Ds. Willem Lotter, Nicolette se oom, het aan Huisgenoot bevestig hy is van Nicolette se parool in kennis gestel.

Nicolette Lotter (38), nou Nicolette Nortjé nadat sy op 5 Oktober 2018 met Rian Nortjé (34) van Gauteng in die gevangenis getroud is, het Dinsdag by sy huis aangekom nadat sy ná 12 jaar agter tralies op parool vrygelaat is.

Nicolette Lotter het gestraal toe sy met Rian Nortjé, ’n veiligheidswag van die Oos-Rand, trou. Foto: Verskaf

Na verneem word het owerhede haar na die Oos-Rand gebring waar sy haar nuwe lewe saam met Rian sal begin.

Rian het Nicolette se parool aan Huisgenoot bevestig. Hy het gevra dat hul privaatheid in dié tyd gerespekteer word.

Nicolette mag kragtens haar paroolvoorwaardes nie met die media praat nie.

Sy is in 2012 tot 12 jaar tronkstraf gevonnis vir die moorde op haar ouers, Riekie (52) en Johnnie (53) Lotter, in die welgestelde buurt Westville.

Johnny en Riekie Lotter is deur hul kinders vermoo
Johnny en Riekie Lotter is deur hul kinders vermoor.

Sy is kort ná die moorde aangekeer en reeds sedert 2008 agter tralies.

Nicolette Lotter was in die vroueafdeling van die Westville-gevangenis in Durban.
Nicolette Lotter is nou ook vrygelaat. Foto: Gallo Images/Foto24/Bongiwe Gumede

’n Familiedlid van die sibbes wat verkies om anoniem te bly, het nie geweet Nicolette is vrygelaat nie.

“Ek hoop Nicolette kry al die nodige hulp en haar man kyk mooi na haar en dat sy ’n stabiele huislewe sal hê.”

Nicolette se jonger broer, Hardus (32), is reeds in Maart 2018 op parool vrygelaat. Hy is tot 10 jaar tronkstraf gevonnis.

Die familielid vertel Hardus het baie berou getoon oor sy dade en dit gaan onder die omstandighede goed met hom.

“Hy werk hard met rekenaars en hy probeer alles om sy lewe reg te maak. Hy is met tye 'n bietjie depressief, maar hy probeer.”

Haar broer, Hardus.

Die familielid hoop Nicolette sal dieselfde kan doen.

Sy het in 2017 in ’n roerende brief aan Huisgenoot vergifnis gevra, veral aan haar en Hardus se middelsus, Christelle.

Christelle wil vandag steeds niks met haar en Hardus te doen hê nie. Sy wil ook nie daaroor praat nie en die tragiese gebeure in die verlede los.

Mathew Naidoo van Phoenix, Durban, wat ten tyde van die moorde aan Nicolette verloof was en deur die hof as die meesterbrein agter die moorde bestempel is, dien ’n lewenslange vonnis in ’n gevangenis in KwaZulu-Natal uit.

Mathew Naidoo, Nicolette se eertydse verloofde, wat ook tronkstraf uitdien.

Hy het vroeër vanjaar uit die bloute na Huisgenoot se kantore in Johannesburg gebel en aan Huisgenoot volgehou hy is onskuldig agter tralies.

Mathew het homself vererg toe Huisgenoot se joernalis vra of hy dan geen berou oor sy rol in die moorde het nie.

“Ek kan nie berou hê vir iets wat ek nie gedoen het nie,” het hy teruggekap.

Dit terwyl regter Shyam Gyanda destyds in die Durbanse hooggeregshof bevind het hy het homself as “die Derde seun van God voorgedoen” en hulle maande lank gemanipuleer en gebreinspoel "om die werk van God te doen" deur hul ouers te vermoor.

Rian en Nicolette se verhouding het ná maande van telefoonoproepe in April “romanties” geraak.

Dit was Huisgenoot se dokumentêre program Huisgenoot ware lewensdramas wat Nicolette en Rian einde 2017 bymekaar gebring het.

Rian het destyds aan Huisgenoot vertel dit het hom so aangegryp dat hy na Nicolette en Hardus wou uitreik om hulle te ondersteun.

“Dit was asof die Here wou hê ek moes daardie program kyk,” het hy toe vertel. Rian het vertel hy oordeel Nicolette nie vir haar verlede nie en het lief geraak vir die “kosbare, fantastiese” mens wat sy is.

Nicolette het hom van die telefoonhokkie in die gevangenis begin bel. Van daar het hulle eers hegte vriende geraak. Sy het vir hom armbande van papier in die gevangenis gemaak en vir hom liedjies geskryf. Sy het net onderskeidings vir haar studie in teologie agter tralies verwerf.

In Julie 2018 het Rian vir haar gaan kuier en haar die jawoord gevra.

Hy het toe gesê: “Ek voel hulle (Nicolette en haar broer) het hul straf gehad. ’n Mens moet mos ’n tweede kans in die lewe kan kry. Ek wil dit vir haar gee. Ek het haar uit my hart uit lief. Ek sal enigiets vir haar doen.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe