Die tragedie het Woensdag tydens skoolure by die Hoërskool Fitzgerald in Warren in die deelstaat Michigan plaasgevind. Die aanvaller, wie se naam nie bekend gemaak mag word nie, is nou in aanhouding. Danyna Gibson is deur die skoolhoof, Laurie Fournier, as die slagoffer geïdentifiseer.

Polisiekommissaris Bill Dwyer sê die polisie ondersoek nou verskeie teksboodskappe wat tussen die twee meisies en ’n seun (16 of 17 jaar oud) gestuur is. In hierdie stadium wil dit voorkom asof die aanvaller ontsteld was oor haar verbreekte verhouding met die seun. Hy het glo intussen met die slagoffer begin uitgaan.

Volgens getuies het die aanvaller na die slagoffer gestap en haar voor die klaskamer met die mes begin aanval. In daardie stadium was daar tussen 20 en 30 studente en ’n onderwyser in die klaskamer.

Francesca Pascua (17) sê sy het eers bewus geraak dat iets fout is toe sy gille hoor en van haar klasmaats in alle rigtings begin spaander het.

Volgens haar het Danyna probeer weghardloop, maar ’n groep studente was in haar pad. “Die meisie het haar gegryp en begin steek,” het Francesca gesê.

Volgens haar het ’n onderwyser probeer om die twee meisies uitmekaar te hou, maar Francesca sê sy het gesien hoe die mes ingaan en uitkom . . .

“Daar was bloed oral.”

Victoria Oraszko (16) was langs die onderwyser se tafel toe sy voel hoe iemand haar stamp. Toe hoor sy hoe iemand skree: "Sy gaan my doodmaak, sy gaan my doodmaak."

Aanvanklik het Victoria gedink dis maar net speletjies . . . tot sy gesien het hoe Danyna met die mes gesteek word en op die vloer ineengestort het.

Volgens Dwyer het die onderwyser op die toneel alles in sy vermoë gedoen om Danyna se lewe te probeer red. Sy het egter sowat ’n uur ná die aanval in die Sint John Macomb-Oakland-hospitaal gesterf.

“Dit het hom baie hard getref dat hy nie haar lewe kon red nie,” het Dwyer tydens ’n mediakonferensie gesê.

Danyna was deel van die skool se landloopspan, studenteraad, robotikaklub en marsjeer-orkes. Sy en die aanvaller was glo voorheen vriende, maar het ’n uitval gehad oor die seun.

Die aanvaller is sonder enige teenkanting op die skoolterrein in hegtenis geneem. Hoewel sy net 17 jaar oud is, sal sy volgens die wet in Michigan as ’n volwassene vir die moord verhoor word.

Bronne: wxyz.com, detroitnews.com, washingtontimes.com, abc15.com,