Amelia Delport
Amelia Delport is verpletter ná die dood van haar dogter, Denise du Toit. Al het Denise gesondheidsprobleme gehad, glo Amelia sy is weens ’n gebroke hart oorlede. Foto: Luba Lesolle/Gallo Images

Die stoep van die plaashuis in die skadu van die Soutpansberg bied vandag skrale uitkoms teen Limpopo se bosveldhitte, wat soos ’n swaar, versmorende kombers oor alles hang. Dis kompleet asof ’n genadelose son die laaste bietjie lewe uit mens, dier en plant wil suig.

Die droewighed rem swaar aan Amelia Delport se mondhoeke en skouers hier waar sy oor die werf tuur. Haar lyftaal spreek van die smart in haar moederhart.

Want die afgelope maande en weke moes die 55-jarige vrou hulpeloos toekyk hoe haar dogter tot die dood toe treur. Trouens, Amelia glo haar geliefde dogter het haar doodgetreur.

“Die ergste was om hulpeloos te moes kyk hoe my dogter dag ná dag agteruitgaan. Sy het nog gelewe, maar die dood was reeds in haar oë.”

Amptelik is Denise du Toit (36) weens nierversaking oorlede. Maar by haar familie is daar geen twyfel nie dat die jong weduwee van Louis Trichardt ook aan ’n gebroke hart gesterf het.

“Die ergste was om hulpeloos te moes kyk hoe my dogter dag ná dag agteruitgaan. Sy het nog gelewe, maar die dood was reeds in haar oë,” vertel Amelia.

Teen die einde was daar van haar mooi dogter net ’n dop oor. “Ek het my dogter nie meer herken nie; sy het soos ’n lewende geraamte gelyk. Ek kon net hulpeloos vir die dood wag om haar te kom haal.” 

Denise se uitgerekte sterfbed is die tweede toneel van ’n dubbele treurspel, en volgens Amelia die gevolg van die tragedie wat dit vooruitgeloop het. Want in Januarie vanjaar is Denise se man, Awa du Toit (35), oorlede ná ’n fratsongeluk op ’n springmat, en daarna het Denise haar wil om te lewe verloor en haar oorgegee aan haar smart. 

“My kind is saam met Awa dood, al het sy ná sy dood nog 10 maande daarna nog asemgehaal. Sy het nooit regtig weer geleef nie. Sy wou nie meer eet nie, en soggens wou sy nie uit die bed opstaan nie,” vertel Amelia. 

Vir Amelia was haar skoonseun se dood ses dae ná die springmatongeluk ’n groot skok. Om haar dogter se smart en selfvernietigende rouproses te aanskou was ewe hartverskeurend.

En toe, sowat ses maande ná Awa se dood, kom nog ’n skok: Nierversaking word by Denise gediagnoseer. Maar die jong weduwee wou nie teen die siekte veg nie. Sy wou nie voorgeskrewe medikasie neem nie, het haar doktersafsprake telkens gekanselleer en wou geen mediese prosedures ondergaan nie.

“Ek het haar weke en maande lank bly smeek: Asseblief, my kind, eet net iets, enigiets. Probeer net. Mamma kan jou nie so sien nie . . .

“Maar tevergeefs,” vertel Amelia.

“Want elke keer wanneer dit lyk asof sy gaan opstaan, het sy net weer op die bed neergesak. Dan sou sy dae lank huil en sê: ‘Los my; ek wil net by Awa wees.’”

Die stilte op die oondwarm werf gee ’n somberheid aan Amelia se vertelling. 

Haar eksman, Desmond (60), vertel hul dogter het voor Awa se fratsdood 67kg geweeg. Maar toe haar einde skaars 10 maande later kom, het sy slegs 28 kg geweeg nadat sy haarself laat wegkwyn het.

“Sy was ’n sak bene,” vertel hy. “Ek het hard met haar gepraat . . . Ek het vir haar gesê ons is reeds stukkend; sy moet terugbaklei. Maar sy wou nie. Sy wou net weer in sy arms wees.” 

Op 14 November het die veerligte Denise haar laaste asem hier in haar eie slaapkamer uitgeblaas. 

“My dogter het haarself doodgetreur,” beklemtoon Amelia weer. “Ek gee nie om wie wat sê nie; dit was haar gebroke hart wat haar so vroeg van ons kom wegruk het.”

Amelia Delport
Vir Awa was Denise ’n koningin; Denise was sy álles, vertel Amelia. Foto: Verskaf

‘Ons wag al lank vir haar dood’

Die ouerpaar is besonder lief vir die sag-op-die-oog uitkyk oor die berg en die bosveldbome hier van hul stoep af. Dis hul plek van vrede.

Maar deesdae sien Amelia nie die natuurskoon raak nie.

“Ek sien nét Denise se lewelose liggaam. As ek my oë toemaak, sien ek haar daar lê op die bed. Koud en stil . . . Of ek sien haar daar in ’n yskas in die lykshuis, grys en sieklik. Dit jaag my.” 

Amelia en Desmond is baie jare gelede al geskei. Denise en Awa het saam in ’n huurhuis op ’n hoewe gewoon. Nadat Awa dood is, het Amelia by haar dogter op die einste huurhoewe gaan woon. Denise het ophou werk omdat Awa kon sorg.

Maar nadat Amelia afgelê is en Denise se geld opgedroog het, kon hulle die huurhuis nie meer bekostig nie; daarom is hulle na Desmond op die plaas. Hy het hulle met ope arms verwelkom, al is hy van Amelia geskei.

“My hart breek vir hierdie vrou,” sê Desmond oor Amelia en hy begin onbedaarlik huil.  “Sy het haar lewe aan ons kind gewy,” verduidelik hy.

Want dieselfde dogter wat haar lewenswil so skielik ná die dood van haar man verloor het, het as ’n baba kanker gehad en toe met haar kinderlyfie kliphard teen die siekte baklei. 

“Ons het 37 jaar gewag dat Denise doodgaan, maar hoe dit eindelik sou uitspeel, het ons nooit verwag nie,” sê Desmond oor sy dogter se lewensreis nadat kanker ’n skadu oor haar babadae gewerp het.

Denise was net vyf maande oud toe ’n seldsame kanker by haar gediagnoseer is. Die dokters se prognose was dat sy nie baie lank sou lewe nie, maar hulle het haar veglus onderskat. 

Amelia Delport
Amelia moes magteloos toekyk hoe Denise se siektetoestand daagliks versleg en sien nog nie ’n weg na afsluiting oor die tragedie nie. Foto: Luba Lesolle/Gallo Images

Op die ouderdom van vyf jaar is sy kankervry verklaar nadat sy twee operasies ondergaan het, asook chemoterapie en bestraling.

“Dokters het ons destyds al op haar dood voorberei,” onthou Amelia. “Maar toe sy herstel, het ons gedink ons moet die gelukkigste ouers op aarde wees. Daar was wel vrese dat dit kon terugkeer. Dokters het ons daarteen gewaarsku.

“Daarom sê Desmond ons het vir só lank haar dood verwag . . . Maar watter wreedheid die toekoms regtig sou inhou, dit kon ons nie raai nie.”

Weens die bestraling het Denise as klein dogtertjie een van haar niere verloor en is daar ook vir haar gesê sy sal nooit kinders kan hê nie.

Denise het Awa in 2009 ontmoet. Die twee was “dadelik smoorverlief” en het ’n jaar later getrou. Awa het met die herwinning van skrootmateriaal gewerk en Denise as boekhouer, maar sy was ’n huisvrou nog voor Awa se dood en die jonggetroudes het hulle saam op Louis Trichardt gevestig.

“Hy was my kind se álles,” vertel Amelia. “Jy sou hulle nooit iets apart sien doen nie. Een kyk van hom het haar gesmelt, en hy het haar op die hande gedra.

“Hy wou graag  ’n pa wees, maar het in sy hart geweet Denise sal nooit vir hom kinders kan gee nie. Tog het hy haar soos ’n koningin bly behandel.”

“Dokters het ons destyds al op haar dood voorberei. Maar watter wreedheid die toekoms regtig sou inhou, dit kon ons nie raai nie.”

Die twee was in Januarie vanjaar met vakansie in Johannesburg toe Awa ernstig beseer is in ’n trampolienpark. Hy het glo ’n toertjie uitgevoer voor hy op sy nek te lande gekom het.

Medici het bevind sy sesde en sewende nekwerwels is gebreek. Die verskuiwing van die werwels het veroorsaak dat die murg en senuwees afgesny is. Awa is ná ses dae in die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg dood. 

En toe kom die covid-19-pandemie en die inperking, en Denise moet haar man se dood probeer verwerk terwyl die ganse wereld na binne keer . . .

“Jy moes Denise gesien het kort ná sy dood.Sy was stukkend, maar sy wou fight. Al kon sy haar nie ’n lewe sonder hom indink nie, wou sy eers nie gaan lê nie.” 

Eers was dit ’n dag, later ’n week, en toe ’n maand. Ek het gesien hoe sy voor my wegkwyn. Sy sou ure lank alleen in haar kamer lê en huil.

Ma en dogter is toe terug na die huurhuis buite Louis Trichardt wat hulle met Awa gedeel het. Amelia was bekommerd oor haar dogter, want sy kon sien sy trek swaar. Maar sy het aanvaar dat Denise deur ’n rouproses gaan en nie vermoed dat sy dalk ook besig was om ernstig siek te word nie.

Die inperking het verbygesleep – ’n seer, swaar tyd. 

Vier maande gelede kon ma en dogter nie meer hul huur bekostig nie en Desmond het sy eksvrou en dogter terug in sy plaashuis buite Louis Trichard verwelkom.

Dit was eers toe hulle terug hier op die plaas was dat Amelia begin besef het haar dogter wil nie gesond word nie.

“Sy het net skielik ophou eet,” vertel Amelia. “Eers was dit ’n dag, later ’n week, en toe ’n maand. Ek het gesien hoe sy voor my wegkwyn. Sy sou ure lank alleen in haar kamer lê en huil.”

Amelia Delport
Denise het nooit haar man, Awa, se dood verwerk nie, sê haar ma. Foto: Verskaf

Denise het ook algaande haar begrip van die werklikheid verloor. 

“Wanneer ek haar soggens of saans gaan wakker maak, was haar eerste vraag aan my: ‘Mamma, waar is Awa?’ Maar Awa was dood, en ek moes dit keer op keer vir haar sê. Sy wou nie meer bestuur of kos maak nie. Sy wou nét slaap, want in haar droomwêreld kon sy weer by haar man wees.” 

Denise het later weens ondervoeding so swak geword dat Amelia en Desmond haar na buite moes dra wanneer sy onder die bome wou sit. Dis toe dat haar ouers haar in die motor gedwing en na ’n plaaslike dokter geneem het. 

Sy diagnose was nierversaking, en hy het verduidelik haar organe is besig om in te gee omdat haar toestand nie behandel word nie. 

“Sy moes nierdialise kry en allerhande skanderings ondergaan in ’n poging om haar lewe te red – maar sy wou nie,” vertel Amelia.

“Sy het geweier en hard met ons baklei en ons beveel om haar huis toe te neem. Sy het gesê sy wou nie pille drink nie; sy wou nie aan masjiene gekoppel wees nie. Sy wil net by haar man wees.”

Die onafwendbare dood

Hulle is terug plaas toe met hul dogter, min wetend dat sy binne maande dood sou wees.

Ek het haar gesmeek om op te staan en in die motor te klim, maar sy wou nie.

Dit was ’n hartverskeurende tyd vir die ouerpaar, wat hul bes gedoen het om haar te versorg en te oorreed om tog mediese hulp te aanvaar. 

Amelia vertel sy het talle doktersafsprake vir haar dogter gemaak, maar wanneer dit tyd was vir die rit dorp toe, het Denise geweier uit haar kamer te kom. Dan het Amelia die afspraak herskudeleer, net om weer deur dieselfde drama te gaan, en met dieselfde eindresultaat. 

“Ek het met haar baklei,” onthou Desmond. “Ek het vir haar gesê sy maak ons hartseer; sy breek ons. Ek het haar gesmeek om op te staan en in die motor te klim, maar sy wou nie. Sy wou elke keer net verdwaas weet waar haar man is.” 

Wanneer hulle oor haar siektetoestand gepraat het, het Denise woedeuitbarstings gehad, vertel haar ma. “Sy sou huilend vir my skree: ‘Los my net uit! Wat verstaan jy nie?’ Ek sou vir haar sê: ‘My kind, Mamma wil jou net help.’ Dan het sy omgedraai en verder geslaap.” 

Amelia Delport
Amelia en haar eksman en Denise se pa, Desmond. Hy vertel sy hart breek vir Amelia, want sy “het haar lewe aan ons kind gewy”. Foto: Luba Lesolle/Gallo Images

Sy het in die laaste drie maande van haar lewe byna niks geëet nie, vertel Amelia. Ook sý huil nou onbedaarlik, nes Desmond vroeër. 

“My kind was honger,” sê sy. “Sy het gekla van hongerpyne, maar sy wou nie eet nie. Sy wou nie water drink of medikasie neem nie. Sy wou nie lees of gesels nie. Ek moes toekyk hoe sy elke dag nader aan die dood kom. Die ergste was om te weet daar is geen medikasie wat ek vir haar kan gee om haar gebroke hart heel te maak nie; ek kon Awa nie terugbring nie.” 

Ek het nog nooit ’n mens so stukkend gesien nie. Al wat ek kon doen, was om haar langs haar te gaan sit en haar vas te druk.

In die week voor haar dood het Denise nie een keer uit haar kamer gekom nie. Amelia is die oggend van haar dood vinnig dorp toe, maar met haar terugkeer moes Desmond aan haar die versriklike nuus gee: hul dogter is weg.

“Ek het in die bosse ingehardloop,” onthou Amelia. “Ek het net bly skree: ‘My kind, my kind!’”

Desmond is agter sy eksvrou aan. “Ek het haar tussen die bosse plat op haar rug op die grond aangetref. Ek het nog nooit ’n mens so stukkend gesien nie. Al wat ek kon doen, was om haar langs haar te gaan sit en haar vas te druk.”

’n Ouer se seer en selfverwyt

Later, langs haar kind se lewelose liggaam onder die koue elektriese lig van die dorp se lykshuis, het Amelia opnuut geknak.

“Daar is soveel emosies, ook woede,” sê sy. “Haar hart is nou heel; sy is met haar geliefde herenig. Maar wat van ons? Ons is stukkend . . .” 

Desmond praat vertroostend met haar. “Jy het jou alles gegee, jou beste gedoen. En onthou, nou het sy nie meer pyn nie.” 

Maar Amelia reageer met selfverwyt: “Maar het ek werklik alles gegee? Dalk moes ek haar maar in die kar geboender het; dalk moes ek nooit na haar geluister het nie.” 

Sou dit gehelp het? Dit weet sy nie.

“Maar ek weet hoe mense my gaan stenig; hoe hulle gaan sê dis my skuld . . . Maar hulle ken nie my kind nie. Hulle het nie gesien hoe sy ure sonder ophou huil nie. Hoe sy snags wakker skrik en dink haar man is langs haar; hoe sy haar verbeel sy hoor hom. 

“Haar hart was meer as net gebroke; dit was aan flarde. Sy wou eenvoudig nie ’n lewe sonder hom hê nie.” 

Amelia Delport
Awa is in Januarie dood ná ’n fratsongeluk in ’n trampolienpark. Foto: Verskaf

Vroeër op die dorp het die algemene praktisyn, dr. Casper Venter, afsonderlik teenoor Huisgenoot bevestig dat nierversaking die oorsaak van Denise se dood was. “Ek het ontsettende empatie met haar ouers en my hart breek omdat ek weet hoeveel seer daar was, maar ’n gebroke hart het nie tot haar dood gelei nie.”

Hy bevestig sy is oorlede omdat haar nierversaking nie medies behandel is nie.

Ook Casper vertel Denise het verskeie aanmanings om ’n spesialis te spreek, en om nierdialise te kry, verontagsaam.

“Die onbehandelde toestand het mettertyd daartoe gelei dat haar organe almal ingegee het. Daar was verskeie opsies op die tafel, soos onder meer behandeling in ’n provinsiale hospitaal, maar dis van die hand gewys, al het sy kennis gedra oor die erns van haar toestand.” 

Op 23 November is Denise op Louis Trichardt begrawe. Sy rus nou in die boesem van die aarde, waar sy geen verlange na Awa meer ken nie. Maar vir haar gebroke ma is daar nog geen vrede nie; geen sigbare pad na afsluiting nie. 

En haar afskeidswoorde hang selfs ure ná die onderhoud swaar in die lug: “Sommige dae wil ek self nie opstaan nie. Soms kan ek nie onthou hoe ek uit die bed gekom het of hoe ek op ’n sekere plek beland het nie.”

So asof die geskiedenis hom herhaal. 

En dan, asof sy haarself probeer oortuig, voeg sy by: “Maar ek sal oukei wees. Ek dink so. Ek moet net.” 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe