Gibbon het die afgelope paar weke met verkoue gesukkel voor dit oorgeskakel het in longontsteking. 

Hy is gisteroggend in die Dr. Yusuf Dadoo-staatshospitaal in Krugersdorp opgeneem nadat dokters bekommerd geraak het oor sy longe.

Die sanger, Gibbon, is vanoggend in die jong ouderdom van 35 oorlede. Foto: Facebook

“Die suurstofvlakke in sy bloed was baie laag en dit het gewys sy longe is besig om in te gee,” sê Arita Addinall, Gibbon se agent en jare lange vriendin, aan Huisgenoot.   

Volgens Arita het Rea, Gibbon se vrou, hom gisteraand gevra om vir haar ’n WhatsApp-boodskap te stuur sodra hy vanoggend wakker word. Toe sy teen halfsewe nog niks van hom gehoor het nie, het sy hom probeer bel, maar geen antwoord gekry nie.

Gibbon en sy vrou, Rae. Foto's: Facebook

Sy het toe die hospitaal gebel en die verpleegsuster het haar ingelig hy is oorlede. 

“Volgens die dokters was dit dubbele longontsteking,” sê Arita. 

Hy word oorleef deur sy vrou en twee seuns, Jhuvann (11) en Wiann (9). 

Gibbon saam met sy seuns, Jhuvann en Wiann

“Gibbon was so ’n positiewe mens en hy het ’n indruk gemaak op almal (met wie hy in aanraking gekom het),” sê sy musiekvervaardiger, Chrissie Kletz.

Gibbon het drie albums uitgereik: God se Boemelaar, Ek Belowe en Duisende Maskers. 

“Hy was ’n kranige liedjieskrywer. Ons gaan hom verskriklik mis,” sê Chrissie. 

Gibbon het in totaal drie albums uitgebring