En net so dramaties soos Yolandi Botes se dood was haar roudiens.

In die kapel in Brakpan klou haar ma, Ria van Deventer, gebukkend aan die swaar geelhoutkis vas. Voor ’n groot, geraamde foto van Yolandi snik twee jong halfsussies – die oudste van haar drie dogters. Later brul meer as 100 motorfietse buite in ’n erewag – ’n laaste, lawaaierige groet. 

Huisgenoot kon nie die roudiens bywoon nie, maar kon wel na ’n regstreekse uitsending van die diens kyk. Weens die covid-inperking is slegs nabye familielede in die kapel toegelaat. 

Onder die klein groepie rouklaers in die kapel is een man wat geen emosie toon nie: Donovan*, Yolandi se eksman en die pa van een van die huilende sussies.

Hy is ook die pa van haar jongste dogter, wat nie vandag hier in die kapel is nie.

Past. Rianie Pretorius, 'n familievriendin, lei Yo
Past. Rianie Pretorius, 'n familievriendin, lei Yolandi se roudiens.

Sy gesigsuitdrukking is strak; sy liggaamshouding gespanne.

Maar tydens ’n eksklusiewe onderhoud die vorige dag maak Donovan geen moordkuil van sy hart nie. Om sy dogters oor die grusame dood van hul ma in te lig was die taaiste ding wat hy nog ooit moes doen. Maar oor sy huwelik met Yolandi sê hy skreiend eerlik: “Ons was nege jaar saam: agt en ’n half jaar te veel.”

Yolandi se ma, Ria, het vroeër aan Huisgenoot vertel sy was op pad om haar en Donovan se dogters te gaan besoek nadat sy op 26 April van George op die O.R. Tambo-lughawe aangekom het. Kort nadat ’n Uber-huurmotor haar van die lughawe af by ’n nabye winkelsentrum, The Square in Boksburg-Wes, afgelaai het, het sy in ’n onbekende privaat motor geklim – en is sy nooit weer lewend gesien nie.

Maar Donovan vertel sy het kort nadat sy geland het haar kuier met hul kinders gekanselleer – glo weens ’n “vergadering”.

En terwyl Yolandi volgens Ria gereeld van haar en haar tweede man se tuiste in Danabaai na die Oos-Rand gereis het om vir haar kinders te gaan kuier, vertel Donovan: “Sy het die afgelope sewe jaar net drie keer vir hulle kom kuier.”

Haar versoeke dat hy hul kinders vir vakansies na haar en haar nuwe man, Wietzue Botes, stuur, het Donovan volstrek geweier. 

Die raaisel rondom Yolandi se verdwyning het verdi
Die raaisel rondom Yolandi se verdwyning het verdiep toe ’n bloedspoor in ’n gastehuis naby die O.R. Tambo-lughawe ontdek is. Foto: Papi Morake

Kort voor Huisgenoot se druktyd het die polisie nog niemand in hegtenis geneem vir die moord op Yolandi nie. Die polisie ondersoek ook nog die moontlikheid dat sy in ’n gastehuiskamer in Kempton Park vermoor en opgesny is voor haar oorskot in die Vaalrivier naby Villiers in die Vrystaat gegooi is.

Die uitslae van forensiese toetse op die bloed wat in die kamer van die Oceanic Lodge gevind is, is nog uitstaande. Intussen moes Donovan die afgelope maand sy en Yolandi se twee kinders emosioneel ondersteun; dit was ’n traumatiese tyd vir hulle.

Die sussies woon saam met hom en sy tweede vrou, Jesse*, aan die Oos-Rand.

“Die jongste is baie emosioneel. Dié ding spook snags by haar. Sy is ’n sterk kind, maar dit vat aan haar. Die oudste het ook ’n baie moeilike tyd; ek reken daar was ’n sterker verbintenis met Yolandi,” vertel Donovan in ’n Oos-Randse restaurant. Maar dit help nie om die waarheid vir die kinders weg te steek nie, veral vir die oudste . . .

“Al rede hoekom ek vandag hier sit, is oor al die bulls*** wat daar buite op elke mediaplatform versprei word. Ons kon die jongste tot dusver beskerm, maar haar suster is oud genoeg om te besef haar ma is opgekap; sy is geslag.

“Ek en Jesse kan dit van haar probeer weghou, maar haar vriende sal haar vra: ‘Was dit jou ma in daardie Kempton Parkse kamer?’ ” En hoe moet hy antwoorde gee op die vrae wat die hele land én die polisie nog laat kopkrap?

Yolandi en haar dogters.
Yolandi en haar dogters.

Dit is laatoggend en nog stil in die restaurant. Plek-plek staan kelners verveeld rond, maar elektroniese dansmusiek pols reeds oor die luidsprekers. Hier waar ons in die rookarea sit, bestel Donovan eers ’n koue bier voor hy verder praat. Hy en Jesse is nou al sewe jaar bymekaar en het nog ’n kind saam.

Oor sy en Yolandi se duidelik onstuimige huwelik wil hy nie uitbrei nie.

“Wat ook al tussen my en haar gebeur het, het gebeur.”

Hy wil ook nie kommentaar lewer oor bewerings dat Yolandi voorheen ’n eksotiese danseres en sekswerker was nie.

Vir Jesse het Donovan net lof. Volgens hom was hy nog net ’n jaar in ’n verhouding met haar – en nog nie met haar getroud nie – toe sy dogters haar reeds “mamma” begin noem het.

“Wat Jesse betref, is sy hul ma, en is sy al die laaste sewe jaar. Sy is die een wat altyd daar is, wat hulle versorg, wat soggens wakker geword het wanneer hulle huil of siek is.”

Yolandi se oudste dogter, met wie sy swanger geraak het voor haar huwelik met Donovan, woon elders aan die Oos-Rand, en Donovan het nie gereeld kontak met haar nie. Hy vertel sy twee dogters by Yolandi het beskermd grootgeword en dat Yolandi se moord veral die oudste ontstel het.

“Sy is seergemaak; sy verstaan nie. Ek en my kinders is baie na aan mekaar – veral my dogters. Ek was immers die enigste konstante in hul lewe.”

Yolandi se oudste dogters huil by haar kis.
Yolandi se oudste dogters huil by haar kis.

Hy wil nie bespiegel oor die omstandighede van sy eksvrou se dood nie. “Ek gaan niks slegs oor Yolandi sê nie. Wat gebeur het, is wreed en moet met niemand gebeur nie. Ek gee net die feite.”

Maar hy hou vol: Yolandi se reis daardie dag na Gauteng was nie ter wille van hul dogters nie.

Yolandi saam met haar ma, Ria, op hul laaste vakan
Yolandi saam met haar ma, Ria, op hul laaste vakansie saam in Maart vanjaar. Hulle was baie geheg aan mekaar. Foto: Verskaf

“In sewe jaar het sy net drie keer kom kuier. Sy wou gehad het die kinders moes vir haar in die Kaap gaan kuier. Dit het nooit gebeur nie en sou ook nooit nie. Ek sou dit nooit toelaat nie. Ek ken nie vir (haar tweede man) Wietzue nie en ek gee ook nie om om hom te ken nie.

“Ek gee nie om of hy in die tronk of ’n f***** priester was nie. My kinders sou nooit my sig verlaat het nie.”

Donovan lig sy sigaret met ’n gespierde arm vol tatoes na sy mond voor hy praat oor Dinsdag 4 Mei – nege dae ná Yolandi se verdwyning – toe haar kop, hande, arms en een voet in die Vaalrivier gekry is. Die dag toe hy sy dogters moes meedeel hul ma is vermoor.

“Dit was ’n skooldag. Toe ek hoor, het ek en Jesse hulle vroeg by die skool gaan oplaai.”

Sy oudste dogter het dadelik aangevoel iets is verkeerd. “Sy het geweet haar ma word vermis. Sy was bekommerd, en hier kom laai ek haar vroeg by die skool op. So ja, ek moes haar alleen sê. Ek het dit gedoen; ek weet steeds nie hoe nie.”

Hy vryf oor sy hare. “Ek het probeer verduidelik sy is darem nie meer vermis nie.” Dan, afgemat: “Ten minste het Yolandi nou vrede.”

Dít wat die polisieduikers glo van Yolandi se liggaam uit die Vaalrivier gehaal het, het die familie laat veras. Wietzue het nie die roudiens bygewoon nie. Yolandi se dogters het ná die diens buite die kapel gesukkel om hul ma se kis in die lykwa te laat gaan en daaraan bly vashou. 

Donovan het nie sy en Yolandi se jongste dogter na die roudiens geneem nie. Hy wou haar nie verder traumatiseer nie, sê hy. Hy het self net gegaan om hul oudste dogter te ondersteun, sê hy, want hy en Yolandi was lankal nie meer na aan mekaar nie.

Skielik omgekrap sê hy: “My gevoel is, die situasie waarin sy was, sy het haarself daarin gesit. Dit maak my kwaad op ’n manier.”

Donovan skud sy kop ná nog ’n sluk bier.

“As dit liefde was wat sy vir hulle gehad het, dan weet ek nie. Ek weet ék is lief vir my kinders. Alles wat ek nog ooit gedoen het, was vir hulle, en ek sal enigiets doen om hulle te beskerm. Enigiets.”

En as dit beteken hy moet aan die wêreld vertel Yolandi het haar dogters nié op die dag van haar verdwyning kom besoek nie, dan sal hy dit doen. Want met sy kinders het haar tragiese verhaal en wrede dood niks te doen nie. 

* Skuilname. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe