Hy was ’n sakemagnaat met talle onder­nemings en luukse woon­plekke op sy naam en ’n voorliefde vir blink sport­motors. ’n Man met ’n ruim hart, sê dié na aan hom, maar ook ’n befaamde rokjagter met sewe kinders by vier vroue.

Sy was ’n hoërskoolmeisie met klaarblyklik min vooruitsigte om uit haar armoedige omstandighede te ontsnap; ’n jong vrou wat na ’n uitkoms sou gryp.

Boonop was hy 62; sy net 17.

Marius Stiller, ’n bekende sakeman in Krugersdorp, het glo aan Ann-Marie Aylward die wêreld beloof toe hulle mekaar sowat ’n jaar gelede ontmoet: ryk­dom, aandele in sy ondernemings, ’n voertuig, selfs splinternuwe borste.

Marius Stiller het vir Ann-Marie Aylward se nuwe borste betaal. Foto: Facebook (Annie Aylward)

Haar familie was raadop, sê Ann-Marie se pa, Alwyn (47). Hy was bekommerd dinge sou dalk sleg uitwerk.

“Maar sy wou geen rede hoor nie.”

Selfs haar vriende het haar teen Marius probeer waarsku, vertel ’n vriendin aan Huisgenoot: “Ann-Marie het gesê sy is bang Marius gaan eendag nog haar dood veroorsaak.”

Maar in sy wildste nagmerries sou Alwyn nooit kon dink sy dogter se liefdesbesluit sou in ’n skokkende treurspel eindig nie.

Op 22 November het ’n gebroke Alwyn toegekyk hoe die lyke van sy “poplap”, soos hy Ann-Marie genoem het, en haar minnaar uit Marius se spoghuis op ­Krugersdorp se Featherbrooke-landgoed gedra word.

Ann-Marie was vermoedelik besig om haar tasse te pak nadat hulle rusie gemaak het. Toe skiet Marius haar na bewering dood en neem daarna sy eie lewe agter sy lessenaar in die studeerkamer.

'n Rokjagter maar nie 'n moordenaar nie

Die twee se geskokte families is verdeeld oor die tragedie. Ja, Marius was ’n ware rokjagter, sê van sy familielede aan Huisgenoot. Maar moord? Dit glo hulle nie.

Maar Alwyn hou vol: “Marius was ’n aggressiewe boelie. Hy het op meer as een geleentheid met my dogter handgemeen geraak. Ons was bang hy sou iets aan haar doen, maar sy wou nie luister nie. Nou het ons nagmerrie waar geword.”

Die paartjie se pad saam het in Augustus 2017 begin nadat Marius vir Ann-Marie onder sy vlerk geneem het. So vertel sy eks­meisie Beatrice Myson (35), met wie hy toe nog in ’n verhouding was.

“Ons het vir haar jammer gevoel omdat sy gesê het sy wou graag haar hoërskoolloopbaan voltooi, maar het nie geld daarvoor nie,” sê Beatrice.

Ann-Marie het destyds tuisonderrig by ’n ma van ’n vriendin gekry omdat sy nie skoolgeld kon betaal nie.

Oor sy dogter se ontmoeting met die sakeman beweer Alwyn dat Marius en Ann-Marie mekaar ­ontmoet het toe sy dogter Marius en ­Bea­trice se kind vir ’n ekstra inkomste ­opgepas het.

Dis bog, meen Beatrice. ­Marius het Ann-Marie glo lank voor dit geken omdat haar pa, ’n ketelmaker,  voorheen vir hom gewerk het.

Ann-Marie het toe by Marius, Beatrice en hul minderjarige dogter ingetrek. Volgens Beatrice het sy na Ann-Marie omgesien asof sy haar eie kind is.

'Beter toekoms'

“Dit was ’n bitter pil om te sluk,” vertel Alwyn.

“Maar Ann-Marie wou niks weet nie; sy het vasgeskop en gesê Marius het haar ’n beter toekoms beloof.”

’n Maand later het Beatrice se verhouding met Marius op die rotse beland; toe vind hy vertroosting by Ann-­Marie.

Alwyn vertel sy dogter het die verhouding eers geheim gehou. In Desember 2017 het hy op Marius se Facebookblad gelees hy is in ’n verhouding met Ann-Marie.

“Ek het haar gekonfronteer, maar sy wou van niks weet nie. Sy het gesê hy is goed vir haar; dat hy belowe het om te betaal sodat sy skool kan voltooi en dat hy vir haar ’n motor sou gee.”

Sy het in Januarie 18 geword.

Alwyn en sy eksvrou, Cecilia, Ann-­Marie se ma, het glo albei die verhouding probeer keer, maar later tou opgegooi.

“Sy het geweet ons is teen die verhouding gekant. Ons het vir haar gesê ons beskou hom as dominerend en aggressief. Vir elke gunsie het hy ’n gawe gesoek. Maar sy het gesê sy’s lief vir hom.”

Volgens Alwyn het Marius glo eers elke belofte nagekom: vir Ann-Marie geld in ’n bankrekening inbetaal; ’n voertuig en duur klere gekoop; luukse naweek-­uitstappies. Vanjaar het Marius selfs vir haar borsinplantings betaal.

Middel vanjaar het Ann-Marie die eerste keer haar verhouding met Marius probeer verbreek, vertel Alwyn.

Alwyn Aylward, Ann-Marie se pa, sê hy is verpletter ná sy dogter se dood. Hy het haar teen Marius probeer waarsku, maar sy wou niks weet nie.

“Sy het ’n oulike outjie ontmoet. Jonk en vriendelik. Hy was mal oor haar. Maar Marius wou dit nie aanvaar nie; hy was woedend. Ek weet nie wat hy gesê het nie, maar sy is terug na hom toe.”

Hierna het Ann-Marie glo teenoor vriendinne gebieg Marius het haar emosioneel afgekraak en later fisiek mis­handel.

Bloukolle en dreigemente

Alwyn se lewensmaat en Ann-­Marie se stiefma, Alida Fourie (43), wys ’n teksboodskap van een so ’n vriendin: “Tannie, sy het vir my die bloukolle gewys. Hy het haar sleggesê en afgepers. Ann-Marie het erken Marius gaan eendag nog haar dood veroorsaak.”

’n Vriendin van Ann-Marie vertel Marius het “nooit sy ware kleure in die openbaar gewys nie. Voor mense was hy altyd sjarmant en vriendelik.

“Dis eers wanneer die deure toe was dat hy sy ware kleure ontbloot het: Hy het Ann-Marie uitgeskel en rondgestamp. Sy was nie onskuldig nie; sy het terugbaklei en ook lelik gepraat, maar hy het fisiek met haar geraak. In so ’n mate dat sy bloukolle aan haar lyf gehad het.”

Kort voor hul dood het Marius glo aan Ann-Marie gesê nie een van hulle sal leef as sy besluit om haar verhouding met hom te verbreek nie, vertel die vriendin.

“Sy het dit van haar ma-hulle weggehou. Haar pa het altyd gesê hy sal Marius doodmaak as hy sy dogter seermaak.”

Alwyn sê: “Mense vra hoe ons haar nie gekeer het nie. Ons kon haar nie in ’n hok toesluit nie. Ons het die verhouding op ander maniere probeer verhoed, soos toe Marius haar Hawaii toe wou neem en ek geweier het om vir haar paspoort te teken. Selfs dit het nie gehelp nie.”

Ou liefde vlam op

In November vanjaar het Ann-Marie weer alle bande met Marius probeer verbreek en by Cecilia gaan bly. In dié tyd het sy weer kontak gemaak met haar eks­kêrel, Kyle Slabberts (19).

“Ann-Marie het my ’n week voor haar dood gebel en gevra of sy my kan sien. Sy was histeries toe sy by my huis aankom. Sy het gesê sy weet nie wat sy gaan doen of hoe sy van hom gaan wegkom nie. Al wat ek kon sê, is dat sy moet ontsnap.”

Oor Kyle se vriendskap met Ann-Marie het hy glo dreigemente van Marius ontvang, beweer hy.

“Die eerste keer het Marius iemand opgekommandeer om my te bel. Die stem aan die ander kant het gesê niemand sal ooit my liggaam opspoor as ek nie kontak met Ann-Marie verbreek nie. Die laaste keer het Marius my persoonlik gebel en gesê hy gaan met geweld optree as ek haar nie uitlos nie.”

Tog het Marius ’n manier bedink om die week voor haar dood weer naby aan Ann-Marie te kom, vertel Alwyn.

“Marius het Cecilia gebel en gesê dis noodsaaklik dat Ann-Marie dokter toe gaan om seker te maak die snywonde vir haar bors­inplantings is gesond,” vertel Alwyn.

“Cecilia het ingestem. Marius het Ann-­Marie by haar ma se huis gaan haal.”

Hulle het haar nooit weer lewend gesien nie. Twee dae later het Alwyn die oggend vir sy dogter ’n teksboodskap gestuur, maar geen antwoord gekry nie. Kort ná drieuur die middag het ’n familielid gebel met die nuus: “Kom dadelik; Marius het jou dogter geskiet.”

“Die wêreld het om my inmekaar­getuimel,” vertel Alwyn.

“Ek het by die werk weggejaag en Cecilia gaan haal. Toe ons by Marius se huis kom, was die polisie reeds daar; hulle het ons verbied om in te gaan. Ons was histeries.

“Minute het soos ure gevoel. Eindelik het nooddienspersoneel uitgekom met ’n mens toegedraai in ’n sak. Dit was my pop; sy was morsdood. Toe word Marius se liggaam ook uitgedra. Dood. Dis toe dat ek voel of ek ook doodgaan.”

Snags in sy drome sien hy haar lewe­loos in die lykshuis lê waar hy haar moes gaan uitken, vertel Marius.

“My liewe pop; sy moes so seer gehad het.”

En op 30 November is Ann-Marie toe in die Sterkfontein-begraafplaas in Krugersdorp begrawe.

Hul dood is ’n skok, sê ­Beatrice. Dat Marius en Ann-­Marie se verhouding met tye stormagtig was, is waar, sê sy. Maar dié moord en selfdood; dit wil niemand glo nie.

“Hy was ’n goeie man en pa. As dit selfdood was, is daar ’n rede. Want in die agt jaar dat ek hom geken het, het hy nooit ’n wapen besit nie,” sê sy.

“Die laaste jaar was ’n gemors, maar hy het goed in hom gehad. Ann-Marie ook. Die hele voorval is ’n hartverskeurende tragedie.” 

Konst. Slindile Ntuli, polisiewoordvoerder, het bevestig die polisie ondersoek ’n saak van moord en selfdood.

Is jy 'n slagoffer van huishoudelike geweld?

Dié organisasies kan jou help:

  • FAMSA (landwyd): Bel 011-975-7101 of stuur 'n e-pos na national@famsa.org.za vir inligting en hulp.
  • Lifeline (24-uur): 0861-322-322.
  • POWA (People Opposing Women Abuse): 083-765-1235 vir nog inligting en hulp.
  • Legal Aid South Africa: 0861-053-425.
  • Rape Crisis: 011-642-4345/021-447-9762.
  • Tears-stigting: Stuur 'n e-pos aan info@tears.co.za. Bel 010-590-5920 of hulplyn *134*7355# of stuur 'n SMS aan *134*7355#
  • Kom neem deel aan die gesprek! Volg Huisgenoot op 
InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe!
Foto's: sharon seretlo, verskaf