Dr. Philip Venter, leraar by die Veritas Gemeenskapskerk op die dorp, het sy skok en hartseer soos volg op Facebook uitgespreek: “Verlede week het ek my vriend Jan Mouton se vrou begrawe. Gisteraand (Donderdag) het hy verongeluk. My hart is baie seer.”

Jan en sy vrou, Nedine, was in hul laat 40’s. Jan, of Rooijan soos hy bekend was, was ’n sammajoor in die tegniese afdeling van die lugmagbasis buite die dorp. Philip het telefonies aan Huisgenoot vertel Nedine het haar stryd teen kanker vroeg in Mei verloor.

Die kanker is sowat twee jaar gelede by Nedine gediagnoseer. Philip het haar op Dinsdag 7 Mei vanuit die Volle Evangelie Kerk op die dorp begrawe.

“Daarna was daar gereelde kontak tussen my en Rooijan waar ek hom gesteun en met berading bedien het,” vertel Philip.

“Hy was emosioneel en verpletter, maar het deur dit alles nie sy humorsin verloor nie.”

Die afgelope Sondag (12 Mei) was Philip met die oggenddiens besig toe daar skielik ’n groot gebrul van ’n enjin buite die kerk is.

“Oomblikke later het Rooijan ingestap, met sy motorfietsklere aan, om die erediens by te woon,” vertel hy.

Ná die erediens het Jan aan Philip sy nuwe motorfiets, ’n 1000 cc- Honda Africa Twin, gewys. Daarna het hulle tee gedrink en gekuier. Jan het Donderdagaand met die einste motorfiets op die pad tussen Louis Trichardt en Polokwane gesterf.

Philip het nie veel besonderhede oor die ongeluk nie, behalwe dat Jan glo gegly en geval het. ’n Ander motor het toe bo-oor hom gery en hy is op die toneel oorlede. Philip sê die egpaar het twee seuns; Jacques (28) woon in Pretoria en Wynand (21) in Thailand.

Geen begrafnisreëlings is nog getref nie.