Die departement van gesondheid het Dinsdag ’n verklaring uitgereik wat ’n uitbraak van listeriose in Suid-Afrika bevestig.

Altesaam 557 gevalle van die siekte is al deur laboratoriumtoetse bevestig en 36 mense is aan die siekte dood. Die oorgrote meerderheid van die gevalle was in Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal.

Dr. Owen Wiese van die Tygervallei Intercare- mediese dienste het ’n paar vrae oor die siekte beantwoord. 

Owen is te sien in die program Dokter-dokter op VIA (DStv-kanaal 147)

Wat is Listeriose?

Dit is ’n ernstige en potensieel dodelike infeksie wat deur die Listeria-bakterie veroorsaak word. Die bakterie word veral gevind in grond en besmette water, pluimvee en kuddediere en kan dus in ongepasteuriseerde melk en vleisprodukte voorkom. Dit kan ook deur rou groente en vrugte wat besmet is, versprei word. Die infeksie het tipies gastro-intestinale klagtes soos naarheid, braking, diarree en buikpyn tot gevolg. Dit kan ook griepagtige simptome soos lyfseer en koors veroorsaak.

Is dit gevaarlik?

Listeria-infeksie is potensieel dodelik in ouer mense en jong kinders en babas, mense met ingekorte immuunstelsels (soos byvoorbeeld mense wat MIV het) en swanger vroue. In die meeste gesonde mense is Listeria-infeksie selfbeperkend en is daar geen ernstige komplikasies nie, behalwe ongemak en dat jy nie sal lekker voel nie. Dit gesê, moet die toestand nie ligtelik opgeneem word nie. As jy wel simptome ervaar is dit belangrik om ondersoek te word aangesien die infeksie vinnig kan versprei en ernstige gevolge kan hê.

Waarvoor moet jy op die uitkyk wees?

Simptome kan vinnig ontstaan - binne 9 tot 48 uur ná infeksie, maar dit kan selfs tot 30 dae neem voor simptome verskyn. Tipies is die volgende teenwoordig: koors, diarree, naarheid en braking, buikongemak en kwaai lyfseer. Kyk ook uit vir nekstyfheid en verwarring. Baie mense kan ook die simptome met lugweginfeksie-simptome verwar.

Foto: Pexels

Hoe word dit gediagnoseer?

Indien jou dokter ’n sterk vermoede het dat jy moontlik Listeria-infeksie kan hê, sal hy sekere bloedtoetse aanvra om vir die teenwoordigheid van die organisme te soek, en om dit te bevestig. (Let wel, hierdie toetse word nie gewoonlik as deel van ’n roetine-ondersoek aangevra nie.)

Kan dit behandel word?

In die meeste gevalle is die toestand selfbeperkend en is slegs ondersteunende behandeling nodig. Genoegsame vloeistofinname, en kosse soos brood, rys, piesang en appels kan die diarree onder beheer hou. Behandeling sal deur jou dokter begin word indien dit nodig is. In ernstige gevalle, swanger vroue, ouer mense en kinders asook mense wat moontlik komplikasies van die infeksie ervaar, word antibiotikum gebruik om die infeksie te behandel. As jy simptome ervaar is dit belangrik dat jou dokter jou ondersoek.

Hoekom is dit gevaarlik?

Listeria-kan ernstige nagevolge soos breinvliesontsteking, hartspierinfeksie en septisemie (ernstige bloedstroominfeksie) hê. In swanger vroue kan dit voortydse kraam en selfs miskrame veroorsaak. Met kwaai diarree kan ontwatering volg. Veral kinders kan vinnig ontwater. Dit is daarom belangrik om aandag te skenk aan die simptome en vroegtydig daarna te laat kyk.

Is daar iets wat 'n mens kan doen om dit te voorkom?

Goeie higiëne is altyd die beste beginpunt, soos om veral hande te was. Kook alle voedsel deeglik en was alle groente en vrugte behoorlik voor jy dit eet. Gebruik gepasteuriseerde produkte. Hou gaar en rou vleise in verskillende houers en maak seker voedsel en water kom van betroubare bronne.

Foto: Pexels

Dit is belangrik om vroegtydig op te tree as jy moontlike infeksie het. Hou veral kinders dop. As jy twyfel, besoek jou dokter of naaste hospitaal. Dit is ook belangrik om te onthou dat, al het jy baie van of al die simptome, dit nie noodwendig listeriose is nie. Daarom is dit belangrik om jou dokter te gaan spreek as jy siek voel.

  • Nuwe episodes van Dokter-dokter word Maande om 17:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai met heruitsendings op Sondae om 15:00. Die program se eerste seisoen maak amptelik 8 Januarie 2018 klaar.