Vir Martin (74) en Johanna de Beer (73) het die afgelope Sondagmiddag nes enige ander begin: Hulle is vroegoggend kerk toe; het ná die diens ’n tyd lank met vriende en ander lidmate gesels en is toe huis toe om die Sondagmiddagete te berei.

Maar met die De Beers se aankoms op hulle plaas het die egpaar se Sondagmiddag in ’n nagmerrie ontaard: Johanna is meer as 300 keer deur ’n swerm bye aangeval.

“Dit was absoluut verskriklik. My pa is allergies vir bye en is dadelik die huis in. Maar vanuit die huis het hy gesien die bye het my ma gepak. Sy was oortrek: haar arms; bene; gesig . . . Dis nie ’n mooi gesig nie,” sê Coen de Beer (47), die egpaar se seun.

Coen doen instandhoudingswerk op sy broer, Hennie (50), se sitrusplaas in die omgewing.

“My pa het my gebel en ek het na hulle plaas gejaag. Dit was die skokkendste ding wat ek nóg beleef het. Ek het my ma gegryp en haar na die swembad gevat en haar toe in die water gesit,” verduidelik Coen.

Johanna saam met Coen nadat sy uit die hospitaal ontslaan is. Foto: Verskaf

Maar die swerm aggressiewe bye wou nie bes gee nie . . .

“Ek het haar onderwater gedruk in ’n poging dat die bye sou wegvlieg of ophou steek. Maar vergeefs. Wanneer sy na bo kom vir asem, het hulle net weer op haar toegesak. Ek het nog nooit in my lewe so iets beleef nie.”

Coen sê daar was al ’n geruime tyd lank ’n swerm bye wat in ’n hol boomstomp op die erf gebly het. Die gesin vermoed egter dat ’n trekswerm, ’n tweede swerm bye, daar verbygekom het en die eerste groep bye aggressief gemaak het.

Die gesin het die nooddienste ontbied. Intussen het Coen se vrou, Elma, lakens uit die huis gaan haal. Coen sê hy het dié lakens natgemaak en oor sy ma gegooi. Hy is ook minstens vyftig keer deur die bye gesteek.

“Hulle het my ma opgelaai en haar met die lugambulans na die Uniehospitaal in Alberton geneem. Sy het op pad na die hospitaal ophou asem haal – haar liggaam het heeltemal in skok gegaan. Maar nooddienspersoneel kon haar gelukkig weer bybring. Hulle sê sy kon dood gewees het. Is dit nie angswekkend nie?”

Johanna de Beer
Johanna saam met Coen. Foto: Verskaf

Hennie het intussen gereël dat ’n byevanger die bye op die plaas kom verwyder. Volgens hom het dié byevanger ook gesê die bye se gedrag is meer aggressief as wat normaal vir die vlieënde insekte is.

Johanna is sedert Sondagmiddag in die Uniehospitaal behandel. Sy is weer byna “haar ou self”, vertel Coen.

“Sy lyk baie goed – behalwe natuurlik vir die honderde knoppe op haar lyf. Ek het nou net weer by haar gaan draai, en sy is weer ampertjies springlewendig.

“ ’n Mens skrik baie groot. Maar jy dink nooit dat iemand sal doodgaan nie – jy besef nie dat die bysteke kan beteken dat haar hart kan gaan staan nie. Maar dit was nie haar tyd nie, en vandag is ons meer dankbaar as ooit dat sy nog hier is.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.