WCJB TV20
WCJB TV20

Die wenner van die Kaliforniese lotery se SuperLotto Plus-boerpot van sowat $26 miljoen (R368 miljoen) het haar wenkaartjie in ’n broeksak gelos en toe dié paspoort na ’n sorgelose, weelderige lewe in haar wasmasjien vermorsel.

Die wenkaartjie is in November by ’n motorhawe-winkel in Norwalk in die Los Angeles-distrik gekoop, en die afgelope Donderdag was die laaste dag waarop die houer daardie reusekontantprys kon gaan opraap. Maar dit het onopgeëis gebly.

Esperanza Hernandez, ’n werknemer van die winkel, het aan die Amerikaanse media vertel die koper van die wenkaartjie was ’n vrou en dat hulle haar op hul veiligheidskameras vasgevang het. En sy het kort voor die opeis-spertyd weer by hulle opgedaag en verduidelik dat sy die kaartjie kwyt is toe sy haar wasgoed gewas het.

Die vrou het vertel hoe dit net te laat was toe sy na haar kaartjie gaan soek: Haar klere was reeds deur die wassiklus, en toe sy die broek uithaal, was daar net flentertjies oor van wat vir haar ’n wonderlike nuwe lewe kon gewees het. 

Die winkel het wel hul videomateriaal aan die Kaliforniese lotery se beamptes oorhandig, maar ’n loterywoordvoerder het verklaar dat dit nie toelaatbare getuienis is nie; volgens hul reëls kon die wenner nie met sulke beeldmateriaal van ’n derde party geverifieer word nie.

As die wenner byvoorbeeld 'n foto geneem het van die kaartjie in een stuk, sou sy wel nou in die geld gerol het.

Net vier pryse van $20 miljoen of meer van dié lotery het in meer as 23 jaar onopgeëis gebly.

Onopgeëisde prysgeld word aan skole geskenk. Foto:
Onopgeëiste prysgeld word aan skole geskenk. Foto: Facebook/California Lottery

Ten minste sal die ongelukkige wenner van die jongste boerpot nou kan sê sy het 'n gul bydrae tot die onderwys gemaak: die reëls bepaal dat sulke onopgeëiste prysgeld na Kaliforniese skole toe gaan. 

Bronne: abcnews.go.com, whittierdailynews.com, wcjb.com, YouTube

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe