Nauman Hussain (28), die seun van Shahed Hussain (62), die eienaar van Prestige Limousine Chaffeur-dienste, het Woensdag in die Schoharie-distrikshof in New York verskyn op aanklag van kriminele nalatigheid. Dit kom ná die ongeluk wat die lewe van ’n groep jong vriende en familie op ’n verrassingspartytjie-uitstappie geëis het.

Hy het onskuldig gepleit en is op borgtog van $150 000 (sowat R2,1 miljoen) vrygelaat.

Nauman is tydens ’n “gekontroleerde padblokkade” vasgetrek nadat die polisie bekommerd was dat hy moontlik die land wou verlaat. Volgens die staatsaanklaer was daar tasse in sy voertuig, maar sy regspan sê hy vrees doodsdreigemente; vandaar die gepakte tasse.

Hoekom die seun en nie sy pa nie?

Die polisie-superintendent George Beach het gesê Nauman is in hegtenis geneem omdat die verantwoordelikheid by hom berus het dat die omgeboude limousine, ’n Ford Excursion 2001, Saterdag padwaardig was.

Sy pa was in Pakistan toe die ongeluk gebeur.

Shahed Hussain

Shahed het ook onder die naam Shadid Malik en Shaeed Hussain gewerk. Hy was 10 jaar lank 'n FBI-informant nadat hy 'n ooreenkoms aangegaan het om uit die tronk te bly.

Hoewel hofrekords nie "wyd oopgemaak" is nie, het van die inligting uitgesypel.

Shahed was 43 jaar oud toe hy in 2002 vasgetrek is vir die verskaffing van onwettige identiteitsdokumente en vals rybewyse aan immigrante.

Minstens 18 mense het in die tronk beland nadat hy inligting aan die FBI oorgedra het oor beweerde terroriste en dwelmhandelaars.

Nóg skokkende inligting oor die padwaardigheid van die voertuig en die bestuurder op daardie noodlottige dag het aan die lig gekom.

Kort ná die ongeluk het een van die oorledenes, Erin McGowan (34), se teksboodskap aan haar suster reeds die aandag op die “bedenklike” toestand van die voertuig gevestig.

Volgens die goewerneur van New York, Andrew Cuomo, het Scott Lisinicchia (53), die bestuurder van die omgeboude voertuig, ook nie die regte rybewys gehad om die voertuig te bestuur nie.

Hy is op 25 Augustus vanjaar in Saratoga Springs agter die stuur van dieselfde limo beboet, juis omdat sy rybewys nie gepas was vir dié soort omgeboude voertuig nie. Die boodskap is destyds ook deur die polisie aan Prestige Limo oorgedra nadat hulle die voertuig na die maatskappy se perseel teruggeneem het.

Scott en die 17 insittendes van die voertuig, asook twee voetgangers, het in die ongeluk gesterf.

Die jongste slagoffer wat in die voertuig was, is Savannah Bursese (24). Die twee voetgangers was 46 en 70 jaar oud.

Die ongeluk het gebeur toe die voertuig deur ’n kruising in Schoharie, sowat 56 km van Albany, bars en in ’n gewilde toeristebestemming, die Apple Barrel, se parkeerterrein te lande kom. Ooggetuies beweer die omgeboude voertuig het teen sowat 96 km per uur gery.

Die departement van vervoer het in Maart bevind die voertuig se remme is foutief en dat die remme op plekke onder die voertuig “ingeperk” of deur dele van die onderstel belemmer is.

Ses maande later is die voertuig weer deur die betrokke departement ondersoek en die uitslag was dat daar nagelaat is om geringe foute wat tydens die ondersoek in Maart gevind is, reg te stel. Volgens Lee Kindlon, die regsverteenwoordiger van die maatskappy, was die geringe foute goed soos die ruitveërs en 'n fout met een van die vensters.

Maar die departement van vervoer het Lee se bewerings verwerp en bevestig die voertuig is tydens die September-ondersoek onpadwaardig bevind.

In ’n verklaring wat deur die departement uitgereik is, word onomwonde bevestig die voertuig is in September onpadwaardig verklaar en dat die eienaar gewaarsku is om nie die voertuig te gebruik nie.

In hierdie stadium is die staat besig om vertoë te rig om die deure van Prestige Limo te sluit, minstens tot ná die ondersoek na die ongeluk afgehandel is.


Scott, wat op 6 Oktober agter die stuur van die limo was, het glo tevore sy kommer oor die toestand van die voertuie in die maatskappy se vloot met sy vrou gedeel.

Hy het grondige rede gehad. Volgens die rekords van die departement van vervoer het Prestige Limousines reeds 22 keer die afgelope twee jaar die wet oortree.

Andrew LaRose het aan die plaaslike nuusdiens WNYT-TV vertel hy het ’n jaar gelede dieselfde limousine vir sy troue gehuur. Volgens hom moes dit toe al skrootwerf toe gestuur word.

Hy sê die lugversorging het nie gewerk nie en maskeerband wat wit geverf was, is op plekke gebruik. Van die panele was duidelik geverf. Vir Andrew het dit gelyk of die voertuig uit ’n “chop shop” kom. Scott het boonop laat opgedaag, ’n onbekende passasier het voor langs hom gesit en Andrew het leë bierblikkies in die voertuig gesien.

Limo's en lykswaens

Nadat vier vroue in Julie 2015 in ’n omgeboude Lincoln-limousine gesterf het, is in 2016 ’n versoek aan Cuomo gerig om sterker veiligheidsmaatreëls op omgeboude voertuie van krag te maak. John Prudenti, die voormalige hoof van voertuigmisdaad in die staatsaanklaer se kantoor in Suffolk County, was destyds die aanklaer in die saak.

Volgens hom het hulle tydens die voorlegging aan die jurie in 2016 gesê “daar’s ’n baie dun lyntjie tussen ’n limo en ’n lykswa”.

Terwyl limousines in fabrieke aanmekaargesit word waar streng gelet word op die veiligheidsaspekte van die voertuie, byt talle van die einste veiligheidsaspekte in die stof wanneer dit omgebou word.

Die slagoffers
  • Die verrassingspartytjie was ’n geskenk van Axel Steenburg aan sy vrou, Amy, ter viering van haar 30ste verjaardag. Hy was ook in die voertuig.
  • Amy se suster, Allison King (31).
  • Nog ’n suster, Mary Dyson (33), en haar man, Rob (34). 
  • Hul oudste suster, Abigail (34) en haar man, Adam Jackson. Hulle is die ouers van ’n seun, Archer (4) en dogter, Elle (16 maande oud).
  • Rich Steenburg (24), Axel se broer.
    Michael Ukaj wat op dieselfde dag sy 34ste verjaardag gevier het
  • Amanda Halse (26) en haar kêrel, Patrick Cushing (31) was meer as twee jaar lank ’n paartjie.
  • Erin (34) en Shane McGowan (30) het vyf maande voor die ongeluk getrou.  
  • Amanda Rivenburg (29).
  • Rachael Cavosie (30).
  • Matthew Coons (27) en sy meisie van die afgelope twee jaar, Savannah Bursese (23).
  • Scott Lisinicchia (53), die voertuigbestuurder.
  • Die voetgangers: Brian Hough (46) en sy skoonpa, James Schnurr (70).

Bronne: wnyt.com, nypost.com, cnn.com, news10.com, nytimes.com, abcnews.com, abc7ny, democratandchronicle.com