Stuart Hutchison (25), van Alloa in Skotland, het agt jaar lank teen breinkanker baklei.  

’n Operasie, chemoterapie en bestraling het nie gehelp nie en Stuart se kanker het eindelik na sy bene versprei.

Die jong man het sy finale dae by die huis saam met sy vrou, Danielle, en familie deurgebring, en het op 11 Augustus gesterf, berig news.com.au.

Sy geliefde hond, Nero, is net 15 minute later dood.

Danielle se pa was by die famiie se huis op die dag van Stuart se dood en het opgemerk dat die paartjie se Franse bulhond siek geword het.

Haar pa het met die hond na die veearts gejaag, waar hulle ontdek het hy het ’n gebreekte ruggraat.

Nero is enkele minute ná Stuart dood.“Hy het drie honde gehad, maar hy en Nero was baie geheg aan mekaar,” het Stuart se ma, Fiona Conaghan, gesê.

“Nero was die hond wat altyd saam met hom was.”

Hoewel Stuart se dood verwag is, was dit nog steeds ’n skok toe dit gebeur, sê Fiona. Nero se dood het die situasie nog hartseerder gemaak.

“Danielle was verpletter om hul albei te verloor, maar sy is so sterk,” sê Fiona.

Bronne: Mirror UK, news.com.au, PEOPLE