Die skoongesig blonde verpleegster word benewens die agt moordklagtes ook aangekla van poging tot moord op ses pasgebore babas in die Countess of Chester-hospitaal.

Dinsdag het die polisie haar sowat ’n kilometer van die hospitaal in haar skakelhuis in Blacon, Chester, in hegtenis geneem ná ’n lang ondersoek deur die Cheshire-polisie oor die ongewone hoë sterftesyfer onder babas in die hospitaal se neonatale eenheid.

Deur die loop van die dag het hulle ook by haar ouerhuis in Hereford opgedaag om nog inligting in te win oor die eens belowende student, nou vermeende massamoordenaar.

Cheshire se polisie ondersoek die dood van 17 babas en 15 ander gevalle waar babas wel oorleef he. Die voorvalle het van Maart 2015 tot Junie 2016 plaasgevind.

Dokters het ’n interne ondersoek gelas toe talle vroeggebore babas hart- en longversaking opgedoen het en nie gered kon word nie. ’n Verslag wat later uitgereik is, het glo melding gemaak van vreemde merke aan die babas se arms en bene ná hul dood.

Speur-inspekteur Paul Hughes, wat die ondersoek lei wat as Operation Hummingbird bekendstaan, sê sy span werk vanaf Mei 2017 onverpoos aan die saak. 

Hy het Lucy se inhegtenisneming as ’n noemenswaardige stap vorentoe beskryf, maar maan terselfdertyd dat onmiddellike resultate nie noodwendig sal volg nie. “Ons sal die saak so deeglik as moontlik ondersoek,” het hy gesê.

“Daar is bedroefde ouers wat antwoorde soek op wat met hul baba gebeur het.”

Nog ’n hospitaal, die Liverpool-vrouehospitaal, het intussen bekendgemaak dat hulle ook babasterftes sal laat ondersoek. Lucy het tydens haar opleiding by dié hospitaal diens gedoen.

Wie is Lucy Letby?
  • Volgens haar Facebook-blad tel Ellie Goulding en Céline Dion onder haar musiekgunstelinge en is die Olimpiese swemmer Tom Daley haar gunsteling-sportpersoonlikheid.
  • Sy maak geen melding van haar passie vir verpleging of babas nie; inteendeel, daar is bitter min van Lucy te sien op haar blad, behalwe dat sy oënskynlik ’n vrolike, gelukkige jong vrou is.
  • Op 1 Desember 2011 wens haar ouers haar in die plaaslike koerant Hereford Times, geluk met haar honneursgraad in kinderverpleging: “Ons is so trots op jou ná al jou harde werk. Liefde, ma en ma.”
  • Nadat sy haar graag behaal het, het sy by die Countess of Chester-hospitaal begin werk.
  • Een van haar ouers se geskokte bure kan nie glo die “goeie meisie” wat baie toegewyd aan haar werk is, word nou van moord en poging tot moord verdink nie. “Ek kan dit eenvoudig nie glo nie.”
  • Volgens Jordan Sands, wat Lucy deur ’n vriendin leer ken het, is sy nogal ’n bleeksiel, maar lyk na iemand “wat ’n goeie hart” het.
  • Van haar kollegas en vriende is verstom. Hoe kan dié “lieflike mens” van sulke wrede dade beskuldig word?
  • Sy was ook betrokke by ’n geldinsamelingveldtog van R58 miljoen om ’n nuwe neonatale eenheid in die hospitaal te bou.
Nóg 'n moontlike massamoordenaar

Dit is die tweede skokkende nuus oor mediese dienste en versorging wat Brittanje die afgelope maand geruk.

Dr. Jane Burton word daarvan verdink dat sy meer as 600 bejaarde pasiënte se dood verhaas het. Sy kan weens strafbare manslag en growwe nalatigheid aangekla word.

'Maak asseblief gemaklik," was die woorde wat sy op haar pasiënte se verslae geskryf het voor hulle dodelike dosisse medisyne toegedien is.

Bronne: thesun.co.uk, nursingtimes.net, cheshire.police.uk, herefordtimes.com, telegraph.co.uk