Mienke het in Augustus 2017 aan haar melk verstik by haar dagmoeder in Mbombela en is sedertdien gestremd. Sy het 15 minute lank nie asemgehaal nie terwyl dokters probeer het om haar hart weer aan die klop te kry. 

Karlien het dié video op haar Facebookblad gedeel en gesê sy volg Mienke en haar gesin se storie die afgelope paar maande en hulle het haar nuwe hoop gegee, want Mienke is werklik ’n wonderwerk. 

Vandag kan Mienke nie sluk nie en hoewel sy amper twee jaar oud is ook nie sit nie. Tog sê haar ouers, Ryno en Verna, dié jongste poppie van hulle is ’n wonderwerk.

“Ons het nie geweet sy het ’n liedjie vir Mienke geskryf nie. Iemand het die video op my Facebook gedeel en toe ek daarna luister het ek net gedink, wow. Ek het hom nou al ’n paar keer geluister en ek huil maar lekker saam elke keer,” sê Verna aan Huisgenoot.com. 

Sy sê dit is vir hulle regtig ’n baie spesiale liedjie en het Karlien bedank vir die opregtheid van haar hart. 

Karlien sê dié liedjie kom reguit van die Here af. “Dit was asof die Here my gestoot het. Ek het dit binne 10 minute geskryf, dit was asof die woorde en melodie reeds daar was,” sê sy aan Huisgenoot.com. 

Karlien, wie self ’n ma is, sê haar dogtertjie Karlishé het drie weke gelede verstik en sy het haarself boeglam geskrik. “In daai oomblik het Mienke se verhaal deur my kop geflits. Karlishé is toe darem oukei, maar die volgende dag toe skryf ek Mienke se lied.” 

Karlien sê Mienke se verhaal is ’n lig op haar pad. “Ek is ’n depressielyer en soveel keer het ek krag uit Mienke se verhaal en vordering geput.” 

Sy sê sy weet daar lê nog baie wonderwerke op dié kleinding se pad vorentoe.