met die lewe voort te gaan nie.

“Mense moet weet dit het oor liefde gegaan,” sê Ralf Zipfel, ’n inwoner van Kleinmond wat op die ongelukstoneel was. “Hy wou nie sonder sy vrou leef nie.”

Ralf het by die Houwhoek-padstal koffie gedrink toe hy die slag van die ongeluk hoor. Hy en nog iemand het Ben by die wrak van die voertuig probeer bystaan.

“Hy het na die passasierskant, na haar, oorgelê. Haar gesig was vreedsaam, en toe ons vir hom sê om saam met ons te kom, het hy net nog dieper na haar kant toe oorgekruip. Hy het in Engels in ’n baie emosionele stem vir my gesê: ‘My vrou is dood; kan jy nie sien nie? Los my net, ­asseblief.’ ”

Nooddienspersoneel by die wrak van die voertuig.
Nooddienspersoneel by die wrak van die voertuig.

Nie eens ’n waarskuwing van Ralf dat die tenkwa aan die oorkant van die pad enige oomblik kon ontplof, kon Ben op daardie tydstip oorreed om die lewelose liggaam van sy vrou agter te laat nie.

Toe hy egter by die wrak uitsteier, het hy nie na veiligheid gehardloop nie en hom eerder in die vlammehel begewe.

Skermgrepe uit die video van ’n toevallige omstand
Skermgrepe uit die video van ’n toevallige omstander wat die brandende tenkwa afgeneem het toe Ben skielik van die een kant van die pad oorstap in die rigting van die brandende voertuig.
Skermgrepe uit die video van ’n toevallige omstand
Skermgrepe uit die video van ’n toevallige omstander wat die brandende tenkwa afgeneem het toe Ben skielik van die een kant van die pad oorstap in die rigting van die brandende voertuig.

Hulle was 35 jaar lank ge­troud, die ouers van twee dogters, Maryke Grobbelaar (33) en Chantelle Bam (30), en oupa en ouma van drie kleinkinders.

Hul liefdesverhaal het in die middel 1980’s op Bothaville in die Vrystaat begin, waar Ben sy internskap by ’n apteek ­gedoen het en Riana, toe ’n Pukstudent, by haar ouers op ’n mielieplaas in die omgewing gekuier het. Toe sy die apteek ­binnestap, kon Ben nie sy oë van die pragtige meisie afhou nie, vertel Lynette oor die grootse liefde.

Eers maande later sou hy uitvind sy is sy vriend en destydse huismaat, Bertus Muller (nou 59), se suster. Riana was weer tuis en haar ouers, Johan en Kathë, het Ben en Bertus vir ete genooi. Dit was die begin van ’n lewenslange romanse.

Ná hul troue in Maart 1985 op Bothaville het hulle eers op Senekal in die Vrystaat en later op Richardsbaai in KwaZulu-Natal gewoon. Hulle het ook vyf jaar in Australië gewoon. Met hul terugkeer het Riana gesê: “Dit is net die beste ding om in jou land met jou eie taal tussen jou mense te wees,” onthou Lynette.

Riana en haar ouer suster Lynette Janse van Rensbu
Riana en haar ouer suster Lynette Janse van Rensburg was baie na aan mekaar en het gereeld oor die foon gesels.


“My sussie was ’n bondel liefde,” vertel sy. “Sy het so ’n innemende persoonlikheid gehad. Sy het so ’n regte Colgate-­smile gehad. Riana het vir my gesê Ben vertel altyd vir haar hoe pragtig sy vir hom is.”

Sy beskryf die swaer wat vir haar soos ’n broer was as besonder intelligent en met ’n kop vir sake.

In hul vrye tyd het die twee graag saam rondgekuier en markte besoek. Hul lewe het om hul kinders en kleinkinders gedraai.

“Hy was lief vir geskiedenis en wou weet waar alles vandaan kom. Hulle was saam oorsee, in Italië. Ben wou nie saam met ’n toergroep gaan nie en het alles self gereël.”

In hul vrye tyd het die twee graag saam rondgekuier en markte besoek. Hul lewe het om hul kinders en kleinkinders gedraai, vertel Lynette.

Lynette, wat op Brits in Noordwes woon, en haar jonger suster het ’n hegte verhouding gehad en elke tweede dag oor die foon gesels.

Hul laaste gesprek was die oggend voor die noodlottige rit Kleinmond toe waar sy en Ben sou reëlings tref oor ’n sleutel vir sy suster se strandhuis.  

“Sy was so gelukkig en opgewonde die dag,” vertel Lynette. “Hulle sou net gery en teruggekom het, maar hulle het nie omgegee nie, want hulle het soveel waardering vir die omgewing gehad.”

Riana het nog vertel hoe sy dit die vorige dag geniet het om vir haar kleinseun oor syfers en hul waarde te leer. En oupa Ben het die knapie begin leer om sy naam op die rekenaar in te tik.

Ek sou geweet het as iets geskort het. Ons was baie na aan mekaar, en sy sou vir my vertel het.


Die twee susters se gesprek het ook by dieper dinge gaan draai.

“Toe bring dit ons op ’n punt waar ons vir mekaar gesê het wanneer jy weet wat jy wéét in jou geloof, dan het jy nie nodig om iets meer te weet nie.” Dié gesprek het vir haar vrede gebring, sê Lynette. “Ek sou geweet het as iets geskort het. Ons was baie na aan mekaar, en sy sou vir my vertel het.”

Daarom is daar by haar geen twyfel dat dit goed gegaan het met Riana voor sy so skielik van haar geliefdes weggeruk is nie. En in die dood, soos in die lewe, wou Ben by haar wees.

  • Die Wiids se kinders wou by navraag nie kommentaar lewer nie.
Kan skok jou tot jou eie dood dryf?

Die skok van sy vrou se dood kon Ben Wiid moontlik so oorweldig het dat hy sy eie lewe geneem het, sê Ronell Lemmer, ’n sielkundige van Kaapstad met ’n spe­siale belangstelling in traumaterapie.

Volgens haar is die Polyvagal-teorie hier ter sprake. Dit gaan oor die rol wat die vagussenuwee – ’n skedelsenuwee wat van die nek tot in die buikholte strek – speel by die reaksie op vrees en die regulering van emosies.

“Hierdie senuwee het twee hoofstrome wat jou simpatiese en parasimpatiese senuweestelsels aktiveer,” verduidelik sy. Terwyl die parasimpatiese stelsel jou kalmeer, is die simpatiese stelsel met jou primitiewe brein verbind en stimuleer onder meer die afskeiding van adrenalien en die streshormoon kortisol.

Ronell sê die instinktiewe veg-, vlug- of vriesreaksie word baie vinnig geaktiveer en lei tot die afwesigheid van rasionele denke. Sy meen die skok kon Ben se brein so erg stimuleer het dat hy nie rasioneel kon dink nie.

Sy brein kon sy magteloosheid om sy vrou te red as gevaar vertolk het en daartoe gelei het dat hy van die situasie wou wegkom – tot ­binne-in die vlamme van die brandende tenkwa.

FOTO'S: TWITTER/@TRAFFICSA, FACEBOOK/WILLIE VAN NIEKERK, VERSKAF
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe